DOKUMENTêRE DRAMA

Die opvoering van Rolf Hochhuth  se toneelstuk Der StelIvertreter (Die verteenwoordiger ) in1963 in Berlyn het ‘n menigte nuwe teaterstukke laat ontstaan wat later deur Peter Weiss die dokumentêre drama genoem is. Die opkoms van hierdie soort DRAMA gedurende die sestigerjare in Duitsland is veroorsaak deur ‘n spesifieke sosiale situasie: in ‘n samelewing wat ‘n reuse sukses behaal het om die verlede te vergeet of te onderdruk begin ‘n dramaturg natuurlik daaroor dink hoe hy sy gehoor kan dwing om weer te staan en luister. Hy oorweeg watter soort bewysstukke hy kan lewer wat één ding nie meer toelaat nie: dat die gehoor van die materiaal wegskram met die verskoning dat dit wat daar op die verhoog gewys word, tog maar net ‘n versinsel, onwerklike poësie is. Só ontstaan die dokumentêre drama uit die nood om ‘n samelewing met sy eie dade te konfronteer.

Dit is dus drama wat gegrond is op dokumentêr bewysbare feite. Hierdie feite en die dokumente waardeur hulle gestaaf word, is egter geselekteer, gerangskik en tot ‘n kunswerk saamgevoeg. Jack Zipes (1967) sê in dié verband: “The documentary dramatist selects an incident … and writes what he considers a truthful, dramatic rendition of this event. From the choice of material to final product: subjectivity plays a dominant role. Documentary, then, denotes the mode of portrayal, not the quality. It reports facts, but only certain facts – investigates, but only those issues which interest it”.

Volgens Peter Weiss is die dokumentêre drama ‘n drama van verslaggewing. Dit weerhou hom van alle versinsels, dit neem outentieke materiaal en gee dit weer met ‘n onveranderde inhoud maar in verwerkte vorm op die verhoog. Dit oefen kritiek uit op versluiering, werklikheidsvervalsing en leuens. Dit is ‘n reaksie op teenswoordige toestande, en dit eis dat hierdie toestande opgeklaar word. Dit mag egter nie die estetiek verontagsaam nie, want ‘n dokumentêre drama wat in die eerste plek ‘n politieke forum wil wees en van artistieke prestasies wil afsien, bevraagteken homself. Die sterkte van die dokumentêre drama Iê in sy vermoë om uit die fragmente van die werklikheid ‘n bruikbare model van aktuele gebeurtenisse saam te stel. Dit bevind hom nie in die sentrum van ‘n gebeurtenis nie, maar neem ‘n analiserende en waarnemende houding aan. Dit Iê feite voor sodat hulle beoordeel kan word. Nie individuele konflikte word uitgebeeld nie, maar houdings wat deur sosio-ekonomiese faktore bepaal word. Dit werk nie met verhoogkarakters en milieusketse nie, maar met groepe, kragvelde, tendense. Buitendien is die dokumentêre drama partydig. Vir so ‘n drama is objektiwiteit in sekere omstandighede ‘n term wat deur ‘n magsgroep gebruik word om sy eie dade te verskoon.

Dramaturge wat benewens Rolf Hochhuth en Peter Weiss dokumentêre dramas geskryf het, is Heinar Kipphardt, Tankred Dorst, Hans Magnus Enzensberger, Rolf Schneider, Günter Grass en Wolfgang Graetz.

Die mees omvattende oorsig oor die dokumentêre drama word deur Arnold & Reinhardt (1973) gebied. Kyk ook Blumer (1977), Hilzinger (1976) en Sallach (1972) en die artikels van Kesting (1967), Carl (1971) en Zipes (1967).

 

Bibliografie

Arnold, H.L. & Reinhardt, S. (Hrsg.). 1973. Dokumentärliteratur. München: Boornberg .

Blumer, A. 1977. Das dokumentarische Theater der sechziger Jahre in der Bundesrepublik Deutschland. Meisenheim: Hain.

Kesting, M. 1967. Völkermord und Ästhetik. Neue deutsche Hefte 113, 14(1).

Carl,  R.P.  1971.  Dokumentarisches  Theater.  In: Durzak,  M. (Hrsg.). Die deutsche Literatur der Gegenwart. Stuttgart: Reclam.

Hilzinger, K.H. 1976. Die Dramaturgie des dokumentarischen Theaters. Tübingen: Niemeyer.

Salloch, E. 1872. Peter Weiss’ ”Die Ermittlung”: zur Struktur des Dokumentar-Theaters.  Frankfurt:  Athenäum.

Zipes, J.D. 1967. Documentary Drama in Germany: Mending the Circuit. Germanic Review, 42.

 

A.N.G. Blumer