EMBLEMATIEK

 

Emblematiek hou verband met die leer van embleme, wat vir sowel die literêre as die kunshistoriese van belang is.

‘n Embleem kan gedefinieer word as ‘n simboliese of sinnebeeldige prent met ‘n uitleg of toeligting in enkele versreëls of in ‘n rympie, maar ook in prosavorm. Die vaste vorm van die embleem in die 16e en 17e eeu was ‘n driedeling in opskrif (MOTTO), ‘n beeld of ‘n prent (pictura) en ‘n onderskrif (subscriptio).

Die embleem, soos dit tans bekend is, het ontstaan toe ‘n hoeveelheid EPIGRAMME van die Italiaanse regsgeleerde en humanis Andrea Alciato (1492-1550) in 1531 as ‘n emblemeboek verskyn het, deurdat Alciato se Duitse uitgewer die inisiatief geneem het en die epigramme van illustrasies voorsien het.

Dit beteken nie dat die wesentlike van die embleem, nl. die geskrewe teks by ‘n plastiese voorstelling, heeltemal vreemd was nie. In die Grieks-klassieke tyd was daar die Griekse epigram wat oorspronklik bedoel was as ‘n opskrif op ‘n grafmonument of gedenkteken. Hieruit het ‘n literêre GENRE ontwikkel, ‘n baie kort op een gedagte toegespitste gediggie wat meestal verbind is met een of ander uitbeelding (Porteman, 1977: 17). Ook die Egiptiese hiërogliewe kan as voorlopers van die emblematiek beskou word. As sodanig sluit die emblematiek ook aan by die RENAISSANCE-tradisie wat Grieks- en Romeins-klassieke kunsvorme laat herleef het. Vanaf 1531, die verskyningsdatum van Alciato se embleemboek, het die embleemkuns ‘n geweldige ontwikkeling ondergaan, en embleemboeke van allerlei soorte het die lig gesien.

Die belangrikste soorte sluit die volgende in:

Godsdienstige. politieke, klassieke en topografiese embleme, em­bleme met FABEL– en mitologiese motiewe, moralistiese, didaktiese en stigtelike embleme. A.G.C. de Vries verwys in sy De Nederlandsche emblemata: geschiedenis en bibliographic tot de 18de eeuw, wat in 1899 verskyn, na een outeur, Cornells Udemans, wat prentjies sonder verse uitgegee het. Laasgenoemde versoek sy leser dan om met sy gedagtes te speel wanneer hy sy verse lees. Dit dui op die gedagte dat die woordkuns implisiet beeldkuns is en dat prentjies en illustrasies nie die enigste middel tot visualisering is nie. In die hedendaagse literatuurbeskouing sou dit waarskynlik as die IKONISITEIT van die gedig beskou word. (Vgl. VISUELE MOMENTE IN DIE LITERATUUR.)

Embleme het nie net didaktiese, stigtelike en estetiese effekte nie, maar bied vir die kultuur-histories geïnteresseerde leser ‘n belangrike blik op die details van bv. die huislike lewe van die mense uit die 16e, 17e en 18e eeu.

Belangrike Nederlandse digters wat hulle op die terrain van die embleemliteratuur begewe het, is o.a. die bekende Jacob Cats (1577-1660), Jan Luyken (1649-1712), Anna Roemer Visscher (1583-1651) en selfs ook Vondel (1587-1679).

Vondel het dikwels i.p.v. kernagtige gesegdes lang prosastukke aan die illustrasies toegevoeg. Sy embleem “De vogel Phoenix” bevat ‘n sg. mitologiese motief.

Seker die bekendste embleemdigter is Cats. Porteman (1977: BO) se dat Cats ‘n “fundamentele emblematische ingesteldheid” gehad het: “Voor hem was alles embleem.” Dit beteken ook dat hy ‘n geweldige verskeidenheid embleme geskryf het, hoewel hy soms ‘n ontaarde emblematikus genoem is, omdat hy die ingewikkelde samespel van motto, prent en onderskrif, waarin elkeen ‘n regmatige plek beklee, nie tot sy reg laat kom het nie. Die prent het soms by hom bloot tot ‘n illustrasie verwater. Cats se emblematiek was veral toegespits op moralisering en gerig op die gewone man.

 

Bibliografie

Cats, J. 1960. Sinne- en minnebeelden: met inleiding en aantekeningen van J. Bosch. Kampen: Kok.

Daly, P.M. 1979. Emblem Theory. Recent German Contributions to the Characterization of the Emblem Genre. Nendelm, Liechtenstein: Wolfenbütteler Forschungen 9.

Knipping, J.B. & Meertens, P.J. 1856. Van De Dene tot Luiken. Zwolle: Tjeenk Willink.

 

Porteman, K. 1977. Inleiding tot de Nederlandse emblemata-literatuur. Groningen: Wolters-Noordhoff.

 

Scholz, B.F. 1988. Jacob Cats’ Silenus Alcibiadis in 1618 and in 1862: changes in word-image relations from the seventeenth to the nineteenth century. Word and Image, 4(1).

J. van der Elst