VORTICISME

Die Vorticisme (Eng.: vortex: draaikolk) is ‘n stylrigting wat hoofsaaklik in die beeldende kunste voorgekom het, maar wat hom tog ook in die Engelse en Amerikaanse literatuur gemanifesteer het. Die Vorticisme het in 1914 ontstaan toe die skilder-skrywer Wyndham Lewis ‘n abstrakte kuns wou vestig in teenstelling met die romantiese en *vitalistiese kunsteorieë. Sy (en ander se) standpunte is gepubliseer in die tydskrif Blast: the review of the great English vortex. Dit het twee uitgawes beleef, een in 1914 en een in 1915.

Vorticistiese kuns is abstrakte kuns. Dit gaan dus nie om ‘n getioue weergawe van die werklikheid nie. Die Vorticisme wou sekere aspekte van die masjien-eeu weergee. In T.E. Hulme se kritiek is die Vorticisme soms sinoniem met die METAFISIESE DIGKUNS. In Ezra Pound se poësie is die Vorticisme parallel aan die IMAGISME.

Die Vorticisme het nie ‘n lang lewe gehad nie – na 1920 het die beweging lewenskrag begin verloor. Afgesien van Ezra Pound, die vroeë werk van T.S. Eliot en die kritiek van Hulme, het dit ook nie ‘n groot invloed gehad nie; “its value for the vorticist, however, lay in its forcing the artist upon his own invention, in its inhibiting his tendency to make art an imitation of nature which would necessarily be inferior to the original. The vortex or whirlpool is energy, but it is energy that has undergone a metamorphosis into form…” sê Preminger in die Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics. Die siening was dat die vorticis ‘n vorm moes skep wat terselfdertyd beweeglik en onbeweeglik was. Die argument tref ‘n mens ook by die formaliste en in die NEW CRITICISM aan. Die kunstenaar moes dus eerder self skep as bloot naboots. Die Vorticisme beklemtoon verder die intellektuele bo die emosionele.

(Vgl. EKSPRESSIONISME, ESTETISISME, FUTURISME en MODERNISME.)

Raadpleeg ook:

Pajalich, A. 1988. The influence of Vorticism on Roy Campbell’s The Flaming terrapin. Potchefstroom: AUETSA. Conference Papers.

Wees, W.C. 1972. Vorticism and the English Avant-garde. Toronto: Toronto University Press.

Weisstein, U. 1973. Vorticism: Expressionism English style. In: Expressionism as an International Literary Phenomenon. Paris & Budapest: Didier & Akadémiai Kiadó.

 
Anna-Marie Bisschoff