REGIONALE LITERATUUR

(Hersien September 2016)

Die literatuur is selde vry van regionale of streekselemente. Iedere situasie of geskiedenis in ‘n literêre teks veronderstel immers ‘n geografiese en sosio-kulturele ruimte. Maatje (1974:129) noem trouens ruimte saam met tyd die mees abstrakte kategorieë vir literêre uitsprake oor die “bestaan” binne die literêre werk. Regionale literatuur kan egter omskryf word as literatuur wat spesifiek ruimtelik-geografies geplaas word en waarin onderskeidende regionale kenmerke ‘n uitdruklike funksie vervul. Verwante terme is o.m. “streekverhale”, “heimatkuns”, “herinneringsverhale”.

Regionale kenmerke word dikwels gemanifesteer in die taal, o.m. deur die keuse van dialektiese of selfs ouer woorde, uitdrukkings, ens. Voorbeelde is o.m. die werk van die Britse skrywers Thomas Hardy en Robert Burns, Boerneef (Afrikaans) en Herman Charles Bosman (Suid-Afrikaanse Engels met ‘n ontginning van die Afrikaanse streekselement). Dit kom ook na vore met die inspan van die folklore, tipiese eienskappe van die streek en sy bewoners of deur die besondere aandag vir die wisselwerking tussen die mens en sy besondere omgewing. Hierdie omgewing is meestal plattelands en dikwels afgeleë hoewel Abraham H. de Vries (2000: 7) tereg waarsku dat ook stede “kontreie in die vorm van buurte, wyke, of omstreke” het. J.C. Kemp (1979:25) wys verder op die moontlikheid van ‘n “regional message” in ‘n werk, d.w.s. ‘n siening of filosofie wat uit ‘n spesifieke lokale leefwyse ontspring. Hy dui verder op die belangrike funksie van die vertelperspektief. Die spreker se verbondenheid met die streek kan nl. wissel van ‘n “binne-situasie” (die mees algemene by regionale literatuur), waar ‘n “ingewyde” aan die woord kom, tot dié van ‘n outsider -– twee pole wat volgens hom dikwels in die New England-skrywer Robert Frost se werk spanning veroorsaak, maar ook bydra tot die kwaliteit daarvan (Kemp, 1979:205-206 e.v.). Herinneringsituasies kom algemeen voor, dié van ‘n verteller wat herwaarderend terugkyk na die streekstoestande waarvan hy vroeër deel was.

Die kunswaarde van regionale literatuur is ‘n omstrede saak. Enersyds gaan dit hier meesal om lokaal-begrensde verskynsels of gebeure met dus ‘n begrensde strekking en in ‘n mate selfs ‘n gerigtheid op ‘n beperkte leserspubliek. Andersins verteenwoordig die kleine dikwels die grote, is die streek middel om tot universele problem en waardes deur te dring (o.a. Brink, 1963: 8). Sowel De Vries (2000:7-9) as Aucamp (1978:86-87) wys op die bedrieglike voorkoms van die “gesellige” regionale vertelling. Dit is dikwels alleen maar skyn en die vertelstrategieë net so gevarieerd en kompleks as in ander literêre werke. Die vraag na “universaliteit” word gereeld as kriterium op hierdie soort literatuur toegepas. Volgens Aucamp kom universaliteit tot stand as ‘n skrywer “’n soort ‘God’s-eye view’ van die menslike kondisie” verkry (Aucamp, 1986: 173). Hierteenoor betwyfel A.P. Grové (1981:4) of ‘n mens nog van “kontreikuns” kan praat wanneer aan hierdie kriterium voldoen word.

Die regionale is sedert die vroegste tye ‘n faktor in die literatuur. In die Romeinse tyd bereik die sg. pastorale of landelike poësie bv. ‘n hoogtepunt in Vergilius se Bucolica (39 v.C.) en Georgica (47 v.C). In die 19de eeu kom dit deels as uitloper van en ook as reaksie op die Realisme en Naturalisme sterk na vore in die Wes-Europese literatuur en daar is sprake van ‘n regionalistiese stroming, die Regionale Realisme. In onder meer de Duitstalige landen, maar ook Boheme, Hongarye, Serwië, Kroasië en Griekeland gaan skrywers op soek na die nasionale identiteit en nasionale gees, iets wat hulle meen op die platteland die suiwerste tot uiting kom (Bakker e.a.,1994:829-836). Die vroeë Afrikaans-Nederlandse skrywer Thomas Francois Burgers met sy Toneelen uit ons dorp (1866–1869) se werk kan reeds in hierdie verband geplaas word, asook by nog ‘n verdere verwante benadering naamlik om tot ‘n “tipologie” te kom van volks- en ander karakters (Wezel, 1993:455-460).  Hierdie soort literatuur staan ook in betrekking tot die sg. Neo-Romantiek waarin die boerelewe, die kleindorpse bestaan, ens. geïdealiseer word, terwyl dit soms weer inskakel by naturalistiese elemente wat die omgewing tot ‘n magtige deterministiese faktor laat uitgroei (vgl. later die Vlaming Stijn Steuvels se De vlaschaard, 1907). Met die vitalistiese stroming van ná die Eerste Wêreldoorlog kry dit ‘n nuwe inspuiting. In Duitsland loop die Heimatkunst vervolgens uit op Blut und Boden-werke binne die groter opset van die Nazi-verheerliking van die plattelandse lewe, iets waarby sommige skrywers uit omliggende lande, soos Knut Hamsun in Noorweë, hulle aansluit. Dit sou na die oorlog lank ‘n skadu werp oor regionale literatuur.

In die Verenigde State van Amerika ontstaan ná die Burgeroorlog die sg. American local color movement (nagenoeg 1865–1900), wat hoofsaaklik neerslag vind in kort tydskrifverhale en só onafskeidbaar verbonde raak met die opkoms van die Amerikaanse kortverhaal. Onder die vernaamste skrywers hiervan tel Harriet Beecher Stowe, Mark Twain en O. Henry. Die begrip local color word wel dikwels gebruik t.o.v. die inspan van streekselemente ter versiering sonder behoorlike integrasie in die literêre werk, maar R.D. Rhode (1975:172 e.v.) toon o.m. oortuigend aan dat dié beskuldiging nie deurgaans geregverdig is t.o.v. skrywers wat met die beweging geassosioeer word nie. In pas met literêre ontwikkelinge in Europa ontstaan daar in die 1920’s vervolgens ‘n pertinent regionalistiese beweging in die Verenigde State, wat volgens Rhode (1975:27-28) onderskei moet word van sectionalism (lg. is meestal aggressief polities, met ‘n propagandistiese toon) en wat algemeen beskou word as uitloper van die local color movement maar ‘n groter “diepte” en tradisiebewustheid vertoon, bv. in die werk van Faulkner.

In ‘n breë afbakening spesifiek van die Suid-Afrikaanse literatuur is regionale elemente natuurlik belangrik. In sowel Nederlands (Jan de Marre e.a.) en later Engels (beginnende by o.a. Thomas Pringle) word die “nuwe streek” vroeg reeds literêr verken. Juis om die outentieke werklikheid en komiek uit te druk, sorg die Engelse skrywer A.G. Baines vir een van die eerste skeppende tekste wat Afrikaans gebruik, Kaatje Kekkelbek, or life among the Hottentots (eerste opvoering 1838). Thomas Francois Burgers se uitgesproke doel is om die eie van ‘n Nederlands/Afrikaanse dorp in verhaalvorm weer te gee. Wiehahn (1965:1-47) toon voorts aan dat die eis van pertinente Suid-Afrikaansheid in literêre werke (dus deels ‘n regionale kriterium) baie prominent is in die Afrikaanse kritiek. Die regionale bly so ’n belangrike factor in die Afrikaanse prosa dat o.a. Elize Botha (1980:327) verwys na ‘n tradisie van “anekdotiese en beskrywende realisme” waarbinne sy die “kontreikuns” van A.A.J. van Niekerk, C.G.S. de Villiers, Boerneef, ens. inpas. Spore van iets  soortgelyks is kennelik aanwesig in die Engelse Suid-Afrikaanse prosa (Olive Schreiner, Herman Charles Bosman, ens.). In die Afrikaanse poësie van die jare vyftig van die 20ste eeu is regionale elemente ook besonder belangrik (Boerneef, N.P. van Wyk Louw, e.a.).

Bibliografie

Aucamp, H. 1978. Kort voor lank. Kaapstad: Tafelberg.
Aucamp, H. 1986. Die blote storie. Kaapstad: Tafelberg.
Bakker, S e.a. (red.) 1994 Overzicht van de Europese letteren van Homerus tot heden II. Amsterdam: Meulenhoff/Icarus.
Botha, E. 1980. Prosa. In: Cloete, T.T. (red.). Die Afrikaanse literatuur sedert Sestig. Bloemfontein: Nasou.
Brink, A.P. 1963. Nota van die vertaler. In: Bourliaquet, L. Verhale uit Limousin. Kaapstad: Human & Rousseau.
De Vries, A.H. 2000. Uit die kontreie vandaan. Kaapstad: Human & Rousseau.
Grové, A.P. 1981. Inleiding. In: Van Niekerk, A.J.J. Verlange is verniet. Kaapstad: Tafelberg.
Kemp, J.C. 1979. Robert Frost and New England: The Poet as Regionalist. Princeton University Press.
Maatje, F.C. 1970/74. Literatuurwetenschap: grondslagen van een theorie van het literaire werk. Utrecht: Oosthoek.
Maritz, A. 1983. Streekliteratuur as kunsprosa. M.A.-verhandeling, Universiteit van Pretoria: Pretoria.   
Rhode, R.D. 1975. Setting in the American short story of local color, 1865-1900. The Hague: Mouton.
Wezel, R. 1993. “December 1839: Kneppelhout publiceert ‘De student-Leydenaar” in: M.A. Schenkeveld-Van der Dussen e.a. Nederlandse Literatuur, een geschiedenis. Groningen: Martinus Nijhoff Uitgevers.
Van Zyl, W.J. 2004. “Hennie Aucamp en die streekverhaal”, In: Spies, L. en Malan, L. ’n Skrywer by sonsopkoms. Stellenbosch: Sun Press.
Van Zyl, W.J. 2009. Thomas Francois Burgers en die Afrikaanse dorpsverhaal, Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans, 16(1):29-48.
Wiehahn, R. 1965. Die Afrikaanse poësiekritiek: ‘n historiese beskouing. Kaapstad: Academica.

 

Wium van Zyl