PASTORALE POËSIE

(Gepubliseer Oktober 2017)

Hierdie genre het ’n lang geskiedenis in mondelinge kultuur en voorliterêre vorms, wat diep in die plattelandse lewe van (waarskynlik) Sicilië gewortel was. Dit was ’n gedig wat deur en vir beeswagters en skaapwagters geskep is, vandaar die alternatiewe benamings bukoliek (Gr. boukólos, “beeswagter”) en herdersdig (Lat. pastor, “herder”). Die vroegste literêre pastorale, herders- of bukoliese poëse wat behoue gebly het, is dié van Theokritos. Sy pastorale gedigte is deur Alexandrynse geleerdes “idilles” genoem (van Gr. eidullion, mv. eidullia, “klein gedig”) en behandel ’n verskeidenheid van temas en vertoon elemente van die epiek (vertelling), drama (handeling en dialoog) en liriek (sang). Theokritos het primêr in die paleis van die vorste van Alexandrië, die Ptolemeë, sy gedigte voorgedra, maar sekerlik ook by die simposia van geletterde Grieke en sy mededigters in die stad. Hy sou waarskynlik geskrewe kopieë in die Mouseion, die groot biblioteek, beskikbaar gemaak het, want dit was trouens die bron van inspirasie vir die kennisontploffing wat alle vorms van literatuur, kuns, wetenskap, geografie, wiskunde en filosofie beïnvloed en vernuwe het. Die gedigte is dus literêre skeppinge wat intellektuele inspanning van die toehoorder of leser vereis. Twee ander vroeë pastorale digters is ook bekend, Moschos van Sirakuse en Bion van Smirna, maar daar bly min van hulle gedigte oor.

Die kenmerkende elemente van die pastorale gedig is die plattelandse landskap met sy berge, riviere, bome, landerye en versengende hitte, wat egter onwerklik en geïdealiseerd is, en gewoonlik in Arkadië, in the Peloponnesos, gesitueer word – kortom, ’n literêre konstruk wat op realistiese besonderhede gebaseer is. Die karakters in hierdie milieu is plattelanders (herders, kleinboere), gode (Pan, Eros), mitologiese figure (Daphnis, Adonis) en diere (beeste, skape, bokke, plaasdire). Daar is egter ook gevaarlike diere (slange, wolwe), giftige plante, siektes en onweer wat mens en dier teister. Wat veral hulle andersins kalme lewe versteur, is die liefde (Eros), wat meestal smart en verdriet meebring. Die aktiwiteite is dié van die platteland (ploeg, saai, plant, snoei, mark toe gaan), maar dit is veral die liefde en sang wat oorheers. Dikwels sal twee herders mekaar teëkom en begin om in beurtsang (carmen amoebaeum) “spontaan” te kompeteer en ’n derde een te vra om die wenner aan te dui. Dit weerspieël die skeppingskrag in hierdie idilliese wêreld. In Vergilius se pastorale gedigte, die Eclogae, dring politieke gebeure of historiese werklikhede die vreedsame en skeppende pastorale wêreld binne.

Die pastorale wêreld figureer in bykans alle kunsvorms, tye en tale. John Milton se “Lycidas” is op Vergilius se Eclogae geskoei. In die prosa kan die oudGriekse roman van Longos, Daphnis en Chloê, en Philip Sidney se Arcadia genoem word. Gedurende die Renaissance het pastorale dramas gedy, waaronder John Fletcher se The Faithful Shepherdess en Shakespeare se As you like it en The Winter’s Tale. Die skilderkuns lewer tallose sprekende voorbeelde op: bv. Nicolas Poussin, John Constable, Maggie Laubser en Frans Klaerhout. Optowering van die pastorale milieu in die musiek geskied in Ludwig von Beethoven se Simfonie no. 9 en Claude Debussy se Prélude à l’après-midi d’un faune. Die plaasroman het sterk pastorale elemente.

 

Bibliografie

Alpers, P. 1997. What is Pastoral? Chicago: University of Chicago Press.
Baumbach, M., Petrovic, A. & Petrovic, I. 2010. Archaic and Classical Greek Epigram. Cambridge: Cambridge University Press.
Publius Vergilius Maro. 1983. Eclogae en Georgica. Vert, J.T. Benade. Pretoria: Universiteit van Suid-Afrika.
Publius Vergilius Maro. 1975. Landelike poësie, Bucolica, Georgica. versvert. N.A. Blanckenberg. Kaapstad & Pretoria: HAUM.
Cipolla, G. 1971. Popular Tradition and Literary Convention in Ancient Bucolic. Diss. Unisa. Pretoria.
Effe, B. & Binder, G. (reds.) 1989. Die antike Bukolik: eine Einführung. München & Zürich: Artemis.Blanckenberg, N.A
Empson, W. 1935. Some Versions of Pastoral. London: Chatto & Windus.
Fantuzzi, M. & Papanghelis, T. (reds.). 2006. Brill’s Companion to Greek and Latin Pastoral. Leiden: Brill.
Fowler, B.H. 1989. The Hellenistic Aesthetic. Madison: University of Wisconsin Press.
Halperin, D.M. 1983. Before Pastoral. Theocritus and the Ancient Tradition of Bucolic Poetry. New Haven & London: Yale University Press.
Henderson, W.J. 1992. Digter en gehoor in Alexandrië. Literator 13.1:67-74.
Hunt, J.D. 1992. The Pastoral Landscape. Studies in the History of Art. London: National Gallery of Art.
Rosenmeyer, T.G. 1969. The Green Cabinet. Theocritus and the European Pastoral Lyric. Berkeley & Los Angeles: University of California Press.


W.J. Henderson