PRE-RAFAELIETE

Die broederskap van die Pre-Rafaeliete is in 1848 in Engeland gestig. Dit was ‘n groep jong skrywers en skilders wat die kunsbeginsels wou herskep wat voor Rafael in Italië gevolg is. Die broederskap is gestig uit protes teen die konvensionele skildermetodes. Hulle wou veral die gees van “simple devotion and adherence to nature”, aldus Holman in A Handbook to Literature (1981: 349), laat herleef; ‘n mens het dit in die Italiaanse kuns voor Rafael aangetref. Die Pre-Rafaeliete verwerp daarom enige effekbejag. Hulle het absolute waarheid nagestreef, daarom kry ‘n mens in hulle skilderkuns ‘n geweldige aandag aan detail.

Die broederskap van die Pre-Rafaeliete het bestaan uit John Everett Millais, William Holman Hunt (skilder), Dante Gabriel Rossetti, William Michael Rossetti, Thomas Woolner, Frederick George Stephens en James Collinson. Sommige van hulle was digters sowel as skilders, bv. Dante Gabriel Rossetti en William Morris. Hulle mondstuk was die tydskrif The germ wat in 1850 gestig is. Met die derde uitgawe is die naam daarvan verander na Art and Poetry, being thoughts towards nature. Die tydskrif het net vier uitgawes beleef. Hulle het ‘n invloed gehad op kunstenaars soos William Morris, Coventry Patmore, Austin Dobson, Christina Rossetti (Dante Gabriel se suster), Swinburne en die beeldende kunstenaar Burne-Jones.

Die Pre-Rafaeliete toon in hulle poësie ‘n duidelike voorkeur vir die MIDDELEEUSE LITERATUUR, die 18e-eeuse BALLADES, argaïsmes, SIMBOLISME, pikturale elemente, sensualiteit, eksperimente met *metrum, aandag aan detail en die bonatuurlike.

Spenser het ‘n groot invloed op hulle werk gehad, sowel as die sensualiteit in Keats se poësie en die bonatuurlike in Poe se werk. Vanweë die aandag aan die sensuele is die Pre-Rafaeliete deur teenstanders soos Robert Buchanan die “vlesige skool van poësie” genoem.

Op literêre gebied is hulle belangrikste werk Dante Gabriel Rossetti se vertaling van Dante se werk, sy eie sonnette en sy balladeagtige gedigte, Christina Rossetti (sy was een van die Pre-Rafaeliete se beste digters) se lirieke en William Morris se gedigte, bv. “The earthly paradise” en “The defense of Guinevere”.

In 1863 word die “Society for the Advancement of Truth in Art” in New York gestig. Hulle is ook die “American Pre-Raphaelites” genoem. Hulle het egter nooit soveel sukses soos hulle Engelse eweknieë behaal nie.

Raadpleeg ook:

Bloom, H. 1986. Pre-Raphaelite Poets. Chelsea: Chelsea House Publishers. (Modern Critical Views.)

 
Anna-Marie Bisschoff