ABELE SPEL

Bygewerk Januarie 2017

Die abele spel (abel: mooi, slim, kunstig) is ‘n Middeleeuse wêreldlike drama. Die dramas is opgeneem in die sg. Hulthemse handskrif; die handskrif is een van die belangrikste bronne van die Middelnederlandse letterkunde. (Die manuskrip ontleen sy naam aan die eienaar van die manuskrip, nl. Charles van Hulthem wat die handskrif van 1811-1832 besit het. Die handskrif is te vinde in die Koninklijke Bibliotheek in Brussel in België: hs 15.509-623.)

Die abele spel is ‘n ernstige drama met ‘n liefdestema wat oor hoofse liefde handel; hulle is die oudste bekende niereligieuse dramas in die Nederlandse letterkunde (en Wes-Europese literatuur). Hulle dateer uit ongeveer 1350. Daar bestaan net vier abele spele, nl. Esmoreit (1018 reëls), Gloriant (1142 reëls), Lanseloet van Denemerken (925 reëls) en Vanden winter ende vande somer (625 reëls). Elke abele spel word deur ‘n sotternie (klug) opgevolg en vorm sodoende ‘n paar: Esmoreit kombineer met LippijnGloriant kombineer met Die buskenblaser; Lanseloet van Denemerken kombineer met Die hexe; Vanden winter ende vanden somer kombineer met Rubben. Die klug Drie daghe Here kombineer met ‘n onvoltooide klug Truwanten. Die karakters in die abele spele is Esmoreit en Damiët; Gloriant en Florentijn; Lanseloet en Sanderijn; en winter en somer.

Hierdie wêreldlike dramas is abele spele genoem om hulle te onderskei van die BOERDE of klugte (sien: KLUG (MIDDELEEUSE)) wat in dieselfde handskrif opgeneem is. Daar is nie eenstemmigheid oor die skrywerskap van die abele spele nie.

Die abele spel het waarskynlik uit die SPROOK ontstaan. Die stof daarvoor is geput uit “motieven die internationaal gemeengoed waren” (Knuvelder, 1968: 87). Dié motiewe is egter op so ‘n wyse verwerk dat die abele spel as ‘n tipiese Nederlandse literatuurvorm beskou kan word.

Al vier die abele spele het ‘n ongekompliseerde struktuur.

Die tekste van die abele spele en die klugte, asook sekondêre literatuur oor die dramas, is beskikbaar op die dbnl by Abele spelen.

 

Literatuur

Hummelen, W.M.H. 1977. Abel Spel. Lexikon des Mittelalters. München: Artemis.

Hummelen, W.M.H. 1992. Performers and Performance in the Earliest Serious Secular Plays in the Netherlands. Comparative Drama 26:19-33.

Knuvelder, G.P.M. 1970. Handboek tot de geschiedenis der Nederlandse letterkunde. Deel I. ‘s-Hertogenbosch: Malmberg.

Leendertz, P., jr. (red.) 1900-1907. Middelnederlandsche dramatische poëzie. Groningen: Wolters. (Die standaarduitgawe van die tekste.)

Ohlhoff, C.H.F. 1988. Wêreldlike toneel in die Middeleeue. In: Van der Elst, J., Ohlhoff, C.H.F & Schutte, H.J. (reds.). Momente in die Nederlandse letterkunde. Pretoria: Academica.

Strietman, E. 1991. The Low Countries. In: Eckehard, S. (red.) The Theatre of Medieval Europe. Cambridge: Cambridge University Press.

Traver, H. 1951. Religious Implications in the Abele Spelen. Germanic Review 26: 34-49.

 Van Dijk, H. 1994. The Drama Texts in the Van Hulthem Manuscript. In: Kooper, E. (red.) Medieval Dutch Literature in its European Context. Cambridge: Cambridge University Press.

 

Anna-Marie le Roux