KITCHEN SINK-DRAMA

(Eng. Kitchen sink = kombuiswasbak). Benaming vir ‘n heterogene versameling Engelse neonaturalistiese toneelstukke en opvoerings in die tweede helfte van die 1950’s en vroeë 1960’s. Die dramas speel af in taamlik armoedige enkelkamerwoonstelle (dekor, omgewing) of in ander interieurs wat ‘n realisties-huislike eerder as ‘n konvensioneel-burgerlike gevoel opwek. Vir tradisionele kritici was die naam amper ‘n vloekwoord. Hulle het die anekdotiese aard van die dramas, die triviale kwessies waaroor hulle gehandel het en, die gebrek aan simboliese diepte veroordeel. Maar die betrokke skrywers was trots op dié naam. Hulle het immers gepoog om ‘n harde realistiese beeld te skep van die huislike omstandighede van werkersklasmense om daarmee kontroversiële kwessies soos ontnugtering, werkloosheid en aborsie te verken. Die term dui dus sowel op die tema as die omgewing van die toneelstukke. Die term “Kitchen Sink School” is in 1954 die eerste keer gebruik deur die kunskritikus David Sylvester as beskrywing vir ʼn groep skilders, die sg. Beaux Arts Quartet, wat sosiaal realistiese tonele uit die huislike lewe geskilder het, veral na aanleiding van die wasbakke wat John Bratby in sy ekspressionistiese skilderye uitgebeeld het. John Osborne se drama Look Back in Anger (1956) word beskou as die eerste kitchen sink-drama. Ander “angry young men”, verteenwoordigers van die genre, is  A. Wesker en A. Owen. Verskeie van hulle dramas is later verfilm.

Bibliografie

Hinchliffe, A, 1974. British Theatre, 1950-1970. Londen: Blackwell.

Kitchen sink realism. 2025. In Wikipedia. [Geraadpleeg 8 Mei 2025]