(Hersien Maart 2025)
Die term “Romantiek” verwys na ‘n emosionele en intellektuele neiging wat in die literatuur, skilderkuns, musiek, argitektuur, kritiek en geskiedskrywing in die Westerse beskawing oor ‘n tydperk van die laat 18de tot die middel van die 19de eeu voorkom. Dit was geneig om die idees van orde, kalmte, harmonie, balans, idealisering en rasionaliteit te verwerp wat klassisisme in die algemeen en laat-18de-eeuse neo-klassisisme in die besonder getipeer het (maar sien die bespreking hieronder vir ‘n meer genuanseerde siening). Dit was ook ‘n reaksie teen die 18de-eeuse rasionalisme en materialisme. Romantiek beklemtoon die individuele, die subjektiewe, die irrasionele, die verbeeldingryke, die persoonlike, die spontane, die emosionele, die visioenêre en die transendentale.
Die agtergrond: ‘n kort oorsig

Toe William Blake in 1757 gebore is, en selfs toe William Wordsworth in 1770 gebore is, was Engeland nog ‘n landbounasie. By Blake se dood in 1827 het Engeland grootliks ‘n nywerheidsnasie geword, met, in Harold Bloom se woorde, “a large and tormented industrial working class” (Bloom, 1971b: xiv). Hierdie nuwe opkomende klas het aanleiding gegee tot sosiale spanning in Engeland, wat in die laaste jare van die 18de eeu bygedra het tot die spanning wat reeds veroorsaak is deur twee uiters invloedryke buitelandse rewolusies, die Amerikaanse Rewolusie (1765-1783) en die Franse Rewolusie (1789-1799). Alhoewel Blake die Amerikaanse Rewolusie gesien het as die belangrikste voorteken van die aanbreek van ‘n nuwe era, was die Franse Rewolusie die enkele belangrikste invloed op Romantiese poësie. Dit was sterk aanwesig in Blake se The Marriage of Heaven & Hell (1790-1793), Wordsworth se poëtiese outobiografie The Prelude (1799), en Shelley se Prometheus Unbound (1820). Romantiese poësie is inderdaad gevorm deur die manifestasie en druk van rewolusie en die reaksie op rewolusie. Die digter Robert Southey het verklaar (1824):
Few persons but those who have lived in it can conceive or comprehend what the memory of the French Revolution was, nor what a visionary world seemed to open upon those who were just entering it. Old things seemed passing away, and nothing was dreamt of but the regeneration of the human race (Wolfson & Manning, 2012:15).
Verder skryf Wordsworth terugskouend in The Prelude: “Bliss was it in that dawn to be alive, / But to be young was very heaven!” (Wolfson en Manning, 2012:15). Simptomaties van so ‘n visioenêre era was William Godwin se mees gewaardeerde werk, Political Justice (1793), waarin die mensdom voorgestel word as moreel getransformeer en in ‘n toestand van totale ekonomiese en politieke gelykheid.
Percy Bysshe Shelley is in 1792 gebore. Dit was die jaar toe Thomas Paine sy uiters invloedryke en provokatiewe Rights of Man gepubliseer het, en die Franse Rewolusionêre magte oorlog verklaar het teen Europa. ‘n Dekade van ongekende omwenteling vir die grootste deel van Europa het nou begin, met gevolge vir die politiek, wetenskap en die letterkunde. In Engeland het die regering hard probeer om interne meningsverskil te onderdruk: populêre sentimente is gemanipuleer deur anti-reformistiese organisasies en publikasies (Wolfson en Manning, 2012:17). Die eerste vergaderings van die radikale London Corresponding Society het in die 1790”s in Engeland plaasgevind, en in die groot nywerheidstede van die noorde is die vroeë Working Men”s Associations gestig. Daar was ‘n ongekende toename in die nasionale produksie van katoen- en metaalprodukte, wat die behoeftige bevolking van tradisioneel-landelike plekke na die fabrieksentrums van die stede gelok het (Holmes, 1974:8). Rewolusionêre politieke werke deur Thomas Paine (The Rights of Man, 1791), Horne Tooke (A Letter on Parliamentary Reform, 1792), Mary Wollstonecraft (A Vindication of the Rights of Women, 1792) en William Godwin (Political Justice, 1793), sowel as ‘n stortvloed van ondermynende pamflette, is ook in hierdie tyd versprei. Nuwe idees het van die Europese vasteland oorgewaai in die vorm van vertalings van Voltaire (Candide, 1759), Baron d”Holbach (The System of Nature, 1770), die Markies de Condorcet (Reflections on Negro Slavery, 1781 en “On the Admission of Women to the Rights of Citizenship”, 1790), die Compte de Volney (Ruins of Empires, 1796) en Pier-Simon Laplace (Celestial Mechanics vol.1, 1799). Engelse sensitiwiteit was ook besig om te verander. Die onverstoorbare Engelse gesonde verstand, verpersoonlik in die invloedryke figuur van een van die hoofwoordvoerders van die Engelse Verligting, Samuel Johnson, is verplaas deur ‘n nuwe sensitiwiteit wat by die jonger skrywers en kunstenaars waarneembaar is (Holmes, 1974: 8). Robert Southey het ‘n versdrama geskryf oor die 15de-eeuse agrariese rewolusionêr, Wat Tyler (1794); Samuel Taylor Coleridge en Robert Southey stel The Fall of Robespierre saam(1794, wat egter nooit gepubliseer is nie); William Blake produseer die eerste van sy profetiese werke, The French Revolution en America: A Prophecy (1791 en 1793). William Wordsworth, wat die vroeë stadiums van die rewolusie in Parys met baie entoesiasme waargeneem het, het hom nou, diep ontsteld deur die Skrikbewind en die nasleep daarvan, gewend tot verhale van armoede, die eenvoudige plattelandse leefwyse, waansin en die bonatuurlike in Lyrical Ballads (1798), waarskynlik die mees verteenwoordigende werk van hierdie tydperk. Die eerste werklik populêre leesmark het ontwikkel toe melodramatiese gotiese verhale en romanses in goedkoop uitgawes gepubliseer is: gruwelverhale deur M.G. Lewis – wat gou die bynaam “Monk” verwerf het, gebaseer op sy topverkopertitel, The Monk (1796) – sowel as stories oor spoke en agtervolging in romans deur Ann Radcliffe (The Mysteries of Udolpho, 1794), Charlotte Dacre (Confessions of the Nun of St. Omer, 1804), en Joanna Baillie (De Monfort, ‘n toneelstuk, 1798); en selfs die filosoof William Godwin het sy deel bygedra in sy boek Caleb Williams (1794), ‘n verhaal van obsessiewe strewe. Natuurlik was daar teenreaksie hierop. Die lees van romans is byvoorbeeld deur baie kritici as ideologies gevaarlik beskou, as iets wat die sedes, smaak en intellek van lesers ondermyn, en wat dan verdere sosiale gevolge het. Die anonieme skrywer van The Evils of Adultery and Prostitution (1792) het verklaar: “The increase of novels will help to account for the increase of prostitution and for the numerous adulteries and elopements that we hear of in the different parts of the kingdom” (Gary Kelly, 1985:186). In die skilderkuns het die makabere werk van Henry Fuseli, deel van die Godwin-kring, en die buitengewone visie en tegniek van Blake, ʼn merkbare invloed geword. Die ou naturalistiese orde van Sir Joshua Reynolds het begin wankel, en die jong J.M.W. Turner, ‘n kragtige voorloper van die Franse impressioniste, het sy olieverfskilderye vir die eerste keer in die Royal Academy uitgestal (Holmes, 1974: 8).
Alhoewel daar geen groot sosio-politieke omwentelinge in Engeland was nie, was daar gedurende die dekade vanaf 1792 uiteenlopende rewolusionêre gebeure wat verbind kan word met die idealistiese Bristol Pantisocracy, die onwettige “Levellers”-vereniging en die London Corresponding Society, ʼn werkersbeweging vir populêre onderwys en demokratiese regte, wat gelei het tot die beroemde 1794-verraadverhore van Thomas Hardy, John Horne Tooke en John Thelwall (Wolfson en Manning, 2012:17). Die koerante en die tavernes regoor die land was vol praatjies van Franse informante en bloeddorstige Jakobyne wat die algehele struktuur van die samelewing wou vernietig. Spotprenttekenaars het groot guillotines geteken wat van bloed drup (Wu, 2012: 720), en afgryslike figure met mal oë en die rooi Frigiese pette van vryheid, soos gedra deur die Franse rewolusioniste (Blake het self so ‘n pet gedra, as ‘n simbool van sy verbintenis tot maatskaplike verandering). Whitehall se departement van binnelandse sake (die setel van die Engelse regering) het vir die eerste keer in die Engelse geskiedenis ‘n landwye netwerk van spioenasie en monitering ontwikkel. Eers onder leiding van premier William Pitt, en later deur sy opvolger, Lord Liverpool, het ‘n toenemend rigiede oplegging van politieke en godsdienstige sensuur die orde van die dag in die howe geword. Die twee groot instrumente van die Lord Chancellor in hierdie saak (hy was die hoogste amptenaar van die regering, en die voorsitter van die appèlhof) was die tweelingwette van Seditious and Blasphemous Libel, wat selfs toegepas kon word in die geval van opruiende toesprake by openbare vergaderings (Holmes, 1974:9). Ander pogings is aangewend om die status quo te handhaaf. Die Anglikaanse biskop, Watson, het ‘n preek teen die rewolusie gepubliseer met die titel The Wisdom and Goodness of God to Make Both Rich and Poor (1793). Wordsworth het gereageer met ‘n woedende pamflet (1793), A Letter to the Bishop of Llandaff (Bloom, 1971b:23).
Coleridge het aanklank gevind by die nie-konformistiese teoloë, Richard Price en Joseph Priestley, en het in sy lang gedig Religious Musings (1794-96) Priestley se sentiment geëggo waarvolgens die Franse Rewolusie gesien word as die donkerste uur voor die aanbreek van ‘n nuwe era, die eerste fase van die apokalips soos geprofeteer in die Openbaring van Johannes. Dieselfde apokaliptiese taal kom voor by Wordsworth, Blake en, ‘n generasie later, by Shelley. Die ontketening van rewolusie vind hier weerklank in die menslike psige, iets wat diep gevrees is in die Johnson-era, wat, versterk deur skrywers soos Alexander Pope en John Dryden, teen vroeëre sosiale onrus gereageer het deur hulle tot ‘n doelbewuste kalm en statige klassisisme te wend. In Nietzscheaanse terme, is die Apolloniese gebruik om die Dionisiese mee te balanseer. En in die menslike psige, kan ‘n oormaat van die Dionisiese nie waansin of wanhoop tot gevolg hê nie? Die lewens van sommige van die digters van hierdie era het beslis tot hierdie oortuiging bygedra. William Cowper, William Collins en Christopher Smart het jare in ʼn asiel deurgebring; Thomas Gray, Robert Burns en James MacPherson was onderhewig aan diepe melancholie of sosiale vervreemding, terwyl Thomas Chatterton op 17-jarige ouderdom selfmoord gepleeg het. Die plattelandse digter John Clare, ‘n ietwat latere romantikus, sou ook jare in ‘n inrigting vir geestelik versteurdes deurbring. Blake, wat deur sommige as versteurd beskou is (iets wat hy op ‘n gesonde manier vermaaklik gevind het en wat ook sy minagting ontlok het), was in staat om die Dionisiese energie te kanaliseer in sy buitengewone profetiese boeke, Visions of the Daughters of Albion (1793), The Four Zoas (1797-1807), Milton (1804-1810) en Jerusalem (1804-1820)(Bloom, 1971b: 24).
Die dekade na die geboorte van Shelley was ook een van oorlog met die Franse. Aanvanklik ‘n verre teenwoordigheid, is die oorlog deur almal gevoel in die vorm van diensplig, hoë pryse, voedseltekorte wat gegrens het aan hongersnood, garnisoene soldate, sosiale onrus onder fabriekswerkers en ‘n vermeerdering van agente van die Doeane, Aksyns, die Poskantoor en Binnelandse Sake. Oorlog het ook ‘n onophoudelike toestroming van nuwe idees meegebring. Richard Holmes skryf in sy biografie van Shelley, The Pursuit, van “a great wind of restless, contradictory, ill-defined ideas, but ideas none the less that blew open new doors and windows in men”s minds and changed their lives for ever” (Holmes, 1974:9). In die wetenskap het die eerste eksperimentele werk oor elektrisiteit, gasse en verbranding opvallende en onverwagte resultate begin oplewer. Humphrey Davy was besig om sy vroeë navorsing oor stikstofoksied, voltaïese batterye en die elemente van chemiese samestelling te voltooi. Amateurwetenskaplikes was volop (Holmes, 1974: 8). Shelley het op sy talle reise ‘n sonmikroskoop, ‘n stelsel van voltaïese batterye en ‘n handkragopwekker saamgedra (Holmes, 1974: 24-5). Die digter het eksperimente met elektrisiteit op homself en sy vriende gedoen op ‘n manier wat moontlik as inspirasie gedien het vir sy vrou, Mary, se gotiese roman, Frankenstein (1818), ‘n werk wat die impak van wetenskaplike rasionalisme op menslike ervaring en godsdienstige oortuiging geregistreer het. (Mary was die dogter van die vroueregte-aktivis en skrywer Mary Wollstonecraft en die filosoof William Godwin. Kyk Feminisme.) In 1798 publiseer Thomas Malthus die eerste sosiologiese studie van groot belang, An Essay on Population (Holmes, 1974: 8), wat op omstrede wyse geargumenteer het vir bevolkingsbeheer, maar wat sy argument gebaseer het op kritiek op die Armoedewette en die lyding van die armes (Meihuizen, 2024: 159n).
Wat is die Romantiek?
As ‘n beweging is die Romantiek nie maklik om te definieer nie. Dink ter vergelyking aan die Europese Verligting. Ons kan die Verligting sien as ‘n tydperk wat die triomf van rasionalisme vertoon, of as daardie tydperk in die Westerse bewussyn wat die einde van die Renaissance gekenmerk het. Maar die Renaissance weerspieël self die opkoms van die individuele intellek uit die Middeleeuse korporatiewe institusionalisme soos gepromulgeer deur die kerk en die rigiede hiërargiese sosiale orde van die feodalisme. In hierdie konteks kan die Verligting gesien word as die volledige opkoms van individuele denke. Maar, wat van die Romantiek? Is dit nie op sy beurt dalk ‘n fase van die Verligting nie? Dit wil sê, romantiese denkers was geneig om rasionaliste te wees in die sin dat hulle geglo het in die krag van die intellek as ‘n ordeningsinstrument of sentrum van orde in die fenomenale wêreld. Hierdie faktor verbind Milton, Pope, Rousseau, Goethe, Blake, Wordsworth, Tennyson en Yeats, hoewel hierdie kunstenaars gewoonlik nie almal as Romantiese digters beskou word nie. Nietemin is dit duidelik dat ‘n belangrike aspek van die Romantiek – die klem op die krag van die intellek – digters uit die Renaissance en Verligting asook uit die twintigste eeu insluit, wat ʼn aanduiding is van die reikwydte van hierdie periodes, maar wat ons nie nader bring aan ‘n eenvoudige definisie van die term “Romantiek” nie.
Lilian Furst bied ʼn nuttige vertrekpunt aan in haar werk The Contours of European Romanticism (1979:11-12) deur die begrip te verfyn eerder as om ʼn breë definisie daarvan te gee. Sy onderskei tussen ‘n argetipiese, ‘n historiese en ‘n estetiese Romantiek:
(i) As ‘n sielkundige verskynsel is die Romantiek in wese eie aan die menslike natuur: ‘n argetipe – of die bewaarplek vir verskeie argetipiese impulse en beelde – wat manifesteer in die werk van skrywers, kunstenaars en filosowe vanaf Plato tot vandag. Dit verteenwoordig die mensdom se aspirasies wat verband hou met verre en waarskynlik onhaalbare ideale; hul ontevredenheid met die status quo; hul persepsie van kreatiewe kragte in hulself wat hulle kan benut om die werklikheid te transformeer of te oorskry; en hul persepsie van demoniese magte buite die verstand, van die irrasionele op sigself en die irrasionele as ‘n sterk onvoorspelbare krag in die orde van dinge.
(ii) Daar bestaan ‘n redelike mate van konsensus oor die Romantiek as ‘n historiese verskynsel wat tussen die jare 1760 en 1870 geplaas kan word. Dit is ‘n unieke verskynsel in die sin dat dit byna gelyktydig en gedeeltelik onafhanklik in verskillende Europese lande plaasgevind het. Die belangrikste lande hier was beslis Engeland, Duitsland en Frankryk, maar Spanje, Italië en ander Europese lande (en die Amerikas) het ook romantiese skrywers en kunstenaars van formaat opgelewer.
(iii) As ‘n literêre of kritiese term het die Romantiek ‘n meer gespesialiseerde en beperkte funksie as in die geval van die historiese verskynsel. Nietemin is dit die eerste keer deur Friedrich Wilhelm Josef von Schelling in ‘n suiwer estetiese konteks gebruik, en dit was as literêre term dat dit aanvanklik in omloop gekom het (Die Philosophie der Kunst, 1802).
Die breër betekenis van die term “Romantiek”, wat binne die Engelse konteks aanvanklik gebruik is om te verwys na die romantiese kenmerke van vertellings, het eers baie later in Frankryk in omloop gekom deur die toedoen van Jean-Jacques Rousseau (in sy Reveries du promeneur solitaire, Mymeringe van ʼn eensame wandelaar, 1778). Duitsland het ook die Engelse term “Romantic” in die laat 17de eeu aangeneem, hoewel die Duitse kritici die woord “Romantik” meer spesifiek toegepas het op die soort literatuur en natuurskoon wat tipies is van Middeleeuse romanses (Smith, 1943). Omdat die Middeleeue as ‘n hoogtepunt in die Duitse geskiedenis beskou is, is die “romantiese” geassosieer met “Gotiese” en ander Middeleeuse waardes, in teenstelling met klassieke en neo-klassieke ideale. Die Sturm und Drang-beweging, onder leiding van Carl Friedrich Lessing en Johann Gottfried von Herder, het sy naam gekry van ‘n drama uit 1776 deur Friedrich Maximilian von Klinger, en sy trefkrag uit die werke van die jong Goethe (Werther, 1774) en van Schiller (Die Raüber, 1781). Lilian Furst merk op:
the credo of the Sturm und Drang foreshadowed very many of the basic concepts of Romanticism: the belief in the autonomy of the divinely inspired genius, the release of the imagination from the bondage of “good taste”, the primacy of spontaneous, intuitive feeling, complete freedom of artistic expression, the notion of organic growth and development, from which arose both an interest in the past, particularly the Middle Ages, and a new pantheistic vision of nature as part of a unified cosmos (1969b: 33, 34).
In Frankryk het die nuwe hoop en die verwagtinge verbonde aan die rewolusionêre ideale van “vryheid, gelykheid en broederskap” skielik verdwyn met die bloedvergieting en geweld van die skrikbewind (1793 tot 1794). Die daaropvolgende oorloë wat Frankryk gevoer het om haar nuutgevonde republikeinse vryheid te verdedig, het gelei tot ‘n aggressiewe imperialisme, en alle demokratiese ideale het in duie gestort met die fenomenale opkoms van Napoleon. Napoleon het die verbeelding aangegryp soos min ander magshebbers voor hom. Die klem wat die Romantiek geplaas het op die individu en die gepaardgaande eienskappe van energie en intensiteit, help om te verduidelik hoekom Napoleon so ʼn groot impak gehad het op ʼn wye reeks talentvolle mense soos Beethoven, William Hazlitt en Thomas Carlyle, en op kunstenaars soos David, Ingres en Girodet. Die politieke verwikkelinge in Frankryk na 1789 het die land van die res van Europa geïsoleer; eers na 1870 het die Franse Romantiek homself uiteindelik bevry van die boeie van die verlede.
In Duitsland was die effek van die Romantiek baie sterker as in Engeland; dit was ook teoreties suiwerder en meer verreikend, en het die kuns in die algemeen, die wetenskap en baie fasette van die politieke en sosiale lewe beïnvloed. Romantiek in Engeland kan nie as ‘n beweging beskryf word nie, vanweë die hoogs individualistiese aard van die beoefenaars daarvan. Die Duitse Romantiek is egter, soos dié in Frankryk, gekenmerk deur die vorming van groepe eendersdenkende skrywers en die opstel van manifeste. In die Duitse Romantiek is daar twee duidelik onderskeibare fases. In die eerste hiervan, bekend as die Frühromantik (Vroeë Romantiek), wat teen 1797 ontstaan het, het die sogenaamde Jena-groep voortgebou op die idees van die Sturm und Drang. Die spreekbuise van dié fase was die Schlegel-broers, August Wilhelm en Friedrich. Die omvang van die invloed van hierdie fase is duidelik in die werke van Wilhelm Wackenroder, Ludwig Tieck en Novalis (Georg Friedrich Philip von Hardenberg), die godsdienstige leier Friedrich Schleiermacher, en verskeie natuurfilosowe en fisici. Die tweede fase, Hochromantik (Hoogromantiek), beliggaam in die Heidelberg-groep, het in 1805 ontstaan. Hierdie groep was min gemoeid met metafisika en was meer ekstrovert en kreatief van aard: die verhale van Heinrich Hoffmann en Adelbert von Chamisso, die gedigte van Ludwig Uhland, Clemens Brentano en Ernst Moritz Arndt, en die navorsing van die broers Grimm oor volkslegendes en sprokies is produkte van hierdie tyd (Romanticism in Germany, 2024). Die belangrikste voorbeeld van romantiese skilderkuns in Duitsland was Caspar David Friedrich, met sy spookagtige reeks skilderye, Moonrise Over the Sea, The Sea of Ice en Wanderer Above the Sea of Fog (1818-1824). Ook belangrik was Joseph Karl Stieler, met sy ikoniese 1820-portret van ‘n gloeiende Beethoven (Silva, 2022).
Die Franse Romantiek is aangevuur deur Madame de Staël (Anne Louise Germaine de Staël-Holstein) se entoesiastiese lof van die Duitse beweging (De l”Allemagne, Oor Duitsland, 1813) en A.W. Schlegel se belangrike Vorlesungen über Dramatische Kunst und Literatur (Lesings oor dramatiese kuns en literatuur, in Engels vertaal in 1813). Ook gestimuleer deur die invloed van Sir Walter Scott en Lord Byron, het Franse Romantici in die vroeë twintigerjare standpunt ingeneem teen die steeds stewig gevestigde neo-klassieke tradisie. In tydskrifte soos die Muse française (Die Franse muse, 1823-1824) en Le globe (Die aardbol, 1824-1832) het groepe entoesiaste ‘n onverbiddelike literêre stryd met die Franse Akademie gevoer. Die radikale aard van die Franse Romantiek het vrese laat ontstaan, selfs nadat die gedigte van Alphonse de Lamartine, Alfred de Vigny en Victor Hugo reeds wyd aanvaar is, dat ‘n nuwe en bloedige politieke rewolusie sou ontstaan, en nie net ‘n rewolusie in die kulturele sfeer nie. Die invloed van Shakespeare op Paryse gehore in 1827-1828 en die triomfantlike ontvangs van Hugo se Hernani in 1830 het egter uiteindelik vir die Franse Romantiek bereik wat die Sturm und Drang 50 jaar tevore vir Duitsland gedoen het (Romanticism in France, 2024).
Ook baie invloedryk in die eerste deel van die 19de eeu was die geskrifte van François-René (Vicomte de Chateaubriand) en Alfred de Musset, die skilderye van Eugène Delacroix en Théodore Géricault (waarin beide kontemporêre en eksotiese temas op passievolle wyse neerslag gevind het), en die musiek van Hector Berlioz (met byvoorbeeld sy Goetheaanse La Damnation de Faust, 1846). Die Byroniese parodieë van romantiese oordaad in Théophile Gautier (soos in Albertus, 1832) moet ook in ag geneem word. In 1848 het die romantiese literatuur in Frankryk ‘n hoogtepunt bereik met die publikasie van die roman La Dame aux Camélias (Die dame met kamelias, 1848) deur Alexandre Dumas die jongere. Die opera gebaseer op dié roman, La Traviata, deur Giuseppe Verdi (1853), het een van die mees suksesvolle operas van alle tye geword. Die Franse romantiese poësie, in besonder, het sy hoogtepunt bereik in die 1840’s, in die nawerking van Hugo se Hernani (1830). Die dood van Victor Hugo in 1885 word dikwels beskou as die einde van die beweging in poësie. Die romantiese invloed is egter duidelik tot aan die einde van die eeu in die werk van ander digters. Tekens daarvan is die eksotisme van Charles Baudelaire, Gérard de Nerval se navolging van Goethe, en die gevoel van ‘n spookagtige teenwoordigheid in die natuur in werke van Paul Verlaine, soos in sy “Clare de lune” (wat die klaviermusiek deur Claude Debussy geïnspireer het) (Romanticism in France, 2024). (Kyk Simbolisme.)
By die deelnemers aan die Engelse Romantiek was daar ʼn persepsie van hierdie beweging as “a Renaissance of the Renaissance, a return to the imaginative powers of Spenser, Shakespeare and Milton” (Bloom & Trilling, 1978:3). Deur terug te keer na die skeppende en geestelike waardes wat hierdie kunstenaars nagestreef het, het die Engelse Romantici gevoel dat hulle die droë, geestelik onvrugbare rasionalisme van Verligtingsdenkers soos Newton en Locke, en kunstenaars soos Pope (almal deur Blake afgewys) verwerp. Ons kan egter net voorwaardelik en gekwalifiseer van die Engelse Romantiek as ʼn beweging praat. In The Prelude prys Wordsworth Newton, terwyl Byron Pope hoog geag het. Maar, met betrekking tot hierdie terugkeer na die Renaissance-, of pre-Verligtingwaardes, moet die “Poetry of Sensibility”, of, die fokus op angsvolle gevoelens, as ʼn vroeër invloed gesien word. Skrywers soos Collins, Gray en Cowper het ‘n Miltoniese intensiteit van emosie nagestreef as reaksie op die selfbeheersing van die Verligting, ten spyte van Blake se oortuiging dat hierdie skrywers nie geestelik gesond genoeg was om die waansin van die Verligting omver te werp nie. Maar, weereens ontstaan komplikasies om die kwessie te vertroebel wanneer digters wat teen mekaar gekant is, Milton aanwys as ‘n voorloper siende dat Pope (wat deur heelwat Romantici verwerp is) vergelykbaar is met Milton wat betref die visie van die ordenende krag van die menslike bewussyn. En, kan ons selfs ontken dat daar by Pope ‘n sekere mate van Miltoniese emosionele verontwaardiging in sy Essay on Man bestaan?
As sensitiwiteit of emosie een faktor in romantiese skryfwerk is, is die soekmotief (quest motif) ‘n ander. As ons vanuit ʼn langtermynperspektief na literatuur kyk, maak die strukturerende kenmerke van die soeke van Die Odusseia ‘n romantiese werk in vergelyking met die ander Homeriese epos, Die Ilias. Hierdie voorbeeld brei ons tydskaal aansienlik uit, en lyk dalk nie besonder nuttig nie, maar dit kan inderdaad bydra tot ʼn definisie van die romantiese soeke. Terwyl die swerftogte van Odusseus in Homeros as ‘n eksterne soeke na ʼn tuiste gesien kan word, verander die Neo-Platoniese filosowe Plotinus en Porphyrius (in die vroeë Christelike eeue, maar hoogs invloedryk onder die Romantici deur die 18de-eeuse vertalings van Thomas Taylor) hierdie perspektief en bied ‘n allegoriese lees van Homeros, waar die uiteindelike doel van Odusseus se soeke na persoonlike verligting is (Meihuizen, 2024: 9). Ook vir die hoë Romantici word die soeke geïnternaliseer; die self word die soeker wat nie na iets tasbaars soek nie, maar eerder na ‘n verhoogde bewussyn van die self (Bloom & Trilling, 1978: 4). Hierdie soeke is egter dikwels onsuksesvol. Dus, by Blake, word die bereiking van die geïntegreerde self gekondisioneer deur beide swak onskuld (of “Beulah”, om ‘n term uit sy private mitologie te gebruik) en ervaring (of “Generation”), wat die pad na georganiseerde onskuld (of “Eden” – onskuld getemper deur ervaring), baie moeilik maak (Bloom & Trilling, 1978: 11). Dit kan wees dat ‘n mens vir ewig teruggewerp word in die eksistensiële siklisiteit van sy gedig “The Mental Traveller” (1803), of in die voortdurende strewe van ‘n “mental fight” in die beroemde “Jerusalem”-liriek (amper ‘n volkslied vir die Engelse), wat sy profetiese boek, Milton, voorafgaan (1804-1810). Wordsworth kan nooit die kind word wat “father of the man” is nie (soos in sy gedig “My Heart Leaps Up” (1802)); Coleridge kan slegs ‘n gekwalifiseerde visie van die paradys van die geïntegreerde self projekteer in “Kubla Khan” (1797; 1816) (“Could I revive within me / Her symphony and song”, waarin hy skryf oor sy visie van die Abessiniese meisie – my beklemtoning); Lord Byron as Childe Harold (1812-1818) kan ironies genoeg net onveranderlikheid vind in die see, die medium van sy eindelose soeke (‘n soeke wat weer opgeneem is in sy meesterwerk, Don Juan (1819-1824), onvoltooid ten tyde van sy dood in 1824) (Bloom & Trilling, 1978: 4-9). Shelley, hoewel ‘n optimistiese humanis, word terneergedruk deur die samelewing se selftevredenheid in “Ode to the West Wind” (1819); en John Keats sluit “Ode on Indolence” (1819) op ‘n onkenmerkende melodramatiese wyse af deur weg te keer van wat hy sien as die onoorspronklike aard van alles wat hy tot op daardie stadium geproduseer het, en hierdeur veroordeel hy homself tot ‘n selfbeeld wat hy afstootlik moes vind, naamlik dié van Leigh Hunt se “amiable but infatuated bardling” (Meihuizen, 2024: 391n). Wat betref Goethe, lyk dit asof ‘n vroeë idealistiese verlange na Platoniese transendente vorme verplaas word deur idees wat geassimileer is van byvoorbeeld Spinoza, Leibniz, Kant en Schelling: die minder verhewe, mensgesentreerde idees van sy latere “Weimar Klassik“-tydperk, gekenmerk deur ‘n verlange na die natuurlike wêreld, wat voortspruit uit die individu, maar bemiddel word deur mite, narratief en beelde (Nicholls, 2006: 26).
Die Engelse Hoë Romantici het probeer om die instinktiewe lewe te herstel, maar het, ironies genoeg, hierdeur gevaar geloop om buitensporig selfbewus te word (Bloom & Trilling, 1978: 6). Dit lyk dus asof Wordsworth se “Tintern Abbey” (1798) vasgevang is tussen instink en ‘n hoogs bewuste formulering van instinktiewe kragte, en dit lyk inderdaad asof hy homself moet oortuig van die krag van die instinktiewe. Keats, in “Ode on a Grecian Urn” (1819) vier die instinktiewe soos uitgebeeld op die estetiese voorwerp, die kruik, maar moet uiteindelik die oppergesag van die formele voorwerp prys. Coleridge, in The Rime of the Ancient Mariner (1798; 1834), onderwerp instinktiewe liefde aan die formele herhalings in die Mariner se verhaal. Coleridge self sê van die gedig: “its chief fault…was the obtrusion of the moral sentiment so openly on the reader as a principle or cause of action in a work of pure imagination” (in Bloom & Trilling, 1978: 238). Dit wil sê, die morele sentiment lê ‘n voorafbepaalde gedragspatroon op aan dit wat verbeeldingryk of instinktief is. En, die instinktiewe of oerdrifte self het beperkings: Shelley se westewind is “destroyer” sowel as “preserver”; hoewel die kwessie nie eksplisiet aangespreek word in Wordsworth se ontmoeting met die natuur in “Tintern Abbey” nie, is daar ‘n gevoel van verlies inherent aan die afname van die jeug se kragte, wat Wordsworth teëwerk met die idee dat nuwe gawes deur die natuur gegee word om die oues te vervang. Maar, ten spyte van sy taamlik gedwonge optimisme, kan hy nie die gevoel van verlore dinge of die natuur as vernietiger verwerp nie (Bloom & Trilling, 1978: 146).
Die Romantici is geneig om hul eie spesifieke begrip van die wêreld en hul plek daarin te verheerlik, asook hul insigte in die eie self en verhoudings met ander, hul reaksie op eietydse sosiale en politieke realiteite, en hul bewustheid van die natuurlike wêreld. Romantiek is in wese gebaseer op individuele ervaring op ʼn skaal wat nog nooit tevore konsekwent opgeteken is nie. Wordsworth vestig die aandag op twee sake wat van kardinale belang is in die identifisering van romantiese poësie. Die eerste is die byna fisiese gevoel van die digter wat om hom kyk, van die individu met sy sintuie wat skerp en helder op die eksterne wêreld gerig word. Die tweede is die gepaardgaande gevoel van genot. Die digter “rejoices more than other men”, skryf Wordsworth, “in the spirit of life that is in him”; hy verlustig hom in die wêreld rondom hom (in Wu, 2012: 537). Soos ons gesien het, beteken dit nie dat romantiese poësie die euwels van die lewe ignoreer nie. Maar daar is ‘n buitengewone gevoel van lewe en energie, varsheid en opgewondenheid saam met ʼn betrokkenheid by vrae wat deur die self en die wêreld geopper word: Wie is ek? Hoe het ek geword soos ek is? Wat is my verhouding tot my medemens? Hoe voel ek oor hulle vreugde en lyding? Watter wonderlike oomblikke wil ek vier? Wat weet ek van die natuur of kuns? Wat is die beste vorm van politieke samelewing? Wat is my begrip van die verlede, en my hoop vir die toekoms?
Romantiese vroueskrywers
Duncan Wu skryf: “it would be remarkable were the poetry of female Romantics not to reflect their natural pragmatism – an inevitable by-product of the fact that they were often (as in the cases of Charlotte Smith and Felicia Hemans) single mothers providing for their children. Yet their work is permeated by the same aspirations as to be found in their male contemporaries” (Wu, 2012: xlii).
Smith is diep beïnvloed deur die flora en fauna van die Sussex Downs, soos in haar gedig “Beachy Head”, wat, op ‘n manier soortgelyk aan Shelley se “Mont Blanc”, die leser se gedagtes rig op die reikwydte van postmenslike ewige en ontologiese grootsheid (Meihuizen, 2024: 301). Soos Wu uitwys, beteken die uitwys van die besondere benadering tot die natuurlike wêreld soos in die werke van Smith nie dat “the sexual politics of female poetry” onderskat word nie. Hy verwys na Felicia Hemans se reeks Records of Women (1828) wat handel oor vroulike ervaring binne ‘n manlik-gedomineerde samelewing wat nie net ongelykheid beklemtoon nie, maar ook “the value she places on the relationship between the sexes”. Wu wys ook daarop dat wanneer dit kom by ‘n oorweging van vroulike romantiese skrywers, geslagspolitiek “one factor among many” is, en dat manlike skrywers ook oor vroue se bestaan en leefwêreld geskryf het, soos in Robert Southey se gedig oor Jeanne d”Arc (1796). Aan die ander kant is dit ook so dat Hannah More, Ann Yearsley, Anna Laetitia Barbauld en Helen Maria Williams “composed anti-slavery poems alongside those of Cowper, Blake, Southey and Coleridge”. Wu se gevolgtrekking is dat “Hemans and her contemporaries saw themselves as participating in a literary forum with male writers”. Ons kan hierby die name van ander vroulike skrywers voeg wat hierdie sentiment gedeel het, naamlik Anna Seward, met haar bundel Llangollen Vale, with Other Poems (1796), Mary Robinson met Lyrical Tales (1800), Joanna Baillie met A Series of Plays (1798), Dorothy Wordsworth met haar Grasmere Journals (ongepubliseer in haar leeftyd, maar ʼn sterk invloed op haar broer, William), Letitia Elizabeth Landon met The Improvisatrice; and Other Poems (1824), en Elizabeth Barrett Browning met “Stanzas on the Death of Lord Byron” (1824).
In Frankryk, soos reeds opgemerk, was die formidabele Madame de Staël van groot belang in die bevordering van die Romantiek in sy vroeë fases. Latere skrywers, Flora Tristan (Méphis, 1838), Marie d”Agoult (Valentia, 1869), Hortense Allart (Marpé, 1877) en die produktiewe en uiters gewilde George Sand (skuilnaam van Amantine Lucile Aurore Dupin de Francueil) het almal romantiese konvensies in hul skryfstyl nageboots, hoewel hulle die romantiese waardes, narratiewe struktuur en konsepte van die self uitgedaag het (Rabine, 1977: 491). Vroulike Romantici was ook gefassineer deur die sublieme, wat as ‘n manlike domein beskou word. Wu verwys na Heman se “Second Sight” en “The Spirit’s Mysteries”, Barbauld se “A Summer Evening’s Meditation” en “Mrs Robinson to the Poet Coleridge”. In ‘n polities korrekte era maak Wu die belangrike punt: “Of course women brought to their art insights deriving from female experience, but it is our duty as readers to appreciate those insights in their historical context, rather than impose on the past assumptions that belong in the present” (Wu, 2012: xlii-xliv).
In Nederlands was die Romantiek maar ʼn swak weerklank van die internasionale beweging. Daar word ʼn preromantiek onderskei, verteenwoordig deur die werk van skrywers soos Hieronymus van Alphen en Rhijnvis Feith. Dié term is egter omstrede omdat dit die geleidelike en versigtige ontwikkeling in Nederland onderspeel. Die swak weerklank van die Romantiek in Nederlands blyk uit die vroeë werk van Nicolaas Beets (sy sg. “swarte tijd”). Outeurs soos Willem Bilderdijk (Mijn verlustiging, 1779) en Isaac da Costa is sterker deur die Romantiek geïnspireer. Romantiese elemente is herkenbaar in die werk van E.J. Potgieter (Jan, Jannetje en hun jongste kind, 1841), Jacob van Lennep (De roos van Dekama, 1836) en A.L.G. (Truitje) Bosboom-Toussaint (Majoor Frans, 1874). Historiese romans soos lg. twee en ook in die werk van Hendrik Conscience (De leeuw van Vlaanderen, 1838) in Vlaandere, het ’n belangrike rol gespeel (Romantiek, 2024).
In Afrikaans word die begrip “romantiek” taamlik vaag en afgewater gebruik. Kannemeyer (1983:296) onderskei bv. ʼn romantiese tradisie in Afrikaans. Hy omskryf hierdie tradisie as bestaande uit ʼn oppervlakkige liefdesdriehoek tussen ʼn held, heldin en ʼn skurk wat ʼn reeks spannende avonture beleef teen ʼn newelagtige historiese agtergrond. By Malherbe kom ʼn meer simboliese dimensie by. Hy noem ook ʼn “romantiese waas” wat die gebeure omring en die gebruik van “liries-meevoerende taal”. Kenmerkend is ook meer aandag aan die individu en individuele emosies. Hy beskou D.F. Malherbe en C.M. van den Heever as vroeë verteenwoordigers hiervan. Hy herken elemente hiervan by Van Wyk Louw en die ander Dertigers en trek die lyn verder deur tot by sekere werke van André P. Brink.
In die Suid-Afrikaanse Engelse poësie word die Romantiek die beste verteenwoordig deur twee digters uit twee verskillende eeue, Thomas Pringle (1789-1834) en Roy Campbell (1901-1957). Alhoewel feitlik al Pringle se Afrika-gedigte ‘n tabulerende neiging toon, tipies van Neo-klassisisme, is die stemming wat hy assosieer met die landskap geassosieer, romanties van aard. Dit blyk uit sy bekendste gedig, “Afar in the Desert” (1834), wat baie gewild was in die negentiende eeu, toe dit buitensporig geprys is deur niemand minder nie as Coleridge nie, wat dit uitegroep het tot “one of the two or three most perfect lyrical poems in our language” (in Pringle, 1989: 80). Roy Campbell het ‘n romantiese voorliefde vir herhalende oerenergie getoon in sy allegoriese The Flaming Terrapin (1924), en sy gevoel van komende revolusionêre verandering in die visioenêre gedigte in Adamastor (1930), insluitend “The Serf”, “The Zulu Girl” en “Rounding the Cape”. Hy het ook ‘n weergawe van “Mazeppa” geskryf, hoewel hy aanvanklik werke van die Byron-geïnspireerde Victor Hugo en Jules, Comte de Resseguier, eerder as Byron self as bron gebruik het. Die gedig kodeer beide sy eie opvatting van homself as eensame visioenêr wat deur sy soort verwerp is, en die perde-energie van die Natalse setlaarsmitologie, soos noukeurig nagespeur deur Tony Voss in “Roy Campbell’s ‘Mazeppa‘” (Voss, 2012: 19-39).
Nalatenskap van die Romantiek
Die Engelse hoë Romantici het die verbeelding verhef tot iets groots. Blake het dit gelykgestel aan menslike bestaan op sy beste in sy frase, “the Real Man, the Imagination” (Bloom and Trilling, 1978: 11), terwyl Coleridge dit in sy Biographia Literaria gelykgestel het aan die Goddelike skeppingskrag (Wu, 2012: 711-12). Vir Shelley was dit die hoogste instrument van morele deug, en vir Keats, wat saam met Blake die hoëpriester van die verbeelding was, was dit die hoogste geloofsoortuiging (Meihuizen, 2024: 266, 384). Hierdie verheffing van die verbeelding het die kritiese denke baie jare lank onderlê en het die beginsel van estetiese kwaliteit ondersteun wat in die latere 19de eeu en vroeë 20ste eeu voorgestaan is deur denkers en kritici soos John Ruskin, Walter Pater, I.A. Richards en F.R. Leavis. Wat bekend gestaan het as die “organiese” beginsel in kuns, spruit ook uit die verheffing van die verbeelding; dit het die organiese natuur in verband gebring met die homogeniserende kragte van die gees, en die suksesvolle kunswerk met organiese, mooi, onderling-verbandhoudende skepping. Dit het op sy beurt gelei tot die modernisme se isolasie van die kunswerk (soos in die Amerikaanse New Criticism), en baie van die belangrikste tendense van die latere kritiek spruit óf uit reaksie hierteen, óf erkenning van die waarde daarvan. Dit wil dus voorkom asof die Russiese Formalisme, die Strukturalisme en die huidige Nuwe Formalisme verdere ontwikkelings van Coleridgeaanse organisisme, terwyl Marxistiese kritiek en Dekonstruksie as reaksie op hierdie estetiese insulariteit (organisisme behels ʼn intense fokus op die gedig as sulks), probeer om wyer as ‘n spesifieke teks te kyk en die geskiedenis, sosiologie, politiek, subtekste, verbandhoudende tekste, en inderdaad tekste in die algemeen, te betrek. Vanuit hierdie breër siening van die konsep “invloed” is ‘n romantiese invloed vandag nog belangrik.
Op ʼn meer direkte wyse, is elemente van die Romantiek nog duidelik waarneembaar in byvoorbeeld Yeats se soeke na integrasie van die self, in Geoffrey Hill se poging om die self te vestig deur ‘n rekonstruksie van ‘n vergange Engeland in sy reeks Mercian Hymns (1971), in Wallace Stevens se soeke na ‘n kernbeginsel van die self, in die terugvind van die lewenskragtigheid van die natuur by Ted Hughes; in Robert Graves se fassinasie met die vroulike of demoniese self, en in Seamus Heaney se interne soeke gekoppel aan die geskiedenis, outobiografie, nasionalisme en die natuur. Terwyl Thomas Mann, Rainer Maria Rilke, Herman Hesse en Franz Kafka in die eerste helfte van die 20ste eeu in Duitsland byvoorbeeld meer modernisties as ooglopend romanties georiënteer is, deel hulle ‘n diepgaande belangstelling in Goethe en sy invloed op Duitse literatuur en denke. Dan word hul fassinasie met innerlikheid ook gemanifesteer in werke wat te doen het met die beproewings van die menslike bewussyn en die soeke na selfkennis en psigiese transformasie, soos Lotte in Weimar (1939) deur Mann (wat die wêreld van Werther herskep), Demian (1919; 1960) deur Hesse, die Sonnets to Orpheus (1923) deur Rilke, en, in die donkerder atmosfeer van The Castle (1926) and The Trial (1925) deur Kafka.
Meer onlangs is die 1970’s gekenmerk deur ‘n inwaartse beweging wat bekend geword het as die Neue Subjektivität (Nuwe Subjektiwiteit). Die dominante genre was liriese poësie. Die skrywers daarvan was voorheen betrokke by die studente-rewolusie van 1968, wat ‘n nuwe politisering van literatuur genoop het. Die beweging is gedokumenteer in Jürgen Theobaldy se bloemlesing uit 1977, Und ich bewege mich doch: Gedichte vor und nach 1968 (Nogtans beweeg ek: Gedigte voor en na 1968). In Frankryk in die 20ste eeu het surrealiste soos André Breton en René Magritte, hoofsaaklik geïnspireer deur Freud en psigoanalise, maar ook deeglik bewus van die romantiese innerlikheid van die 19de eeu, met die werking van die onbewuste gespeel. Dié groep het vorige skrywers wat hulle as radikaal beskou het (Arthur Rimbaud, die Comte de Lautréamont, Charles Baudelaire) voorgestaan, en ‘n anti-burgerlike filosofie bevorder, wat nie vir Wollstonecraft, Blake, Shelley of Byron vreemd sou voorkom nie (Romanticism in Europe and the Americas, 2024).
As ons dink aan romantiese skrywers, hetsy Engels, Duits of Frans (of Pools, Russies, Spaans, Italiaans, Suid-Amerikaans en Noord-Amerikaans – onmoontlik om hier in te sluit as gevolg van ruimtebeperking), bring dit ons noodwendig tot die besef van die enorme betekenis van die Romantiese visie en die houvas wat dit vandag nog op ons het. Deur die mensdom ‘n besef van sy eie krag en die bevrydende waarde hiervan te gee, het die Romantiese ingesteldheid miskien ook die hekke van relativisme oopgemaak, wat kan lei, soos in die geval van sekere moderne skole van literêre kritiek, tot ‘n ironies aftakelende afwesigheid van estetiese en morele voorskriftelikheid. Dit wil sê, onbepaaldheid, wat die gevolg is van ‘n oorvloed van individuele keuses, hetsy erken of nie, onderlê baie aspekte van die hedendaagse lewe. Vreemd genoeg, lyk dit asof ons, in die naam van die akkommodasie van veelvuldige standpunte, die Romantiese interne soeke-doelwit verdraai het deur die wêreld van die innerlike te eksternaliseer (soos in die maklik verteerbare giere en formules van die populêre sielkunde en godsdienstige praktyk), en dit sodoende ontheilig het. Dit is hierdie ontheiliging wat ons van die Romantici skei, ten spyte van ons bewustheid van ‘n kontinuïteit. Al die romantici, insluitend Rousseau, Goethe, as selfverklaarde ateïs, Shelley, en Byron as Calvinisties-gedrewe hedonis, sou saamgestem het met Blake se spiritueel-geïnspireerde slagspreuk: “Every thing that lives is holy” (The Marriage of Heaven and Hell, plate 27). Wie van ons kan vandag so ‘n sentiment op so ‘n reguit, ongekwalifiseerde manier uiter?
Nicholas Meihuizen
Vertaal deur Elsa Meihuizen
Bibliografie
Abercrombie, L. 1963 (1926). Romanticism. London: High Hill Books.
Abrams, M.H. 1953. The Mirror and the Lamp. Oxford: Oxford University Press.
Bate, W.J. 1961. From Classic to Romantic: Premises of Taste in Eighteenth Century England. New York: Harper & Row.
Barzun, J. 1975 (1961). Classic, Romantic and Modern. Chicago: University of Chicago Press.
Blake, William. 2024. The Global Blake Network. Datum geraadpleeg: 1 Julie 2024.
Bloom, Harold. 1971a. The Ringers in the Tower: Studies in Romantic Tradition. Chicago: Chicago University Press.
Bloom, Harold. 1971b. The Visionary Company: A Reading of English Romantic Poetry. New York: Doubleday.
Bloom, Harold and Lionel Trilling (reds.). 1978. Romantic Poetry and Prose. New York: Oxford University Press.
Bowra, C. M. 1949. The Romantic Imagination. London: Oxford University Press.
Bragg, M. 2020. John Clare. [Potgooi]. Datum geraadpleeg: 01 Julie 2024.
Brix, M. 1999. Le romantisme français: Esthétique platonicienne et modernité littéraire. Leuven: Peeters.
Byron, Lord. 2024. The Byron Society. Datum geraadpleeg: 01 Julie 2024.
Campbell, Roy, Collected Works, 4 vols., reds. P. Alexander, M. Chapman and M. Levison, Johannesburg, Donker, 1985, 1988.
Curran, Stuart. (red.). 1996. The Cambridge Companion to British Romanticism. Cambridge: Cambridge University Press.
Eichner, H. (red.). 1972. ”Romantic” and its Cognates: The European History of a Word. Toronto: University of Toronto Press.
Ferber, M. 2005. A Companion to European Romanticism. Chichester: Wiley-Blackwell.
Frye, Northrop (red.). 1963. Romanticism Reconsidered. New York: Columbia University Press.
Frye, N. 1983. A Study of English Romanticism. Brighton: Harvester Press.
Fulford, Tim and Peter J. Kitson (reds.). 2000. Romanticism and Colonialism: Writing and Empire, 1780-1830. Cambridge: Cambridge University Press.
Furst, L.R. 1969a. Romanticism. London: Methuen.
Furst, L.R. 1969b. Romanticism in Perspective: A Comparative Study of Aspects of the Romantic Movements in England, France and Germany. London: Macmillan.
Furst, L.R. 1979. The Contours of European Romanticism. London: Macmillan.
Furst, L.R. (red.). 1980. European Romanticism: Self-definition. London: Methuen.
Gleckner, R.G. & Enscoe, G.E. (reds.). 1970. Romanticism: Points of View. Englewood Cliffs, N.J.: Prentice-Hall.
Goethe, Johann Wolfgang von. 2024. [Potgooi met Melvyn Bragg]. Datum geraadpleeg: 14 Julie 2024.
Halsted, J.B. (red.). 1965. Romanticism: Definition, Explanation and Evaluation. Boston, MA.: Heath.
Hepworth, B. (red.). 1978. The Rise of Romanticism: Essential Texts. Manchester: Carcanet Press.
Hill, J.S. (red.). 1977. The Romantic Imagination. London: Macmillan.
Holmes, Richard. 1974. Shelley: The Pursuit. London: Weidenfeld and Nicolson.
Kaiser, D. 1999. Romanticism, Aesthetics and Nationalism. Cambridge: Cambridge University Press.
Kannemeyer, J. C. (1984). Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1 dbnl (2de druk). Pretoria: Academica.
Keats, John. 2024a. The Harvard Keats Collection. Datum geraadpleeg: 14 Julie 2024.
Keats, John. 2024b. The Keats Letters Project online. Datum geraadpleeg: 14 Julie 2024.
Keats Family Books. Datum geraadpleeg: 14 Julie 2024.
Kelly, G. 1985. “This Pestiferous Reading”: The Social Basis of Reaction Against The Novel in Late Eighteenth-and Early Nineteenth-Century Britain. Man and Nature / L”homme et la nature, 4, 183–194.
Linkin, Harriet Kramer and Stephen C. Behrendt (reds.). 1999. Romanticism and Women Poets: Opening the Doors of Reception. Lexington: University of Kentucky.
Meihuizen, Nicholas. 2024. Romantic Daemons in the Poetry of Blake, Shelley and Keats: Beyond the Human. Nottingham: Cambridge Scholars.
New, W. H. and W. E. Messenger (reds.). 1994. Literature in English. Scarborough, Ont.: Prentice Hall.
Nicholls, Angus. 2006. Goethe’s Concept of the Daemonic: After the Ancients. Rochester, NY: Camden House.
O’neill, Michael, Anthony Howe and Madeleine Callaghan (reds.). 2017. The Oxford Handbook of Percy Bysshe Shelley. Oxford: Oxford University Press.
Powell, A.E. 1962. The Romantic Theory of Poetry. New York: Russell & Russell.
Praz, M. 1954. The Romantic Agony. London: Oxford University Press.
Pringle, Thomas. 1989. African Poems. M. Chapman and E. Pereira (eds.). Pietermaritzburg: Natal University Press.
Rabine, Leslie. 1977. Feminist Writers in French Romanticism. Studies in Romanticism 16, no.4: 491-507.
Raine, Kathleen. 1969. Blake and Tradition. 2 vols. Princeton, NJ: Princeton University Press.
Redfield, Marc. 2007. Aesthetics, Theory, and the Profession of Literature: Derrida and Romanticism. Studies in Romanticism 46, no.2: 227-246.
Romanticism in Europe and the Americas. Datum geraadpleeg: 15 September 2024.
Romanticism in France. Datum geraadpleeg: 15 September 2024.
Romanticism in Germany. Datum geraadpleeg: 15 September 2024.
Romantiek, in: Algemeen Letterkundig Lexicon, DBNL, 2024. Datum geraadpleeg: 17 Februarie 2025.
Romantiek in Nederland | Literatuurgeschiedenis. (n.d.). Datum geraadpleeg: 17 Februarie 2025.
Schenk, H.G. 1979. The Mind of the European Romantics: An Essay in Cultural History. Oxford: Oxford University Press.
Shelley-Godwin Archive. 2024. Geredigeer deur Neil Fraistat, Elizabeth Denlinger en Raffaele Viglianti. Datum geraadpleeg: 14 Julie 2024.
Silva, Eva. 2022. German Romanticism: A Revolt Against Capitalism and Progress. TheCollector.com, May 19, 2022. Datum geraadpleeg: 15 September 2024.
Smith, L.P. 1943. Four Romantic Words. Datum geraadpleeg: 15 September 2024.
Vaughan, W. 1978. Romantic Art. London: Thames & Hudson.
Voss, Tony. 2012. Roy Campbell’s ”Mazeppa”, English Studies in Africa, 44(2), pp. 19–39. doi: 10.1080/00138390108691303.ell.
Wellek, R. 1955a. A History of Modern Criticism. Vol. I: The Later Eighteenth Century. Londen: Cape.
Wellek, R. 1955b. A History of Modern Criticism. Vol. II. The Romantic Age. London: Cape.
Wellek, René. 1964. German and English Romanticism: A Confrontation. Studies in Romanticism 4, no.1: 35-56.
Wolfson, Susan J. 1997. Formal Charges: The Shaping of Poetry in British Romanticism. Stanford: Stanford University Press.
Wolfson, Susan and Peter Manning (reds.). 2012. The Longman Anthology of British Literature: The Romantics. Boston: Pearson.
Wordsworth, William. 2024. The Wordsworth Trust. Datum geraadpleeg: 07 April 2024.
Wright, Angela and Dale Townshend (reds.). 2016. Romantic Gothic: An Edinburgh Companion. Edinburgh: Edinburgh University Press.
Wu, Duncan (red.). 1997. Romantic Women Poets: An Anthology. Chichester: Wiley-Blackwell.
Wu, Duncan (red.). 2012. Romanticism: An Anthology. Chichester: Wiley-Blackwell.
Raadpleeg ook
De Deugd, C. 1966. Het metafysisch grondpatroon van het romantische literaire denken: De fenomenologie van een geestesgesteldheid. Groningen: J.B. Wolters.
Wellek, R. 1963. The concept of Romanticism in literary history. In: Wellek, René., & Nichols, S. G. (red.) Concepts of criticism: By Rene Wellek. New Haven: Yale University Press.