(Gepubliseer Desember 2024)
Ekopoësie kan beskou word as uitvloeisel van EKOKRITIEK, omdat albei kritiese dissiplines is wat die verhouding tussen mens en natuur ondersoek aan die hand van literêre skryf- en leespraktyke en die kultuurprodukte (tekste) van hierdie praktyke.
Ekopoësie fokus op die toepassing van die uitgangspunte van ekokritiek op poësie, met klem op die skep van gedigte. Daar bestaan dus klemverskille: Waar ekokritiek sigself bemoei met die teoretiese begronding en studie van die verhouding en interaksie tussen literatuur en die fisiese omgewing van die mens, fokus ekopoësie op die menslike aksie – spesifiek die skep van poësie – en die omgewing waardeur die poësie tot stand gebring word.

Die woord poësie is afkomstig van die Griekse woord poiesis, wat beteken “om te maak”. Ekopoësie kan gesien word as ’n aksie om die omringende tuiste, die aarde, in woorde uit te druk en op krities-kreatiewe wyse die raakpunte tussen kreatiewe skryf en ekologie te ontgin.
Die terme ecopoetry en ecopoetics word oorspronklik in ’n aantal kritiese tekste voorgestel, waaronder een van die belangrikste, Ecopoetry: A critical introduction (2002) deur J. Scott Bryson. In sommige kringe word daar ook van groen poësie gepraat, wat nie met die kategorie natuurpoësie verwar moet word nie.
Die internasionale webblad Ecopoetikon (2023) omskryf ekopoësie as “poetry written with engaged ecological and social consciousness”. Hulle meen “ecopoetry should be informed by a level of ecoliteracy, an awareness that we live within ecosystems and in reciprocal interaction with the more-than-human world”.Jonathan Skinner, stigter van die tydskrif ecopoetics, definieer ekopoësie soos volg:
“Eco” here signals – no more, no less – the house we share with several million other species, our planet Earth. “Poetics” is used as poesis or making, not necessarily to emphasize the critical over the creative act (nor vice versa). Thus: ecopoetics, a house making (Skinner, 2001:5).
Christopher Arigo beskryf ekopoësie as ’n ekotoon tussen dissiplines – tussen ekologie, poësie en etnopoëtika (s.j.). Ekotoon is ’n biologiese term wat gebruik word om die area tussen twee aangrensende ekosisteme/biome te beskryf, ’n area wat dikwels ’n grenseffek (die sogenaamde “edge effect”) tot gevolg het, wat die werklike grens tussen twee habitats aandui. Die tweede deel van die woord is afgelei van die Griekse woord tonos, wat “spanning” beteken; dit dui op die spanning tussen twee ekologiese sisteme. Daar word van die veronderstelling uitgegaan dat ekopoësie dikwels interdissiplinêr en op die grens van talle dissiplines optree, wat ’n spanning tot gevolg het met die dissiplines waardeur dit omring word. Arigo (s.j.) stel dit goed as hy sê: “A good ecopoem then is a house made founded on the tension between the cutting edge of innovation and ecological thinking.”
Steeds op soek na ’n raak definiëring, sê Skinner in ’n opvolgende artikel dat, eerder as om ’n tipe skryfwyse as ekopoëties te definieer, dit van groter waarde sal wees om na ekopoësie te kyk as ’n vorm van plekspesifiekheid, om te fokus op ’n verskeidenheid van praktyke en trope en topoi wat konvergeer by oikos, die planeet aarde (Skinner, 2016).
Uit bogenoemde pogings tot definisies kan die afleiding gemaak word dat ekopoësie dikwels geskied binne die ruimtes van innoverende eerder as hoofstroompoëtikas. Arigo (s.j.) sê: “Perhaps this is because innovative poetries are loci of resistance to mainstream poetic practices (and values) which presumably reflect larger social paradigms”. Die ekogedig is self-bewus van die feit dat dit ’n konstruksie is, en van die rol wat dit binne die konteks van die groter ekosisteem in die literatuur speel (Smith, 2012:510).
Sosiopolitieke kwessies, selfs op globale skaal, word aangespreek deur ekopoësie.’n Ekogedig is ’n gedig wat die interafhanklike konteks van alle dinge uitwys, wat op die rand van menslike betrokkenheid en/of vernietiging van skoonheid en die omgewing funksioneer, wat menslike ingryping in velerlei vorme aan die kaak stel – hetsy dit humanitêre vergrype, magsmisbruik en wanbestuur, vergrype aan kolonialisme, rassisme, klas- en rasgedrewe dominansie of vergrype aan en stroping van hulpbronne is. ’n Nuwe samehang en interafhanklikheid van alle dinge word as tema in die ekogedig ondersoek, ’n samehang wat wys op die saambestaan van skoonheid en nieskoonheid, wat inherente spanning in die teks blootlê en die romantiese sublieme (’n beweging uit die 18de eeuse literatuur wat gefokus het op die paradoksale ervaring van pyn wat met genot gepaard gaan), omkeer. In die ekogedig word die spanning uitgewys op die kruispunt waar menslike invloed en die vernietiging van skoonheid en natuur mekaar ontmoet. Hoe groter die ontwrigting en destruksie, hoe dieper is die gevoel van ’n nuwe sublieme.
’n Belangrike onderskeid wat getref moet word, is dié tussen natuurpoësie en ekopoësie. Arigo (s.j) wys daarop dat tradisionele natuurpoësie, waarin die mens-onderwerp mediteer oor die landskap/dier-voorwerp om toegang tot dieper betekenis in die mens-onderwerp se lewe te kry, problematies en simplisties is, veral gesien in die lig van die postmoderne wêreld waarin ons leef. Ekopoësie is nie noodwendig ’n terugkeer na die natuur nie, maar eerder ’n weerspieëling van die komplekse aard van die wêreld waarin ons leef. Die tradisioneel Westerse teenstelling tussen natuur en kultuur is inherent foutief, en dui op ’n benadering waarin daar nie rekenskap gegee word van die interafhanklike en wisselwerkende aard van alle sisteme nie, insluitend taal (as kultuurproduk) en die natuurlike omgewing.
Teen hierdie agtergrond is dit duidelik waarom pastorale poësie en landskap– of natuurpoësie nie ekwivalente vorme van poësie genoem kan word nie. Eersgenoemde term is op sigself reeds problematies: Sulke terme sou die verdeling stedelik teenoor platteland, gekultiveerd teenoor wild of ongerep, en tegnologie teenoor natuurlik bestendig, terwyl dit juis die taak van die ekopoëtika is om hierdie persepsies te verander. Ekopoësie wil die samehang van alle dinge aandui, beide menslik en niemenslik, lewend en nielewend. Dit wil hierdie verhouding verstaan en waardeer en verwoord; dit wil kommentaar lewer op die spanning in die verhouding waar mens en natuur ’n kruispunt bereik en die samehang gedestabiliseer word.
In Afrikaans word die werk van Johann Lodewyk Marais, Martjie Bosman, Dolf van Niekerk en Susan Smith as groen poësie beskou. Hulle sluit aan by die ouer tradisie van natuurpoësie, maar verskil daarvan, omdat dit bewus is van die samehang tussen mens en ekologie. ‘n Onderskeidende kenmerk van ekopoësie is egter dat dit nie louter belangepoësie is nie, maar die mens se verhouding met die niemenslike vreemdmaak en destabiliseer (Fourie, 2016:59).
Susan Smith
Bibliografie
Arigo, C. s.j. Notes toward an ecopoetics: Revising the postmodern sublime and Juliana Spahr’s This connection of everyone with lungs. how2, 3(2). Geraadpleeg: November 2017.
Bryson, J.S. (red.). 2002. Ecopoetry: A critical introduction. Salt Lake City: The University of Utah Press.
Ecopoetikon; global ecopoetries. 2023. Ecopoetikon. Geraadpleeg: 10 Desember 2024.
Skinner, J. 2001. Editor’s Statement. ecopoetics, 1:5–9.
Skinner, J. 2016. Commentary: Ecopoetics. Jacket2. Geraadpleeg: 26 Mei 2017.
Fourie, R. 2016. Is ekopoësie te maklik bloot belangepoësie? “Naggesig” (Dolf van Niekerk) en “quinera” (Susan Smith) in oënskou geneem. Stilet : Tydskrif van Die Afrikaanse Letterkundevereniging, 28(1), 45–63. https://doi.org/10.10520/EJC-7c6171dfb
Smith, S. 2012. Die aard van ekopoësie teen die agtergrond van die ekokritiese teorie met verwysing na enkele gedigte van Martjie Bosman. LitNet Akademies, 9(2):500–523. Geraadpleeg: 20 Julie 2017.