ELEKTRONIESE LITERATUUR

(Gepubliseer Februarie 2023)

Elektroniese literatuur, ook bekend as digitale literatuur, kan beskryf word as nuwe vorme en genres van skryf wat die kenmerkende moontlikhede van die rekenaar en netwerk ondersoek en wat nie moontlik sou kon wees sonder die kontemporêre digitale konteks nie (Rettberg, 2019:2). Meer spesifiek gestel, behels dit werk met ‘n noemenswaardige literêre aspek wat die instaatstellingsmoontlikhede en kontekste van (genetwerkte) rekenaars en programmeerbare media verken (Hayles, 2008:3; Rettberg, 2019:4). Elektroniese literatuur vertoon ‘n multimodale, hibriede en interdissiplinêre karakter, en kan geplaas word tussen ‘n aantal verwante praktyke, waaronder letterkunde, kunspraktyk, rekenaarwetenskap en opvoering (performance) (Rettberg, 2019:88; Hayles 2008:4). Verder word elektroniese literatuur beïnvloed deur kragte van die eietydse kultuur, soos rekenaarspeletjies, films, animasies, digitale kuns, grafiese ontwerp en elektroniese visuele kultuur (Hayles, 2008:4). Een van die sentrale verskille tussen elektroniese en gedrukte literatuur is juis dat taal dikwels nie die enigste, of self die dominante, wyse van kommunikasie in elektroniese literatuur is nie (Rettberg, 2019:14).

Die aard van elektroniese literatuur

Elektroniese literatuur is baie divers en strek oor alle genres wat met drukliteratuur vereenselwig word tot genres wat uniek aan genetwerkte en programmeerbare media is (Hayles, 2008:6). Tegniese uitvindings en kommunikasietegnologieë het deur die eeue die medium, formaat, vorm, styl en inhoud van skryfwerk, asook die gepaardgaande leserverwagtinge, beïnvloed (Rettberg, 2014:171). Lesers kom na digitale werk met verwagtinge wat deur die drukkuns beïnvloed is, insluitende ‘n uitgebreide en diep versweë kennis van lettervorms, drukkonvensies en drukliteratuur (Hayles, 2008:4) – verwagtinge wat in die nuwe konteks op verskeie vlakke uitgedaag word. In die digitale omgewing het kommunikasietegnologieë onder meer bygedra tot die kenmerkende eienskappe van elektroniese literatuur soos multimodaliteit, onstabiliteit, vloeibaarheid en ‘n andersoortige rol vir die leser. Waar die vroeëre elektroniese literatuurwerke op die web byvoorbeeld groot ooreenkomste met drukliteratuur vertoon het, en hoofsaaklik uit blokke teks (leksias) met beperkte grafika, animasie, kleur en klank, bestaan het (Hayles, 2008:6), bied die ontwikkelende tegnologie nou aan skrywers ‘n volledige reeks opsies om verskeie modaliteite te kombineer, te verander en uit te voer – moontlikhede wat nie in analoogmedia gerealiseer kan word nie (Rettberg, 2019:13). Teenoor die permanente en stabiele aard van druktekste, vertoon elektroniese tekste ‘n tydelike, onstabiele en dinamiese karakter. Die veranderlike en transformatiewe aard van digitale media het onder andere tot gevolg dat nuwemediaprodukte as prosesse, gesprekke of projekte beskou word eerder as werke in die konvensionele literêre sin, en dat die rol van die gebruiker of leser ook ingrypend verander het (Miller, 2011:30; Rettberg, 2019:7).

Afhangende van die betrokke werk en gepaardgaande konteks, kan die leser van elektroniese literatuur byvoorbeeld gevra word om benewens die woordteks, ook beelde, klanke, musiek, koppelvlak-interaksie, ontwerp, uitleg, ruimtelike situering, tydelikheid en dalk selfs kode (programmeringstaal), te lees en te interpreteer (Rettberg, 2019:13), asook om op verskeie wyses ‘n deelnemer aan die skeppingsproses te wees.

Vir Hayles (2008:5) berus die onderskeid tussen elektroniese en druktekste daarin dat toegang tot eersgenoemde slegs verkry kan word indien dit deur ‘n behoorlik uitgevoerde rekenaarkode verwesenlik is. In die geval van druktekste word die teks as ‘n “eenheid” geberg en smelt die berging en opvoering in dieselfde voorwerp saam – wanneer ‘n boek toegemaak is, funksioneer dit as ‘n bergingsmedium en wanneer dit oopgemaak word as ‘n opvoeringsmedium (Hayles, 2008:164). Hierteenoor is die elemente van ‘n digitale werk verspreid deurdat dit op verskillende plekke en wyses gestoor word, byvoorbeeld by wyse van datalêers en opdragte, programmatuur wat die opdragte uitvoer, en hardeware waarop die opdragte uitgevoer word. ‘n Digitale literatuurwerk kom eers tot stand sodra dit op die een of ander wyse “geaktiveer” word en al die elemente in die uitvoering saamgevoeg word sodat dit deur die leser gelees of ervaar kan word (Fletcher, 2015: 20; Hayles, 2006:182). Vir hierdie uitvoering is ‘n rekenaarprogram (in Hayles 2008:5 se woorde: “properly executed code”) noodsaaklik. Daarsonder kan ‘n digitale werk nie verstaan word nie. Die verweefdheid van werk en kode (programmatuur) is fundamenteel vir die verstaan van elektroniese literatuur, en veral om die spesifisiteit daarvan as ‘n literêre en tegniese produksie te waardeer (Hayles, 2008:5).

In Noord- en Suid-Amerika, Engeland, Skandinawië en Europa is elektroniese of digitale literatuur as konsep en navorsingsterrein gevestig (al bly dit ‘n randverskynsel) en word dit deur vakverwante organisasies, inisiatiewe en publikasies bevorder. In ander wêrelddele is dit egter ‘n betreklik onbekende konsep. Die belangstelling in en skepping van elektroniese literatuur in verskillende wêrelddele, en die aanvaarding daarvan as ‘n nuwe literatuurvorm, is afhanklik van die beskikbaarheid van tegnologie, en word ook beïnvloed deur die kulturele agtergrond en diverse kontekste soos die politiek en die ekonomie (Di Rosarioa, Grimaldi & Mezac, 2021).

Soorte digitale literatuur

Die geskiedenis van elektroniese literatuur is onlosmaaklik gekoppel aan die geskiedenis van rekenaars, netwerke en die sosiale aanvaarding daarvan (Flores, 2019), soos ook blyk uit pogings tot die klassifisering van digitale literatuur. Volgens ‘n klassifikasie wat wyd gebruik word, word elektroniese literatuur verdeel in algemene periodes en drie generasies. Alhoewel hierdie indeling veral verband hou met die ontwikkeling van digitale literatuur in Noord-Amerika en die werksaamhede van die Electronic Literature Organization (ELO), bied dit ‘n oorsig oor die breër veld en die tegnologiese ontwikkeling waarteen plaaslike ontwikkelings gepeil of verstaan sou kon word. Die 1ste-generasie- elektroniese literatuur (Hayles, 2008:7), wat as pre-webeksperimentering met elektroniese en digitale media beskou kan word (Flores, 2019), behels die sogenaamde argaïese tydperk of klassieke elektroniese literatuur (1959-1995) (Funkhouser 2007). ‘n Tydperk wat daarmee oorvleuel (1980-1996) is deur alleenstaande narratiewe hipertekste gedomineer en deur werk wat in die vorm van rekenaardiskette en CD-ROMS versprei is. Kombinatoriese poëtika word as die oudste vorm van elektroniese literatuur beskou, en een van die eerste voorbeelde van ‘n rekenaarprogram wat gebruik is om literêre tekste te skep, is Christopher Strachey se Love Letters-genereerder (generator) (1952) (Rettberg, 2019:20). Klassieke voorbeelde van hiperteksfiksie wat in die hiperteks-outeursprogram, Storyspace, geskep is, is afternoon: a story (Michael Joyce – 1990), Victory Garden (Stuart Moulthrop – 1995) en Patchwork Girl (Shelly Jackson – 1995) (Hayles, 2008:6).

Die tweede generasie (Hayles, 2008:7), vanaf 1995, word vereenselwig met die opkoms van die wêreldwye web, en word gedomineer deur webwerke met doelgemaakte koppelvlakke (Flores, 2019) wat op rekenaarskerms en tabletrekenaars vertoon word. Die fase word verder gekenmerk deur die ontwikkeling van platforms; die gebruik van programmatuur soos Flash en Shockwave; die toenemende gebruik van multimedia en vorme soos animasie, kinetiese poësie en klank; interaktiewe fiksie (IF) met sterker speletjie-elemente; eksperimentering met tasbare drie-dimensionele ruimte, soos plekspesifieke installasies en lokatiewe literatuur; en die ontwikkeling van CAVE virtuele realiteit (Hayles, 2008:5-12). Die verspreiding van 2de-generasie-e-literatuur het hoofsaaklik plaasgevind deur die oop web, outeursbladsye, webgebaseerde “zines’, versamelings, en ander media. Hierdie fase word verder gekenmerk deur die groeiende belangstelling in elektroniese literatuur, en die bydrae van die akademie, wat, deur kursusse, aanbiedings, uitstallings en kongresse, tot die groei van die veld gelei het (Flores, 2019).

Die sogenaamde derde generasie (Flores, 2019), vanaf 2005 tot die hede, maak gebruik van gevestigde platforms met massiewe gebruikersbasisse, soos sosiale medianetwerke, programmatuur, mobiele en raakskermtoestelle en toepassingsprogrammeerkoppelvlakke (TPK’s of API’s in Engels). Die derde generasie bestaan saam met die vorige generasies, en is verantwoordelik vir grootskaalse digitale werk wat vervaardig word deur, en vir, hedendaagse gehore wat as digitale burgers beskou kan word (Flores, 2019). Vir Flores (2019) berus die grootste verskil tussen die 2de- en 3de-generasies-e-literatuur daarin dat die 2de-generasie-e-literatuur sigself vereenselwig met die literêre tradisie wat deur die wêreld van die drukmedia en kunswêreld gevorm is, terwyl die 3de-generasie-e-literatuur, wat betref sy formate en publikasiemodelle, met die elektroniese en digitale media identifiseer, en video en interaktiewe werk produseer wat as videospeletjies en ander vorme van digitale inhoud gepubliseer kan word.

Hoewel elke generasie eiesoortige kenmerke en vorme vertoon wat veral met tegnologiese ontwikkeling verband hou, beteken dit nie dat vorme van vorige generasies nie meer geskep word nie. Tegnologiese ontwikkeling maak dit ook moontlik om eksperimentele werk uit vroeëre fases in verskeie formate te laat herleef. Flores (2019) toon byvoorbeeld aan dat heelparty elektroniese-literatuurgenres wat in die sogenaamde eerste en tweede generasies ontstaan het – soos botte, elektroniese en video-poësie, hiperteksfiksie, mobiele en lokatiewe werke, virtuele werklikheid en aangevulde werklikheid – in die derde generasie in nuwe gedaantes herleef, soos byvoorbeeld in die vorm van Twitter-botte, Twine-speletjies, Instagram-poësie, GIFS en beeldmakro-memes. Die voortbouing op vorige en eietydse tegnologieë, toegang en gehore, lei tot die ontwikkeling van werke en poëtika kenmerkend van die betrokke tydperk (Flores, 2019). Nick Montfort se welbekende natuurgedig “Taroko Gorge” (2009) waarvoor hy ‘n “poësiegenereerder” geprogrammeer het, kan volgens Flores (2019) as 2de-generasie-e-literatuur beskou word, terwyl die tientalle verwerkings, hermengings en parodieë daarvan, eerder as 3de-generasiewerke beskou word omdat die skrywers nie ‘n nuwe vorm ontwikkel nie, maar, deur van Montfort se bronkode gebruik te maak, ‘n bestaande werk aanpas en appropieer. In die geval van “Taroka Gorge”, het ‘n prosedureel-genenereerde gedig ontwikkel in ‘n steeds groeiende platform vir poëtiese spel (Boluk, et al. 2016). (Hierdie interessante projek en die talle aanpassings daarvan is beskikbaar by: https://nickm.com/taroko_gorge/)

Rettberg (2019) steun in sy werk, Electronic Literature, op ‘n genre-gedrewe benadering om die korpus van elektroniese literatuur binne die historiese, tegnologiese en kulturele kontekste te situeer. Soos Hayles (2008), beklemtoon Rettberg (2019:3, 6) dat elektroniese literatuur nie eksklusief van digitale tegnologie afstam nie, maar besonder hegte verbande vertoon met die eksperimentele skryfwerk en avant garde-kunsbewegings van die twintigste eeu. In Electronic Literature bespreek hy vervolgens kenmerkende genres elektroniese literatuur met verwysing na 20ste-eeuse literêre en avant garde-bewegings, die kontekste van tegnologiese ontwikkeling, en kenmerke van die tegnologieë wat deur die werke gebruik word. ‘n Hoofstuk elk word aan die vyf kerngenres afgestaan, naamlik kombinatoriese poëtika (combinatory poetics), hiperteksfiksie, interaktiewe fiksie en ander spelagtige (gamelike) vorme, kinetiese en interaktiewe poësie, en netwerkskryfwerk. Uiteenlopende strominge word in ‘n bykomende hoofstuk bekendgestel, waaronder lokatiewe narratiewe, digitale literêre installasies, virtuele- en aangevuldewerklikheidnarratiewe, asook interaktiewe en kombinatoriese kinema. Rettberg (2019:8) beklemtoon egter dat genres – soos wat die literatuurstudie geleer het – nie vaste of onveranderlike grense het nie, en as situasie-raamwerke, eerder as onveranderlike kategorieë, beskou moet word. Die vervaging van genres en die beweging van konvensies en idees tussen genres is kenmerkend van baie soorte elektroniese literatuur (Rettberg, 2019:117). Die kombinasie van digitale en analoogtegnologie is byvoorbeeld nie vreemd aan elektroniese literatuur nie.

Histories bestaan daar ‘n hegte verband tussen elektroniese literatuur en die digitale humaniora (d.w.s. die gebruik van informasietegnologie vir navorsing op die terrein van die menswetenskappe). Elektroniese literatuur kan, deur die veld se eksperimentering met die skep van nuwe vorme eie aan die digitale omgewing, as digitalehumaniora-praktyk beskou word (Grigar, 2021:1; Rettberg, 2015:127). Beoefenaars van, en navorsers in, elektroniese literatuur bevind hulle dikwels in interdissiplinêre omgewings, terwyl die onderrig van elektroniese literatuur in diverse omgewings soos mediastudies, beeldende kunste, rekenaarwetenskap en letterkunde plaasvind.

Elektroniese literatuur in Afrikaans

Soos uit die voorafgaande blyk, word elektroniese literatuur in verskeie kontekste beoefen en bestaan daar ‘n besondere groot verskeidenheid genres en vorme van elektroniese literatuur wat met kenmerkende tegnologieë, gemeenskappe, gehore en teoretiese raamwerke vereenselwig word. Die meeste werk wat in die omvangryke digitale en medialandskap ontstaan en ontwikkel, word egter nie deur skeppers en gebruikers daarvan as elektroniese literatuur geëien nie, terwyl dit wel as sodanig beskou en bestudeer sou kon word. Projekte en uitstallings waarin woord- en beeldende kuns gekombineer is, lei meermale tot werk wat as digitale literatuur geag sou kon word, soos wat volgende plaaslike voorbeelde illustreer:

Die Filmverseprojekte van die ATKV (2014-2016) wat deur die animasiekunstenaar, Diek Grobler, geïnisieer is en wat onder andere as visuele bloemlesings en digkunsanimasie-projekte beskryf is, bestaan uit kort animasiefilms waarin Afrikaanse gedigte deur kunstenaars geïnterpreteer is (Cronjé & Meyer, 2015; Van Dyk, 2016). Die werk is op verskeie wyses vertoon, waaronder as installasies by kunstefeeste en vertonings by filmfeeste, en is ook in DVD-formaat versprei. Ander werk van Diek Grobler wat hy in samewerking met verskeie digters, skrywers, musikante en akteurs onderneem het, sluit in Parys suite met gedigte deur Carina van der Walt (Grobler, 2021). Hierdie werk is onder andere vertoon by die Tuin van Digters 2018, Breytenbachsentrum, Wellington, waar die vertoning gepaard gegaan het met ‘n uitstalling van kunswerke en artefakte uit die film en twee digbundels in ‘n beperkte oplaag (Grobler, 2021).

Die installasie, “Vlugskrifte uit ‘n onverklaarde oorlog”, deur die visuele kunstenaar, Ben Botha, en die digter, Bernard Odendaal, was deel van die uitstalling ALLOOI: Tweegesprek tussen woord en beeld (Volksblad-kunstefees, 2009, Woordfees 2010). In genoemde werk is die beperkte aantal letters van SMS-boodskappe gebruik vir SMS-haikoes wat op misdaadberigte in Volksblad gebaseer is, en wat saam met beeldmateriaal op die skerms van gemonteerde selfoonpare vertoon is (Odendaal, 2021:118-119).

Oor die einders van die bladsy (Woordfees 2010; NWU 2010; UJ 2010), ‘n interdissiplinêre ondersoek na die kunstenaarsboek, het onder andere aanleiding gegee tot Fanie Viljoen se eksperimentering met sosialemediaplatforms soos Facebook en Yoza Mobi vir die publikasie van sy grafiese verhaal, Pynstiller, wat as kunstenaarsboek in die projek geskep is (Greyling, 2012). Die publikasie op genoemde platforms en die gepaardgaande wisselwerking in die aanlyngemeenskap, kan as ‘n voorbeeld van 3de-generasie-e-literatuur (Flores, 2019) beskou word.

‘n Projek wat van meet af aan as digitale literatuur gekonseptualiseer is, is Byderhand (2015-2020), ‘n interdissiplinêre praktykgebaseerde navorsingsprojek oor lokatiewe literatuur (plekspesifieke digitale literatuur) onder leiding van die vakgroep Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit. Die projek was deel van die Woordkunsprogram by die Aardklop Nasionale Kunstefees 2015 en het bestaan uit vier subprojekte – Tuinverse, Rusplekstories, Taxistrips en ‘n Dwaalverhaal – wat op verskillende teikengehore gerig was, en waarin met verskillende genres, formate en media geëksperimenteer is (Greyling, 2017). Die werk word versprei deur middel van QR-kodes wat aangebring word op die spesifieke plekke waarmee die werk verband hou. Hier kan leser-deelnemers, deur die kodes met hulle selfone te skandeer, toegang tot die werk op die internet verkry en dit lees, bekyk en beluister.

Foon, kode en kaart

Byderhand Tuinverse in die NWU-Botaniese Tuin: Selfoon, QR-kode en kaart. Fotograaf: Franci Greyling. (CC BY-NC-SA)

‘n Voortsetting van die projek is die Byderhand-Pionierprojek (2017-2020) te Worcester. Genoemde projek wat onder andere ‘n installasie as deel van ‘n multisensoriese tuin op die skoolterrein van die Pionierskool behels, is in samewerking met die skool en persone met siggestremdheid onderneem en is toeganklik vir siggestremde persone. Die toeganklikheid is onder andere moontlik gemaak deur ‘n multimodale koppelvlak bestaande uit ‘n kombinasie van tasbare, ouditiewe en grafiese koppelvlakke. Die Byderhand-Pionierprojek kan beskou word as ‘n voorbeeld van toegepaste elektroniese literatuurstudie (Ensslin, 2019; Greyling, Verhoef & Tempelhoff, 2020).

 As deel van ‘n oorkoepelende interdissiplinêre navorsingsprojek onder leiding van Imke van Heerden oor kunsmatige intelligensie (KI), kreatiwiteit en literêre teorie – getiteld AI as Author: Bridging the Gap Between Computational Creativity Techniques and Literary Theory (2020–2023) – is ‘n generatiewe taalmodel, AfriKI (Afrikaanse Kunsmatige Intelligensie), ontwikkel. Die projekspan stel belang in ‘n spesifieke subdomein van KI naamlik natuurliketaalgenerering, of ’n rekenaar se skryfvermoë, en het die model gebruik om “Afrikaans se eerste KI-gedigte” te skep (Van Heerden & Bas, 2021; Van Heerden, 2022). Etienne van Heerden se roman, Die biblioteek aan die einde van die wêreld (2019), is as datastel gebruik. Die skeppingsproses van die gedigte het behels dat AfriKI bladsye individuele frases (masjiengeproduseerde versreëls) gegenereer het, waaruit Imke van Heerden frases gekies het en gediggies saamgestel het – ‘n doelbewuste toepassing van menslike logika en kreatiwiteit wat as “KI-geassisteerde skryfwerk” of “ko-kreatiwiteit” verstaan kan word (Van Heerden, 2022). Die resultaat van die samewerkende skryfstelsel is kort gediggies wat inspirasie put uit die literêre bewegings Imagisme en Surrealisme (Van Heerden & Bas, 2021). Hulle is gebundel as Silwerwit in die soontoe: Afrikaans se eerste KI-gedigte (2023).

Voorblad Silwerwit
Voorblad van Silwerwit in die soontoe: Afrikaans se eerste KI-gedigte deur Imke van Heerden, met Anil Bas en Etienne van Heerden, Naledi, 2023 (CC BY-NC-ND).

Hulpbronne en moontlikhede

Elektroniese literatuur maak reeds sedert die vroeë dae van rekenaars van kunsmatige intelligensie gebruik. “ELIZA” deur Joseph Weizenbaum (1964-1966), een van die eerste KI-sisteme wat natuurliketaalverwerking (NLP) gebruik het, word beskou as die voorloper van kletsbotte (chatbots/chatterbots). Dit is ook een van die vroegste voorbeelde van KI in elektroniese literatuur (Flores 2021:132; Rouch 2023). ‘n Interessante gegewe is dat die skrywer JM Coetzee ook in die vroeë sestigs by literêre eksperimentering met skryfmodelle en gespreks- en interaktiewe agente betrokke was; hy het onder andere gedigte geskryf wat as ‘n vorm van “ko-kreatiwiteit” verstaan sou kon word (Roach 2019:320-321). Mettertyd is kletsbotte (gespreks-KI-toepassings) en ander KI-algoritmes op verskeie maniere in elektroniese literatuur aangewend, onder meer vir generatiewe teks, interaktiewe narratiewe, personalisering, natuurliketaalgenerering en multimedia-integrasie. Die bekendstelling van kragtige en gesofistikeerde natuurliketaalverwerkingsmodelle in 2022, soos die KI-modelle wat deur OpenAI ontwikkel is (die algemene taalmodel GPT-3, die gesprektoepassing ChatGPT en die beeldgenereerder DALL-E), en wat onder andere teks, klank, prente, video en rekenaarkodes kan genereer, sal die ontwikkeling van elektroniese literatuur op verskeie wyses kan beïnvloed.

Die ontwikkeling en toenemende beskikbaarheid van soortgelyke generatiewe KI-algoritmes en die integrasie daarvan met bestaande websoekenjins, platforms en programmatuur, bied aan “gewone” gebruikers skeppende moontlikhede wat tot dusver slegs deur mense met spesifieke programmeringsvaardighede ontgin kon word. Soos in die verlede, sal die ontwikkeling van elektroniese literatuur egter ook beïnvloed word deur die ontwikkeling van tegnologie op ander terreine, die kreatiwiteit en visie van e-literatuur-skrywers en -skeppers, asook skrywers en skeppers se aanvaarding of bevraagtekening van of verset teen die implementering van KI en ander tegnologieë in die samelewing.

Aangesien bestaande literêre en narratologiese raamwerke nie voldoende is vir die interpretasie van die elektroniese literatuur nie, bestaan daar ‘n behoefte aan nuwe raamwerke wat voorsiening kan maak vir die talle innovasiemoontlikhede wat digitale media bied (Hayles, 2008:5). ‘n Seminale teks oor elektroniese literatuur (wat dikwels aangehaal word), is Espen J. Aarseth se Cybertext: Explorations of Ergodic Literature (Hayles, 2008:33). Ergodiese tekste – wat ook kunswerke en tekste in drukformaat kan insluit – verg heelwat inspanning van die leser, o.a. om te verstaan hoe om deur die teks te “beweeg”, voordat enige soort interpretatiewe lees kan plaasvind (Rettberg, 2019:2). “Die ergodiese kunswerk is een wat in ‘n materiële sin die reëls vir eie gebruik insluit, ‘n werk wat sekere vereistes ingebou het wat outomaties onderskei tussen suksesvolle en onsuksesvolle gebruikers” (Aarseth, 1997:179; eie vertaling). Elektroniese literatuur verwag as’t ware van ‘n leser of gebruiker om die werk deur die digitale apparatus ontdekkend te ervaar, wat gevolglik die medium deel van die literêre ervaring maak. Die multimodale en dinamiese aard van die genre is integraal in leesbenaderings soos Mediaspesifieke analise (MSA) (Hayles, 2008), waar die medium van oordrag nie as vanselfsprekend aanvaar moet word nie en die wyse waarop die inhoud van die teks in wisselwerking tree met sy bestaan as materiële voorwerp, voorop staan (Heckman, 2021), en opvoering en performatiwiteit as konseptuele gereedskapstukke waar die hele “apparatus van digitale literatuur” in ag geneem word (Fletcher, 2015; Greyling, 2019).

Die vloeibare aard van digitale media (Hayles, 2008:39), en die tydelike, onstabiele aard en dinamiese tekstualiteit van digitale literatuur, beïnvloed alle aspekte van die literêre sisteem – vanaf die skepping, produksie, ontvangs en resepsie van werk, tot by aangeleenthede soos argivering en kanonisering. Die eksponensiële ontwikkeling van tegnologie bring mee dat tegnologiese platforms vinnig uitgedien raak en dat werke om verskeie redes ontoeganklik kan raak. Die dokumentering, versameling en argivering van digitale werke dien as ‘n vorm van bestendiging van dié voortdurend veranderende genre.

Die interdissiplinêre en eksperimentele karakter van digitale literatuur en die kombinasie van teoretiese besinning en skeppende werk, is kenmerkend van kongresse, werkswinkels, projekte en publikasies in die veld.

Die toonaangewende organisasie in die veld is die Electronic Literature Organisation (ELO), ‘n niewinsgewende organisasie wat in 1999 in Chicago, Illinois gestig is om die skryf, publikasies, en lees van elektroniese literatuur te fasiliteer. Die organisasie is nou teenwoordig in Noord-Amerika, Suid-Amerika, Asië, Australië en Afrika. Werksaamhede sluit in ‘n jaarlikse kongres en mediakunsfees, die samestelling en publikasie van boekreekse en van oopbronversamelings en kennisbasisse van elektroniese literatuur, en die oorsig oor digitale argiewe en prominente digitale gemeenskappe (ELO:2021).

Die Electronic Literature Knowledge Base (ELMCIP), ‘n inisiatief van ELO, is ‘n navorsingsbron vir elektroniese literatuur en verskaf kruisverwyste, gekontekstualiseerde inligting oor skrywers, kreatiewe werk, kritiese skryfwerk, platforms, en praktyke. Die kennisbron is ontwikkel deur die Elektroniese Literatuur-navorsingsgroep aan die Universiteit van Bergen.

Die Electronic Literature Collection (ELC), ‘n insiatief van ELO, is ‘n poging om innoverende werk van hoë kwaliteit te versamel en aan ‘n wyer gehoor beskikbaar te stel (Hayles, 2008:40). Daar is reeds vier versamelings beskikbaar – 2006, 2011, 2016 en 2022. Die 2022-versameling maak spesifiek voorsiening vir gelykheid, diversiteit en insluiting, en 132 literêre werke van 42 skrywernasionaliteite in 31 tale is in die versameling opgeneem.

The NEXT, ‘n inisiatief van ELO, is ‘n virtuele ruimte wat dien as ‘n multimodale museum, biblioteek, argief en bewaringsomgewing om die langtermyntoeganklikheid van gebore-digitale literêre werke te verseker en sodoende die skryf, publisering en lees van literatuur in elektroniese media te fasiliteer en te bevorder. Die formaat van die virtuele ruimte is ook ‘n reaksie op die groeiende behoefte aan oop-toegang, reisvrye kulturele- en navorsingservarings vir die publiek en navorsers.

Die Consortium on Electronic Literature (CELL) bied gesentraliseerde toegang tot literêre databasisse, argiewe en institusionele programme in die literatuurwetenskap en geesteswetenskappe.

Scott Rettberg bied in Electronic Literature (2019:14-17) ‘n oorsig oor die belangrikse kritiek en teoretiese en analitiese werk wat sedert die 1990’s verskyn het. Hayles se werk, Electronic Literature: New Horizons for the Literary (2008), word allerweë as ‘n grondleggende publikasie in die veld beskou. Benewens monografieë oor algemene konsepte, gespesialiseerde subtemas, individuele genres van elektroniese literatuur, of gefokuste teoretiese beanderings, het geredigeerde versamelings daartoe bygedra het om die veld van elektroniese literatuur te vestig. Geredigeerde versamelings bied ‘n goeie oorsig oor die ontwikkeling van die veld, diverse genres en benaderings. The Bloomsbury Handbook of Electronic Literature, geredigeer deur J. Tabbi (2018), bied ‘n oorsig oor benaderings en debatte wat die veld in die 2010’s gedefinieer het; The Johns Hopkins Guide to Digital Media, geredigeer deur Ryan, Emerson en Robertson (2014), plaas elektroniese literatuur in ‘n omvattender digitale kutuurkonteks; Electronic Literature as Digital Humanities: Contexts, Forms and Practices (2021) behandel elektroniese literatuur vanuit die perspektief van digitale humaniora. Laasgenoemde boek is ook as ‘n ooptoegang-aanlynpublikasie beskikbaar.

Die voordele en moontlikhede van die beoefening, lees en bestudering van elektroniese literatuur is velerlei. Elektroniese literatuur kan ons help om te verstaan hoe digitale tegnologieë en digitale kultuur skryfwerk in die wydste sin beïnvloed; help bou aan ‘n kollektiewe begrip van die kreatiewe moontlikhede van digitale media; en benaderings leer vir die lees en skryf van digitale media (Rettberg, 2019:17-18). As voorwerpe van studie en as prosesse van kreatiewe produksies, kan werke van elektroniese literatuur gebruik word vir die onderrig van digitale mediavaardighede, interaktiewe mediastrategieë, en nuwe maniere om digitale kultuur te verstaan (Rettberg, 2019:18). Ten slotte bied die bestudering van elektroniese literatuurwerke die geleentheid vir besinning oor ons situasie in ‘n wêreld wat toenemend deur digitale tegnologie bemiddel word, en die radikale en verreikende gevolge van die digitale wending op die aard van letterkunde, kommunikasie, tekstualiteit, gemeenskap, en selfs die struktuur van menslike denke (Rettberg, 2019:18).

 

Franci Greyling

 

BIBLIOGRAFIE

Aarseth, E. J. 1997. Cybertext: Explorations of Ergodic Literature. Baltimore: John Hopkins University Press.

Cronjé, N. & Meyer, N. 2015. ATKV se Filmverse by die South African Book Fair 2015. https://www.litnet.co.za/atkv-se-filmverse-by-die-south-african-book-fair-2015/ [15 Januarie 2021]

Di Rosario, G., Grimaldi, K. & Meza, N. 2021. The Origins of Electronic Literature: An Overview. In: Grigar, D. & O’Sullivan, J., (reds.). Electronic Literature as Digital Humanities: Contexts, Forms, and Practices. New York: Bloomsbury Academic.

Boluk, S., Flores, L., Garbe, J., Salter, A. (reds.). 2016. Taroko Gorge Remixes. Electronic Literature Collection Volume 3. Cambridge, Massachusetts: Electronic Literature Organization. https://collection.eliterature.org/3/collection-taroko.html [30 November 2021]

ELO. 2021. Welcome to the ELO. Electronic Literature Organization. https://eliterature.org/ [6 Augustus 2021]

Ensslin, A. 2019. “These waves…”: Writing new bodies for applied E-Literature studies. Keynote lecture at ELO2019, University College Cork, July 17. https://youtu.be/nobZYl3NwRY  [10 Januarie 2020]

Fletcher, J. 2015. Performing Digital Literature. (Interpretando literatura digital). Caracteres. Estudios cultural y criticos de la esfera digital. Vol. 4(2).

Flores, L. 2019. Third Generation Electronic Literature. electronic book review. http://electronicbookreview.com/essay/third-generation-electronic-literature/ [30 Maart 2021]

Flores, L. 2021. Artistic and Literary Bots. In: Grigar, D. & O’Sullivan, J., (reds.). Electronic Literature as Digital Humanities: Contexts, Forms & Practices. New York: Bloomsbury Academic.

Greyling, F. 2012. Die skrywer en nuwe publikasiekontekste: interaktiwiteit en wisselwerking in aanlyngemeenskappe – Fanie Viljoen se Pynstiller as gevallestudie. LitNet Akademies, 9(3):442-286.

Greyling, F. 2017. Plekspesifieke digitale literatuur: samespel en wisselwerking in nuwe kontekste. LitNet Akademies, 14(2).

Greyling, F. 2019. “Ek loop hier in die labirint”: Digitale kinderverse in ‘n botaniese tuin: performatiwiteit en relasionaliteit. Stilet, 30(1-2).

Greyling, F., Verhoef, S. & Tempelhoff, G. 2020. Die Byderhand-Pionierprojek: ‘n Gevallestudie van die deelnemende dinamika in die skep en toeganklikmaking van lokatiewe literatuur vir persone met siggestremdheid. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 60(4-2).

Grigar, D. & O’Sullivan, J., (reds.). 2021. Electronic Literature as Digital Humanities: Contexts, Forms, and Practices. New York: Bloomsbury Academic.

Grigar, D. 2021. Electronic Literature as Digital Humanities: An Introduction. In: Grigar, D. & O’Sullivan, J., (reds.). Electronic Literature as Digital Humanities: Contexts, Forms, and Practices. New York: Bloomsbury Academic.

Grobler, D. 2021. Animated poetry showing events. http://diekgrobler.co.za/making-animated-poetry/events/ [20 November 2021]

Hayles, N.K. 2006. The Time of Digital Poetry: From Object to Event. In: Morris, A. & Swiss, T. (reds.). New Media Poetics. Cambridge, Mass: MIT Press: 181-209.

Hayles, N.K. 2008. Electronic Literature: New horizons for the literary. Notre Dame, Indiana: University of Notre Dame Wald-Phillips lectures.

Heckman, D. 2021. Learning as You Go: Inventing Pedagogies for Electronic Literature. In: O’Sullivan, J. (red.). Electronic Literature as Digital Humanities: Contexts, Forms, and Practices. New York: Bloomsbury.

Miller, V. 2011. Understanding digital culture. Los Angeles: Sage.

Montfort, G. 2009. Taroko Gorge · 2009-01-08 https://nickm.com/taroko_gorge/ [24 Augustus 2021]

Odendaal, B. 2021. Nootvas. Kwashaal. Stapel. Kaapstad: Tafelberg.

Ryan, M., Emerson, L., & Robertson, B.J. (reds.). 2014. The Johns Hopkins Guide to Digital Media. Baltimore: Johns Hopkins University Press.

Rettberg. S. 2014. Electronic Literature. In: Ryan, M., Emerson, L., & Robertson, B.J. (reds.) The Johns Hopkins Guide to Digital Media. Baltimore: Johns Hopkins University Press: 169-174.

Rettberg, S. 2019. Electronic Literature. Cambridge: Polity.

Roach, R. 2019. J.M. Coetzee’s Aesthetic Automatism. MFS Modern Fiction Studies, 65(2): 308-337.

Roach, R. 2023. Chatbots Lives. Ego Media. https://ego-stg.kdl.kcl.ac.uk/sections/talking-interfaces/writing-talking-interfaces/chatbot-intro/history-chatbots/ [16 Januarie 2023]

Tabbi, J. (red.). 2018. The Bloomsbury Handbook of Electronic Literature. New York: Bloomsbury Academic.

Van Dyk, A. 2016. Resensie: ATKV se Filmverse 2 spreek beelde. LitNet. https://www.litnet.co.za/resensie-atkv-se-filmverse-2-spreek-beelde/ [15 Januarie 2021]

Van Heerden, I. 2022. Afrikaans se eerste KI-gedigte. https://www.litnet.co.za/afrikaans-se-eerste-ki-gedigte/ [21 Desember 2022]

Van Heerden, I & Bas, A. 2021. “AfriKI: Machine-in-the-Loop Afrikaans Poetry Generation.” In: Proc. Workshop on Bridging Human-Computer Interaction and NLP, 16th Conference of the European Chapter of the Association for Computational Linguistics, pp. 74-80.