ALLEGORIE

(Bygewerk November 2022)

Breedweg verwys die term allegorie na die feit dat een ding gesê word terwyl iets anders daarmee bedoel word (Machosky, 2012:1). Allegorese is allegoriese interpretasie, ’n hermeneutiese tegniek waarvolgens ’n literêre werk nie slegs op die voor die hand liggende vlak gelees moet word nie, maar op ’n dieperliggende vlak.

Bernaerts et al. (2012) onderskei tussen twee soorte allegorie. Eerstens is ’n allegorie ’n uitgebreide metafoor (extended metaphor), oftewel verskeie metafore of vergelykings wat op mekaar voortbou en in mekaar invloei, wat in liriese poësie aangetref word. Die tweede soort allegorie word in die epiek en dramatiek aangetref, en met uitsondering ook in die liriese en epiese poësie, en behels dat abstrakte begrippe deur middel van persone voorgestel word, dit wil sê personifikasie. Uit hierdie definisie vloei die feit voort dat enige literêre werk waarin die karakters en hul handeling op ’n ander vlak geïnterpreteer moet word as ’n allegorie getipeer kan word (Bernaerts et al., 2012).

In The language of allegory : defining the genre (1979) voer Maureen Quilligan aan dat allegorie ‘n aparte genre is. Haar ondersoek sluit tekste soos Le roman de la rose, Bunyan se The Pilgrim’s Progress en The Faerie Queen deur Spenser in. Ander allegorieë waarin persone optree, sluit in die Middelnederlandse moraliteitspele, byvoorbeeld Elckerlijc (in Engels Everyman). Karakters in die drama sluit in “Die Goeie”, “Deug”, en “Krag” wat Elckerlijc (elke individu) op hul lewenspad vergesel totdat “Die Dood” hulle kom haal. Nog ouer as Elckerlijc is Dante se beroemde Divinia commedia waarin die reis van die siel tot by God in die hemel (die Paradys) op allegoriese wyse uitgebeeld word.

Anders as Quilligan is die meeste kenners dit egter eens dat die allegorie nie die benaming van ‘n literêre genre is nie, maar ‘n strukturele beginsel in verhalende literatuur (Preminger, Hardison & Warnke, 2014:5). Dit kan selfs as ’n kategorie van die retorika beskou word (Machosky, 2012:22). Die allegoriese word dus nie deur die kritiese interpretasie bybetrek nie, maar is deel van die struktuur van die werk. Nie alle literêre tekste kan dus allegories benader word nie. Op ondubbelsinnige en deurlopende wyse word daar in die allegorie ‘n parallel opgebou tussen die verhaalgegewens en die stel gebeure of idees onder die oppervlakte.

In die gedig “Di Afrikaanse taal” (1896) deur Jan Lion Cachet word die taal Afrikaans gepersonifieer as “’n arme boerenôi” wie se “pa” Nederlands en “ma” Frans is – ’n duidelike ideologiese standpunt wat die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans op bepaalde manier konstrueer. In die slotstrofes word die belangrikheid van die letterkunde vir die Afrikaanse taalbeweging uitgebeeld in die feit dat die “boerenôi” op soek is na ’n “fryer / ’n Digter vol van moed” wat haar “koningin / fan heel Suid-Afrika” sal maak. Op soortgelyke wyse is die “doringboompie” in die gedig “Vergewe en vergeet” (1908) deur Totius ‘n metafoor vir die “Afrikaanse volk” wat tydens die Anglo-Boereoorlog deur die Britse troepe ‘platgery’ is. Teen die slot van die gedig het die boompie “stadig reggekom”, maar die merk wat deur die ossewa, dit wil sê die Oorlog, gelaat is, verdwyn nooit nie. (Vandaar, deels, die langdurende anti-Britse sentiment onder sekere Afrikaners.)

“Vergewe en vergeet” is al deur kritici as ‘n simboliese gedig beskou. ‘n Belangrike onderskeid tussen simbool en allegorie waarop onder andere N.P. van Wyk Louw (1970:30-31) wys, is egter die feit dat die allegorie ‘n “ondubbelsinnige ‘tweede betekenis'” het, terwyl die simbool se diepere betekenis nie presies vasstelbaar is nie (alhoewel die simboliese betekenis ook nie heeltemal onbegrens is nie).

Daar is verskeie vertelvorme wat verwant is aan die allegorie en selfs ‘n allegoriese werkwyse het. ‘n Bekende allegoriese vorm is die fabel, waarin diere gepersonifieer word om waarhede omtrent die mens en sy lewe te openbaar. Dit is meestal ‘n eenvoudige vorm van die allegorie en daarom sterk afgestem op die “sedeles” agter die verhaal. Die mite word nie op die woord af gelees nie, maar ter wille van ‘n sin/sinvolheid buite die woorde om. In dié sin is dit allegories. Die sterk sedeles van die fabel is by die mite afwesig. ‘n Ander allegoriese vorm is die gelykenis en parabel, wat deur middel van alledaagse gebeure ’n duidelike morele boodskap wil weergee.

Die kortverhaal “Droogte” (1956) deur Jan Rabie kan moontlik as ’n futuristiese, waarskuwende parabel gelees word. Die gebeure in die verhaal kan op allegoriese wyse geïnterpreteer word: Die “swartman” en die “witman” wat saam ’n huis bou, staan vir alle swart en alle wit mense wat saam aan die huis, die “nasie” van Suid-Afrika bou; die feit dat die wit man binne-in die huis staan en die swart man buite, dui op die diskoers van wit meerderwaardigheid, “binne-kennis” en swart uitsluiting. Dat die wit man hom in die huis sonder deure of vensters toebou waar hy sonder twyfel sal sterf, suggereer dat wit mense se insulariteit en onvermoë om met swart mense saam te werk, hul ondergang sal bewerkstellig.

Heelwat voorbeelde van spekulatiewe fiksie, soos Rabie se “Droogte”, maak ’n allegoriese interpretasie moontlik, soos J.M. Coetzee se roman Waiting for the barbarians (Dovey, 1996). (Stellig kan meerdere Coetzee-romans op allegoriese wyse benader word (vgl. O’Connell, 1988), soos sy onlangse Jesus-trilogie.)  

Die Amerikaanse Marxis Fredric Jameson het in ’n essay uit 1986 die moontlikheid geopper dat romans uit die “derde wêreld” altyd allegories gelees moet word, as “national allegories”:

All third-world texts are necessarily, I want to argue, allegorical, and in a very specific way: they are to be read as what I will call national allegories, even when, or perhaps I should say, particularly when their forms develop out of predominantly western machineries of representation, such as the novel […] the story of the private individual destiny is always an allegory of the embattled situation of the public third-world culture and society (Jameson, 1986:69, oorspronklike kursivering)

Ten spyte van kritiek op hierdie essay (vgl. Szeman, 2001:803-804) word talle tekste uit Afrika binne die raamwerk van postkoloniale studies nog steeds op allegoriese wyse geïntepreteer. Dit sluit in heelwat tekste wat oor apartheid en die post-apartheidstydperk in Suid-Afrika handel. Veral die gesin en gesinsverhoudings staan op allegoriese wyse vir sekere groeperings binne Suid-Afrika, of die Suid-Afrikaanse ‘nasie’. Hierdie tekste sluit in Marlene van Niekerk se Triomf (1994) (vgl. Heyns, 2000), Achmat Dangor se Bitter Fruit (2001) (vgl. Akpome, 2018), en Charles J. Fourie se drama Vrededorp (2011) (vgl. Van Niekerk, 2012).

Komplekse historiese en politieke allegorieë se toon word dikwels gekenmerk deur ironie (Preminger, Hardison & Warnke, 2014:5) en is op satire ingestel, byvoorbeeld Swift se Gulliver’s Travels.

Sommige werke is nie volstrekte allegorieë nie, dit wil sê die allegoriese verwysings vind nie op ‘n deurlopende grondslag plaas nie, maar kom as ‘t ware met tussenposes voor. So ‘n werk vertoon slegs allegoriese trekke en kan nie as ‘n allegorie getipeer word nie. In Afrikaans kan Mahala van Chris Barnard as voorbeeld dien. Volgens Luc Renders (1979:68–80) verteenwoordig die verskillende karakters aspekte van die persoonlikheid van die hooffiguur Max Delport. Ritter tree bv. op as Delport se alter ego. Ook die ander karakters tree op as allegoriese figure in die verinnerlikingsproses van Delport.

Sekere dramas deur Bartho Smit soos Putsonderwater en Bacchus in die Boland kan allegories geïnterpreteer word of nie. Die Dominee en die Dokter staan byvoorbeeld vir die kerk en die mediese wetenskap in ’n wyer sin, of die bruin plaaswerkers staan vir alle niewit Suid-Afrikaners. Eersgenoemde interpretasies was ten tyde van die opvoering (of juis gebrek aan opvoering) van Smit se dramas omstrede.

Allegoriese interpretasie het ‘n omvangryke geskiedenis. Vroeg reeds is die mites deur die Grieke allegories geïnterpreteer. Die mitologiese verhale van die gode in o.a. Homeros se werk is deur sommige Griekse filosowe as nie ernstig genoeg beskou vir die godsdiens nie. Gevolglik is die gode en hulle handeling geïnterpreteer as personifikasies van morele beginsels of natuurlike kragte (Preminger, Hardison & Warnke, 2014:6). Die didaktiese en morele eise wat aan die poësie gestel is, het ook tot die allegorisering van die mites bygedra.

Met die koms van die Christendom het daar ‘n aksentverskuiwing in die allegoriese interpretasie gekom (Pretorius, 1972:12). Die allegorie het nou “al meer opgetree as bemiddelaar tussen die ou godepanteon en die filosofie en gesofistikeerde denke wat nie meer van die immorele Homeriese gode gehou het nie” (Pretorius, 1972:12). Die immorele dade van die ou Griekse gode is dus allegories verklaar. Ook die Latynse mitologie, soos dit veral voorkom in die werk van Vergilius en Ovidius, word in dié tyd by die allegoriese interpretasie betrek.

Aanvanklik het die allegorisering berus op ‘n siening dat die digkuns waar moes wees en nie valshede moes verkondig nie. Met die herontdekking van Aristoteles en die toenemende aanhang wat sy beskouings oor die poësie verwerf het, is die aandag verskuif na die opvatting van literatuur as “an imitation of nature which expresses the general and the typical rather than the specific and the particular” (Preminger, Hardison & Warnke, 2014:7). (Kyk mimesis.) In die lig hiervan het allegoriese interpretasies geleidelik minder gewild geword.

Gedurende die Romantiek ontwikkel die opvatting dat die allegorie ‘n wyse is waarop ‘n nie-poëtiese struktuur omgeskakel word in poëtiese beelding (Preminger, Hardison & Warnke, 2014:7). Die allegorie word gekontrasteer met die simbool en as die minderwaardiger beeldingsmiddel van die twee beskou – ‘n opvatting wat tot in die moderne tyd voortduur. Daar kan egter geargumenteer word dat wat in die Romantiek as simbolisme beskou is, afhanklik was van ’n allegoriese struktuur, volgens Brenda Machosky (2012:10). Die psigokritiek is ’n vorm van allegoriese interpretasie (Preminger, Hardison & Warnke, 2014:8) waarin die insigte van Freud en Jung op literêre werke toegepas word. Soos hierbo genoem, word allegoriese benaderings tot postkoloniale tekste ook dikwels gevolg.

Alle goeie literêre ensiklopedieë en woordeboeke bied verklarings vir die term allegorie. Standaardwerke in verband met die allegorie is dié van Lewis (1936), Fletcher (1964), Tuve (1966), Quilligan (1979), Teskey (1996) en Machosky (2012). In Afrikaans is Van Wyk Louw (1970) en S.J. Pretorius (1972) se werk onontbeerlike leesstof. Kyk ook beeldspraak.

 

Jacomien van Niekerk
Regina Malan

 

Bibliografie

Akpome, A. 2018. Child and youth protagonists in Habila’s Measuring Time and Dangor’s Bitter FruitTydskrif vir Letterkunde, 55(2): 4–20. DOI: https://doi.org/10.17159/2309-9070/tvl.v.55i2.1783.

Bernaerts, L. et al. reds. 2012. Allegorie. Algemeen letterkundig lexicon. dbnl. Geraadpleeg: 9 November 2022.

Coetzer, J.L. 1986. Die struktuur van die allegorie. Journal of Literary Studies/Tydskrif vir Literatuurwetenskap, 2(2):29–40.

Fletcher, A. 1964. Allegory: The Theory of a Symbolic Mode. Ithaca: Cornell University Press.

Heyns, Michiel. 2000. The Whole Country’s Truth: Confession and Narrative in Recent White South African Writing. Modern Fiction Studies, 46(1):42-66.

Jameson, F. 1986. Third-World Literature in the Era of Multinational Capitalism. Social Text 15:65-88.

Korb, J. 1984. Die begrip allegorie : ’n literêr-teoretiese ondersoek. Proefskrif: D Litt et Phil. Universiteit Pretoria.

Lewis, C.S. 1936. The Allegory of Love. Londen: Oxford University Press.

Louw, N.P. van Wyk. 1970. Rondom eie werk. Kaapstad: Tafelberg.

Machosky, B. 2012. Structures of Appearing: Allegory and the Work of Literature. New York: Fordham University Press.

O’Connell, L.C. 1988. Traditional allegory and its postmodernist use in the novels of J.M. Coetzee. D.Litt.-tesis, PU vir CHO, Potchefstroom.

Preminger, A., Hardison, O.B. & Warnke, F.J. 2014. The Princeton handbook of poetic terms. Princeton: Princeton University Press.

Pretorius, S.J. 1972. Die stryd tussen hemel en hel: ‘n poging tot ‘n verklaring van Vondel se Christelike epos Joannes de Boetgezant. D.Litt.-tesis, Universiteit van Suid-Afrika, Pretoria.

Quilligan, M. 1979. The language of allegory: defining the genre. Ithaca: Cornell University Press.

Renders, L. 1979. Mahala of die mite van Siva. Tydskrif vir Letterkunde, 17(3).

Szeman, I. 2001. Who’s Afraid of National Allegory? Jameson, Literary Criticism, Globalization. South Atlantic Quarterly, 100(3):803-827.

Teskey, G. 1996. Allegory and Violence. Ithaca: Cornell University Press.

Tuve, R. 1966. Allegorical Imagery: Some Medieval Books and their Posterity. Princeton: Princeton University Press.

Van Niekerk, J. 2012. Vrededorp (Charles J. Fourie). Tydskrif vir Letterkunde, 49(1):192. DOI: https://doi.org/10.4314/tvl.v49i1.25.