IMAGISME

(Hersien Oktober 2020)

Die Imagisme (ong. 1910-1917) was ‘n vroeg twintigste-eeuse digterlike beweging wat in reaksie was teen die Romantiek en die Victoriaanse sentimentaliteit. Dit was kort maar invloedryk en was gebaseer op die werk van ‘n klein groepe Britse en Amerikaanse digters: Ezra Pound, Richard Aldington, Hilda Doolittle (bekend onder haar skuilnaam, H.D.), F.S. Flint, Skipweth Cannell, Amy Lowell, William Carlos Williams, James Joyce, Ford Maddox Hueffer (later: Ford), Allen Upward en John Cournos. Sommige van D.H. Lawrence se gedigte uit hierdie tydperk kan ook as Imagisties beskryf word. Die beweging se beginsels is deels afgelei uit die estetiese filosofie van T.E. Hulme. Ook belangrik was die invloed van die Franse Simbolisme en die Chinese en Japannese versvorms van die tanka en die haikoe, wat bondigheid en konkrete beeldspraak beklemtoon.

Pound het in 1912 vyf gedigte van Hulme gepubliseer en daarby die term “Imagisme” vir die eerste keer gebruik (maar in die Franse vorm, “Imagiste”). In 1913 het hy verdere Imagistiese opvattings in die tydskrif Poetry uiteengesit toe hy H.D. se “Hermes of the Ways” (met sy eie wysigings) voorgelê het vir publikasie. Die eerste versameling gedigte, Des Imagistes: An Anthology, is in 1914 deur Pound gepubliseer. Kort hierna het hy die beweging ontnugterd verlaat en meer betrokke geraak by die Vorticisme. Amy Lowell het die rol van hooffiguur oorgeneem en tussen 1915 en 1917 drie verdere bundels gepubliseer – al drie met die titel  Some Imagist Poets. Pound se wrang naam vir hierdie fase van die beweging was “Amygisme”. Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog (1918) het die beweging verbrokkel. Hoewel kort van duur, was die invloed van die Imagisme beduidend, veral as ‘n fase in die ontwikkeling van rigtinggewende norme en opvattings van die Modernistiese poëtika. Met hulle voortgesette formele eksperimentering het gewese lede van die beweging later wesenlik getrou aan die Imagistiese ideale gebly.

Die artikels in Poetry en die voorwoorde tot die bloemlesings maak die poëtiese program van die Imagisme uit. Die uitgangspunt daarvan is Hulme se geloof in die “accurate description” wat die “dry and hard” beeld in ‘n poësie heeltemal sonder abstraksies bewerkstellig het (Hulme in Kolocotroni et al., 182). Skerp afgeëtste beelde, het die Imagiste gemeen, kon met die vereiste semantiese digtheid resoneer mits hulle in kompakte alledaagse taal oorgedra word, en nie in tradisionele poëtiese taal, rym en metrum nie. Voorspelbare metriese patrone en ritmes is met ander woorde vervang deur die kadense van alledaagse spraak, sodat elke reël sy eie besondere lengte en ritme kon vind, sonder die beperking van rym. Helderheid, bondigheid en konkreetheid is as belangrike beginsels beskou. Volgens Pound is ‘n beeld “that which presents an intellectual and emotional complex in an instant of time”. Die term “kompleks”, wat deels die terminologie van die psigologie volg, sê Pound, dui op betekenisvolle indrukke wat gewoonlik verberg word deur mentale instellings of gewoontes (Pound in Kolocotroni et al., 374). Die fokus op styl, vorm en tegniek is bedoel om strukture verby relatief individuele impressies van die wêreld oor te dra, en om sodoende as ‘t ware ‘n objektiewe weerspieëling van belangelose persepsie daar te stel.

Pound se gedig “In a station of the metro” bly ‘n sentrale voorbeeld van die Imagistiese styl en tegniek: “The apparition of these faces in the crowd:/ Petals on a wet, black bough” (Pound, 1975: 53). Die invloed van Japannese poësie is duidelik, maar ook Pound se beroemde eis: “To use absolutely no word that does not contribute to the presentation”. Soos hyself egter moes erken, het ander digters hulle selde aan hierdie eis gesteur. Pound het inderdaad gekla oor die woordryke en breedsprakige “vers libres” wat gevolg het op die aanvanklike suiwerende en verhelderende impetus wat die Imagisme gebring het (Pound in Kolocotroni et al., 374). Nogtans was, soos gesê, die beweging se uitwerking op die Modernisme aansienlik. Hulle invloed blyk uit die werk van sulke belangrike digters soos T.S. Eliot (bv. in die fyn gekalibreerde afdelings en ekspressiewe kadense van The Wasteland) en W.B. Yeats (al sy poësie, vanaf die bundel Responsibilities in 1914 tot by New Poems van 1938).

Nick Meihuizen

 

Bibliografie

Bradbury, Malcolm & James McFarlane (eds). 1991. Modernism: A Guide to European Literature, 1890-1930. London: Penguin.

Jones, Peter (ed.). 1972. Imagist Poetry. Harmondsworth: Penguin.

Kenner, Hugh. 1975. The Pound Era. London: Faber.

Kolocotroni, Vassiliki, Jane Goodman & Olga Taxidou (eds.). 2009. Modernism: An Anthology of Sources and Documents. Edinburgh: Edinburgh University Press.

Lasoen, Patricia. 1971. Ezra Pound: de triomf van de voetnoot. Nieuw Vlaams Tijdschrift  dbnl, 24.

Lowell, Amy. 2009. Preface to Some Imagist Poets, in Kolocotroni, Goodman & Taxidou 2009: 268-269.

Pound, Ezra. 1975. Selected Poems: 1908-1959. London: Faber.

Pound, Ezra. 2009. From ‘A Retrospect’, in Kolocotroni, Goodman & Taxidou 2009: 373-379.

Pratt, W.C. 1963. The Imagist Poets. New York: Dutton.

Symons, Julian. 1987. Makers of the New: The Revolution in Literature. London: Andre Deutsch.

 Zach, Natan. 1991. Imagism and Vorticism, in Bradbury & McFarlane 1991: 228-242.