FEUILLETON

Die term feuilleton (Fr.: bladsytjie) het oorspronklik verwys na ‘n gevoude boekie bestaande uit agt bladsye. Die term is aan die drukkersbedryf ontleen. In 1799 het so ‘n boekie as bylae in die Paryse koerant Journal des débats verskyn. Dit het aankondigings bevat wat nie gehoort het by die hoofgedeelte van die koerant met sy politieke strekking nie. ‘n Jaar later het J.L. Geoffrey besluit om die bylae te gebruik vir sy teaterkritiek. Later is dit gebruik vir literêre kritieke en opstelle. In 1801 is die bylae met die hoofgedeelte van die koerant geïntegreer, maar die term feuille­ton is daarvoor behou. Die term is ook toegepas op alle nie-politieke artikels wat in die koerant verskyn het. Die artikels is in ‘n ligte geselstrant geskryf.

 

Ander koerante het die Journal des batsse voorbeeld gevolg. Die feuilleton het tot ‘n nuwe GENRE ontwikkel; na 1830 het dit ‘n periode van bloei beleef, veral toe bekende skrywers soos Gautier en Sainte-Beuve bydraes daarvoor geskryf het. Die feuille­ton het ook na ander Europese lande versprei. In Duitsland is teaterkritieke in die 18e eeu in die feuilleton gepubliseer.

 

In Frankryk het die Journal des débats begin om ROMANS in aflewerings in die feuilleton te publiseer. Dit was die begin van die romanfeuilleton. ‘n Tipiese romanfeuilleton is ryk aan span­ning en aksie, maar die psigologie van die verhaal is ongekompliseerd. Ander lande het die Journal des débats se voorbeeld gevolg. Baie romans wat vandag beroemd is en klassieke werke is, het oorspronklik as romanfeuilletons verskyn, bv. Eugène Sue se Mystères de Paris, Charles Dickens se David Copperfield en Louis Couperus se Eline Vere.

 

Die feuilleton het met verloop van tyd so omvangryk geraak dat dit nie meer van die politieke gedeelte van die koerant geskei kon word nie. Slegs die romanfeuilleton is nog apart of “onder die streep” gepubliseer soos dit genoem is.

 

In Afrikaans het Elsa Joubert se Die swerfjare van Poppie Nongena bv. as feuilleton in Rapport verskyn.

 

Vandag word romans ook verder dikwels verkort en as feuilletons gepubliseer. Twee aflewerings van Fiela se kind (Dalene Matthee) het bv. in Rapport verskyn as lokmiddel sodat die lesers die roman sal koop.

 

Anna-Marie Bisschoff