VARIANTE

Van Dale groot woordenboek der Nederlandse taal (1984) gee ‘n nuttige beknopte omskrywing van variant: “ben voor de verschillende lezingen van een woord, uitdrukking, enz. in verschillende handschriften of drukken van een zelfde tekst” (vgl. ook Scheibe, 1971: 18―19).

Hoewel die varianteverskynsel veral m.b.t. die poësie ondersoek word waar dit ingrypende implikasies kan inhou, kom dit ook by ander literêre genres voor. Vergelyk die belangrike variante wat N.P. van Wyk Louw aangebring het in sy drama Dias.

Die variantestudie word meermale beskou as ‘n komponent van die tekskritiek (sien Von Wilpert (1969: 776) in Sachwörterbuch der Literatur en Preminger (1975: 852) in Princeton Encyclopedia of Poetry and Poetics). Die oogmerk is o.m. om uit Middeleeuse oorgelewerde handskrifte en tekste die aanvanklike lesing (editio princeps) te probeer agterhaal en wetenskaplik te probeer verantwoord. ‘n Metode hiervoor, gegrond op die ordening van ‘n teks se verskillende handskrifte in ‘n stamboom, is bv. in die 19e eeu deur die Duitse filoloog K. Lachmann ontwerp (sien Van Gorp (1986: 114) in Lexicon van literaire termen). Voorkeur word tans dikwels verleen aan ‘n kritiese teksuitgawe (Van Gorp, 1986: 404): Die suiwerste teksweergawe word nagestreef, in die voetnote aangevul deur ander lesings. ‘n Uitgawe wat alle variante in vorige teksweergawes vermeld, word ‘n variorum-edisie of -uitgawe genoem (Van Gorp, 1986: 433), ‘n verkorting van die Latynse editio cum notis variorum scriptorum, resp. editorium.

Die gerekonstrueerde verbetering in ‘n teks heet ‘n emendasie, van die Latynse emendare = foute verwyder (Van Gorp, 1986: 114).

Variante word ook om ander redes ondersoek in die manuskripte en gedrukte tekste van meer eietydse outeurs, met die laaste weergawe gewoonlik as uitgangspunt. Die ouere filologie is retrospektief gerig, teenoor die moderner prospektiewe benadering (Fokkema, 1973: 11).

Sommige hedendaagse variante ontstaan ook wel soos in die verlede bv. deur toeval, set- en leesfoute, moderniserings of veranderinge deur uitgewers, maar meestal bring die outeur self veranderinge aan t.w.v. verlangde betekenisnuanses, dramatiese, epiese, poëtiese of ritmies-metriese effekte. Die filoloog probeer eerstens vasstel watter veranderinge deur die outeur geïnisieer en/of goedgekeur is. Na lg. se dood word dikwels slegs veranderinge aanvaar wat karakteristiek van sy werk is. Ook die rekenaar dien as hulpmiddel om verskillende tekslesings te vergelyk of gapings in te vul (Preminger, 1975: 852).

Fokkema (1973: 11) onderskei t.o.v. die eietydse variante-ondersoek veral twee strominge: Die genetiese ondersoek is gerig op die outeur se werkwyse. Hoewel die skeppingsproses as sodanig onagterhaalbaar is, kan inligting wel verkry word oor die produksieproses, d.w.s. die resultaat van die skeppende arbeid. Daarnaas word die variant vanuit ‘n struktualistiese hoek dikwels beskou as struktuursinjaal (Fokkema, 1973: 15) wat die kwaliteit van die teks beïnvloed.

Die genetiese aspek staan dikwels in diens van die strukturele. So lewer Vestdijk (1964: 10―15) ‘n uitgebreide betoog oor die meriete van Keats se bekende “A thing of beauty is a joy for ever” bo die aanvanklike “A dung of beauty is a constant joy”. Hy grond sy bevinding o.m. op die poëtiese waarde, klank, rym, betekenis, gevoelswaarde, uitspraak, simmetrie en woordrangskikking.

‘n Algemene werkwyse (Kayser, 1961: 31) is om die variante te rubriseer t.o.v. die kategorie wat as deurslaggewend by die verandering beskou word, bv. ritme, klank, ens. Kom meer as een variant voor, kan die volgorde van hulle ontstaan dui op ‘n ontwikkelingslyn. Voor vergelyking word elke voorbeeld eers op sigself binne die teksgeheel bespreek.

Fokkema (1973: 17―19) dui op veral twee soorte variante: dié wat lei tot ‘n nuwe “redaksie” van ‘n gegewe gedig, en dié wat ‘n nuwe “versie” (weergawe) laat ontstaan. By die eerste bly die “intentie” (Blok, 1974: 238 verkies die term “initiële inhoud”) dieselfde; by lg. is dit gewysig en is daar sprake van twee verskillende gedigte. Indien die variante korreksies is, vorm die twee redaksies nòg dieselfde nòg verskillende gedigte, maar stem eerder ooreen met wat Hellinga (1954: 421―438) “een hoger in de vorm opgevoerd gedicht” noem. Volgens Blok (1974: 238) behoort die vasstelling van die variant tot die diachroniese, en die struktuuranalise tot die sinchroniese ondersoek.

Spesifiek by Achterberg (maar met wyer toepassingsmoontlikhede) kom drie tipes variante voor (Fokkema, 1973: 1): Korrigerende variante is afgestem op tegniese verbeteringe in veral vier opsigte, nl. metriese en stilistiese korreksie, woordherhaling, asook presieser formulering. Veralgemenende variante maak die teks o.m. los uit die biografiese sfeer deur datum- en naamveranderinge. Konsistensie-variante verstewig die struktuur by gedigte, gediggroepe of die hele bundel.

Ook gedigvertalings is in ‘n sekere sin variante, want dit is bykans onmoontlik om dieselfde betekenisnuanses, klankpatrone, ritme, ens. vas te vang (vgl. Scholtz, 1975: 74―80 oor die vertaling van N.P. van Wyk Louw se “Die beiteltjie”).

Sommige digters toon ‘n groter neiging tot variante. Waar Boerneef na bewering selde aan ‘n voltooide gedig verander het, kom baie variante voor in die werk van N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, e.a. Variante kan (volgens Olivier, 1977, m.b.t. Van Wyk Louw) dui op streng seleksie vanweë ‘n digter se skerpontwikkelde kritiese sintuig. By die Nederlandse digter Nijhoff was variante ‘n middel tot eksperimentering met segging en vorm. Lulofs (1980: 86) bevind bv. dat die variante in Het uur u almal in die teks integreerbaar en funksioneel is.

In Nederland bestaan talle variantestudies en tekskritiese uitgawes, o.m. oor Hooft, Vondel, Bilderdijk, Perk, Leopold, Nijhoff en Achterberg se werk; in Engels oor Shakespeare, Blake, Yeats, Joyce, Auden en vele ander; in Duits oor Lessing, Wieland, Hoffmann, Hölderlin e.a. Enkele Afrikaanse variantestudies is dié van W.E.G. Louw (1957), J.C.P. Meij (1963), H. van der Merwe Scholtz (1978), asook ‘n hoofstuk uit die proefskrif van E.M.M. Klopper oor Opperman (1990). Kannemeyer se werk oor die galeie van Opperman se Joernaal van Jorik in 1979 en oor C. Louis Leipoldt se Versamelde gedigte in 1980 hou ook verband met die tekskritiek en variantesrudie.

 

Bibliografie

Blok, W. 1974. Varianten onder de loep. De nieuwe taalgids, 67(3).

Fokkema, R.L.K. 1973. Variantes by Achterberg Deel II: De commentaar. Amsterdam: Querido.

Hellinga, W.G. 1953. Verbijsterend spel: over enige varianten in P.C. Hooft’s Sal nemmermeer gebeuren. Maatstaf, 1(7).

Hellinga, W.G. 1954. Perspectief der varianten. In: Bittremieux, C. et at. Martinus Nijhoff. ‘s-Gravenhage: Van Oorschot.

Kayser, W. 1948/1961. Das sprachliche Kunstwerk: eine Einführung in die Literaturwissenschaft. Bern: Francke.

Klopper, E.M.M. 1990. Spermutasie – die palimpses. D. Litt.-proefskrif, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

Louw, W.E.G. 1957. Variasies op ‘n tema. In: Cloete, T.T. et al. Beskouings oor die poësie: ‘n bundel opgedra aan prof. G. Dekker op sy sestigste verjaarsdag, 11 November 1957. Pretoria: Van Schaik.

Lulofs, F. 1980. Verkenningen door varianten: de redacties van Het uur u van M. Nijhoff stilistisch onderzocht. Utrecht: HES.

Meij, J.C.P. 1963. ‘n Studie van variante in Van Wyk Louw se Dias. M.A.-verhandeling, Universiteit van Pretoria, Pretoria.

Olivier, G. 1977. N.P. van Wyk Louw se manuskripverse rondom Tristia. M.A.-verhandeling, Universiteit van Stellenbosch, Stellenbosch.

Scheibe, S. 1971. Zu einigen Grundprincipien einer historischkritischen Ausgabe. In: Scheibe, S. Texte und Varianten: Probleme ihrer Edition und Interpretation. München: Martens & Zeller.

Scholtz, H.v.d.M. 1975. Hewut van die Afrikaansepoësie en ander opstelle. Kaapstad: Tafelberg.

Scholtz, H.v.d.M. 1978. Totius as versetdigter? In: Scholtz, H.v.d.M. Die teken as teiken: opstelle oor beduidende Afrikaanse literatuur. Kaapstad: Tafelberg.

Vestdijk, S. 1950/1964. De glanzende kiemcel: beschouwingen over poëzie. Amsterdam: De Driehoek.

 
Dorothea van Zyl