SPOOKREËLS

Die term spookreëls of ghost lines (Leech, 1969) verwys na VERSREëLS wat nie as tipografiese eenhede in die gedig gesien kan word nie, maar wat as hoorbare komposisioneel-strukturele eenhede bestaan. Fowler (1970) gebruik die term straddled lines om hierdie eenhede te beskryf. In die volgende voorbeeld uit The Waste Land van T.S. Eliot kom ‘n paar spookreëls voor:

  1. April is the cruellest month, breeding    (9 sillabes)
  2. Lilacs out of the dead land, mixing       (9 sillabes)
  3. Memory and desire, stirring                 (7 sillabes)
  4. Dull roots with spring rain.                   (5 sillabes)

Reëls een en twee stel ‘n norm van nege-sillabige versreëls vir hierdie gedig. Die sintaktiese eenheid “breeding lilacs out of the dead land” wat oor die twee reëls versprei is, voldoen egter ook aan hierdie ritmiese norm. Omdat die sintaktiese struktuur saamwerk met die ritmiese beginsels vir eenheid, word “breeding … land” veral deur die hoorder as ‘n derde versreël waargeneem. Die meervlakkigheid van die poëtiese struktuur is daarin geleë dat daar binne twee tipografiese versreëls komposisioneel-struktureel ‘n derde versreël herken kan word en dat hierdie derde moontlikheid dikwels eerste en as meer wesentlik gehoor word. Daar kan in die reëls hierbo ook twee sewe-sillabige spookreëls: “mixing memory and desire”, “stirring dull roots with spring rain” onderskei word wat nie net aan die ritmiese vereistes vir versreëls voldoen, soos die tipografies afgebakende versreëls nie, maar wat ook sterker, op grond van sintaktiese eenheidsbeginsels, as eenhede gekonstitueer word.

Die voorbeeld toon aan dat spookreëls ontstaan a.g.v. die samewerking tussen een of ander sintaktiese pouse binne die tipografiese versreël en die gebrek aan ‘n pouse aan die einde van die versreël (enjambement). In plaas daarvan dat die versreël voortduur tot by sy tipografiese einde, is daar ‘n sintaktiese grens van een of ander aard binne die reël; bv. tussen “month” en “breeding” is daar ‘n frasegrens. In plaas daarvan dat die versreël eindig waar sy tipografiese einde is, dwing die enjambement die reël om voort te gaan; bv. in die frase “breeding/Lilacs” ontstaan daar spanning tussen die versreëleinde en die sintaktiese eenheid. Indien hierdie verhouding van spanning tussen grammatikale eenhede en tipografiese eenhede reëlmatig herhaal word, soos in The Waste Land, word die spookreëls baie prominent en kan hulle naderhand self die norm word. Fowler (1970) en Leech (1969) verwys na Shakespeare se laat VRYE VERS as voorbeeld hiervan. (Vgl. VERS (REëL) en STROFE.)

 

Bibliografie

Fowler, R. 1970. Prose rhythm and meter. In: Freeman, D.C. Linguistics and Literary Style. New York: Holt, Rinehart & Winston.

Leech, G.N. 1969. A Linguistic Guide to English Poetry. London: Longman.

 
lna Biermann