SAMIZDAT EN TAMIZDAT

Die term samizdat verwys na ‘n soort ondergrondse en onoffisiële literatuur in die voormalige USSR. Hierdie werke is deur privaatpersone of instansies gekopieer en versprei en daarom was die literatuur onoffisieel en soms ook onwettig – dié werkwyse is gevolg omdat sulke werk ongeskik bevind sou word om deur die amptelike uitgewers en publikasiekanale gedruk en versprei te word.

In die laat vyftigerjare en die vroeë sestigerjare van die 20e eeu was daar ‘n verslapping van die streng politieke kontrole oor die literatuur en die kunstenaars in die Sowjetunie. Die skrywers en intellektuele denkers het begin hoop dat dit vir hulle moontlik sou wees om te skryf en te praat oor die lewe, die waarheid en die werklikheid soos wat dit deur ‘n bepaalde individu beleef word of gesien word of beoordeel word. Die verwagtinge van groter vryheid het egter nie gerealiseer nie en die ontnugtering en frustrasie het tot uiting gekom in ‘n soort literatuur wat nie deur die amptelike uitgewerye gepubliseer sou word nie. In sommige gevalle is die werk tematies ongeskik bevind, maar sommige skrywers is ook as persone as onaanvaarbaar beskou, en daarom moes hulle hulle werk self dupliseer en versprei indien hulle dit nie in ‘n laai wou wegbêre vir die nageslag of vir die vergetelheid nie.

Die “ondergrondse literatuur” in die voormalige Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke bestaan hoofsaaklik uit geskrifte wat nie openlik, wettig en offisieel in hierdie staat gepubliseer mog of kon word nie. Sulke geskrifte is dan gesirkuleer deur die medium van samizdat — handgeskrewe of getikte of met deurslagpapier gekopieerde manuskripte wat byna soos kettingbriewe versprei is. Daar bestaan ook onoffisiële ondergrondse tydskrifte vir die verskyning van sulke “ongewenste” geskrifte.

Sedert die middel van die sestigerjare het hierdie samizdat baie toegeneem. Samizdat beteken letteriik “self gepubliseer” en is ‘n woordspeling op die term gosizdat, wat publikasie deur die staat aandui. Die woord tamizdat beteken letterlik “daar ver gepubliseer” en dit verwys na geskrifte of literêre werke wat deur skrywers in die voormalige Sowjetunie geskryf is, maar wat daarbuite gepubliseer is.

Skrywers het hulle werk na die buiteland gestuur vir publikasie, omdat dit volgens die owerhede ideologies as ongewens beskou is. Twee skrywers wat hulle werk na die buiteland gestuur het vir publikasie, omdat hulle gevrees het dat, weens die verskerpte politieke kontrole, publikasie in die USSR onmoontlik was, was Andrei Sinyavsky en Yuli Daniël. Hulle is egter in 1966 vir hierdie oortreding in hegtenis geneem en verhoor. Hulle is albei skuldig bevind en swaar strawwe opgelê – hulle is gevonnis tot lang tydperke van dwangarbeid in strafkampe.

Nie alle samizdat was onwettig of ongewens nie al is sulke geskrifte onoffisieel versprei, en vanselfeprekend sluit samizdat ‘n groot verskeidenheid materiaal in, waarvan literêre werke slegs ‘n deel uitmaak. Die onderskeiding tussen ondergrondse en offisieel aanvaarbare literatuur was nie altyd baie duidelik nie. Soms het dit gebeur dat ‘n nuwe werk van ‘n skrywer onaanvaarbaar was, al is van sy ander werk offisieel gepubliseer. Dit kon gebeur a.g.v. ‘n verandering in die offisiële beleid of selfs a.g.v. arbitrêre burokratiese optrede. So ‘n skrywer moes dan noodgedwonge van ondergrondse kanale gebruik maak as hy die werk wou versprei. Dit het ook gebeur dat werke wat nie as sensurabel beskou is nie nogtans as samizdat versprei is, bloot omdat die skrywers nie probeer het om sulke werke amptelik gepubliseer te kry nie. Sommige werke van skrywers wat reeds oorlede is, soos Mandelstam en Pasternak, was tot onlangs verbode literatuur en is in die voormalige USSR slegs as samizdat gekopieer en versprei. Baie werk is ondergronds gesirkuleer omdat dit gewoon geen literêre meriete gehad het nie en dáárom ongeskik bevind is vir publikasie.

Die grootste en belangrikste gedeelte van die ondergrondse literatuur is egter wel literatuur wat as ongewens beskou is op grond van politieke en ideologiese opvattinge.

Samizdat bestaan nie slegs uit werke van Russiese oorsprong nie.

Terwyl duisende lesers langs hierdie weg kennis gemaak het met werke van Pasternak, Solzhenitzyn en Sinyavsky en terwyl dik tydskrifte volgens die Russiese tradisie (bv. Phoenix 61 & 66, Sintaksis en sphinx – meestal met poësie) verskyn het, is die werk van skrywers uit ander lande ook so gepubliseer en versprei. Orwell se 1984 en Animal Farm, romans van Hemingway en Leon Uris se Exodus is o.m. so versprei.

Deur die produksie en verspreiding van samizdat het die skrywers gehoop om nie net hulle individualiteit te behou en hulle persoonlike siening van sake te beskryf nie, maar het hulle ook probeer om so die Russiese literêre tradisie aan die lewe te hou tot wanneer hulle weer vryliker opinies kon uitspreek en kon publiseer.

 

Bibliografie

Brown, D. 1978. Soviet Russian Literature since Stalin. Cambridge: Cambridge University Press.

Gasinski, T.Z. & Moody, C. 1981. Russian: only guide for Rus 202―4. Pretoria: UNISA.

 
Heilna du Plooy