REPRESENTASIE

Die term representasie kom voor in die filosofie en literatuur. Dit het ‘n beperkte betekenis en word veral gebruik in die filosofie, maar word in ‘n vae en heelwat wyer sin in die literatuur gebruik om die verhouding tussen die “werklikheid” en die literatuur aan te dui. Tans heers daar twee denkrigtings aangaande representasie: die een meen dat literatuur wel ‘n representasie van die werklikheid is, terwyl die ander die moontlikheid van taal as medium om te kan representeer, bevraagteken.

Een denkrigting bepaal dat representasie “weergee”, “voorstel”, “weer teenwoordig stel” of “verteenwoordig” beteken. Daar is altyd in die literatuur sprake van die voorstelling, “daarstelling” of nabootsing van die skrywer se interpretasie van die werklikheid. Representasie word dan gesien as die proses waardeur die werklikheid op esteties-suggestiewe wyse deur taal teenwoordig gestel word. Anders gestel: dit is die proses wat deur ‘n skrywer gebruik word om sy subjektiewe interpretasie van en oordeel oor die “werklikheid” te transformeer tot ‘n taalmatige objek bestaande uit ‘n nuwe bewussyn van die werklikheid. Gesien in hierdie lig is dit baie duidelik dat ‘n skrywer se representasie, sy “manier van kyk” na die werklikheid, op sy eie ideologiese voorveronderstellings berus en is dit wat gerepresenteer word ‘n beklemtoning van sy ideologiese uitgangspunte.

‘n Tweede en direk kontrasterende siening is dié wat deur POST-STRUKTURALISTIESE denkers soos Jacques Derrida en Jacques Lacan en post-strukturalistiese literatuurteoretici soos Paul de Man, Harold Bloom en Geoffrey Hartman gehuldig word. Hierdie uitgangspunt ontken die moontlikheid dat taal die “werklikheid” kan representeer.

Hiervolgens is taal en literatuur wat d.m.v. taal ontstaan ‘n sisteem van tekens waarin die tekens na ander tekens verwys en waarin daar geen direkte referensie na die werklikheid is nie. Taal is dus nie in staat om die “werklikheid” te kan representeer nie.

Laasgenoemde siening is in die huidige literêre debat op die spits gedryf deur ‘n hersiene belangstelling in en soeke na die betekenis en moontlikhede van die begrip MIMESIS.

Die post-Saussuriaanse debat aangaande representasie word verteenwoordig in die werk van Bullock (1979) en Derrida (1982). Spariouso (1984) plaas dit binne filosofiese en literêr-teoretiese grense, terwyl Nuttal (1983) en Tallis (1988a en b) dit kritiseer en die swak punte daarvan uitwys.

Bibliografie

Bullock, M. 1979. The enclosure of consciousness: theory of representation in literature. Modern language notes, 94.

Derrida, J. 1982. Sending: on representation. Social research, 49.

Nuttall, A.D. 1983. A New Mimesis: Shakespeare and Representations of Reality. London: Macmillan.

Spariouso, M. 1984. Mimesis in Contemporary Theory: An Interdisciplinary Approach, vol. I: The Literary and Philosophical Debate. Philadelphia: Benjamins.

Talks, R. 1988a. In Defence of Realism. London: Edward Arnold.

Tallis, R. 1988b. Not Saussure: A Critique of Post-Saussurean Literary Theory. London: Macmillan.

 
A.M. de Lange