POÈTES MAUDITS

Poètes maudits of gedoemde digters is ‘n term met ‘n wye betekenisveld. Die poètes maudits is nie ‘n bepaalde groep digters wat aan ‘n bepaalde tyd of styl gekoppel kan word nie. ‘n Poète maudit is ‘n bepaalde soort digter, nl. een wat op die een of ander manier deur die noodlot vervolg word deur bv. siekte, geestelike versteurdheid, verslawing, selfmoord, ens. Voorbeelde van poètes maudits is Paul Verlaine, Oscar Wilde, Dylan Thomas, Francois Villon, Willem Kloos, Gerrit Achterberg, Eugène Marais, D.J. Opperman en T.T. Cloete. Later is die term ook toegepas op digters wat politieke vervolging moes deurmaak, bv. Boris Pasternak en Breyten Breytenbach.

 

Die term poètes maudits is ontleen aan Paul Verlaine se bundel studies (1884) oor ‘n sestal gedoemde digters: Tristan Corbière, Arthur Rimbaud, Stéphane Mallarmé, Marceline Desbordes-Valmore, Villiers de l;Isle Adam en Paul Verlaine self. Dit het vir Verlaine daarom gegaan dat almal miskende en onbekende digters was. De Vigny het reeds vroeër in sy Stello gepraat van digters wat deur die gemeenskap misken en verwerp is. Later het Verlaine die betekenis van poètes maudits gewysig en uitgebrei sodat Baudelaire as ‘n gedoemde digter gegeld het omdat sy Les Fleurs du Mal nie byval gevind het nie.

 

Paul Rodenko het in 1957 ‘n bundel saamgestel met die titel Gedoemde dichters. Hierin het hy geskryf oor ‘n aantal Franse digters, o.a. Verlaine, Mallarmé, Baudelaire, Aloysius Bertrand, Jules Laforgue en Antonin Artaud. Rodenko het die term ook op die digkuns toegepas en gepraat van poètes maudits.

Anna-Marie Bisschoff