KASUÏSTIEK

Die kasuïstiek (Lat.: casus: saak, geleentheid) vorm ‘n onderdeel van veral die teologie. Die kasuïstiek hou hom besig met “de toepassing van de beginselen en algemene regels voor con­crete handelingen en situaties…, daarbij nadrukkelijk de mogelijkheid der toepasbaarheid, dus eventueel de daarmee noodzakelijk geworden afwijking van de algemene regel in het oog houdend,” aldus Grote Winkler Prins encyclopedie, deel 5. Die kasuïstiek help dus, deur sy analitiese benadering, om lig op ‘n saak te werp, veral as dit ‘n gekompliseerde aangeleentheid is. Die kasuïstiek hou hom veral besig met konkrete gewetensvrae.

Die ontstaan daarvan wortel in die mens se begeerte om ‘n beslissing te vel wanneer twee moraalwette wat op dieselfde saak betrekking het, met mekaar bots. Die kasuïstiese metode kom reeds by Sokrates voor. ‘n Mens tref dit ook in die Talmoed en die Koran aan. Dit het egter eers in die 12e eeu ‘n wetenskap in eie reg geword. Toe het ook die sg. summae morales verskyn. Dit is werke wat ‘n klomp gewetensvrae en hulle oplossings bevat het. Die eerste kasuïstiese werk dateer uit die 13e eeu, nl. Raymundus van Peñafort se Summa de casibus paenitentialibus. Die kasuïstiek beleef veral ‘n bloeityd na die Konsilie van Trente, veral by die Jesuïete. Bekende kasuïste uit die 16e en 17e eeu is Suarez, Sanches, Molina, Escobar, Bauny en Busebaum. Almal was Jesuïete. Hulle het baie kritiek ontvang omdat hulle, volgens Grote Nederlandse Larousse encyclopedie, deel 6, “een lakse moraal in die hand werken”. Hulle is veral deur Pascal geroskam in sy Provinciales.

Die kasuïstiek word vandag steeds beoefen, bv. deur Barth en Thielicke.
(Vgl. EINFACHE FORMEN.)

 
Anna-Marie Bisschoff