KOGNITIEWE LITERATUURSTUDIE

(Gepubliseer Oktober 2024)

Teoretiese oorsig

Die kognitiewe wending, of “cognitive turn” (vgl. Steen, 1994:3) in die literatuurstudie behels wat Simpson (2014: 40) beskryf as ‘n verandering van die voorafgaande oorwegend skrywergeoriënteerde (“writerly”) aandag aan die noukeurige linguistiese analise van die teks na ‘n benadering wat die lesergeoriënteerde (“readerly”) dimensie insluit. Hierdie ontwikkeling is dus nie soseer ‘n verskuiwing van aandag aan die teks as produk van die skrywer nie, maar ‘n uitbreiding in die rigting van ‘n meer omvattende studie van die literatuur wat die aandeel verantwoord wat die leser en die konteks het aan betekenisgewing.

Kognitiewe literatuurstudie1 is ‘n interdissipline waarin die literatuurstudie, linguistiek, psigologie en kunsmatige intelligensie (KI) mekaar ontmoet. Die kognitiewe benadering tot die literêre teks het in die 1990’s prominent geword weens toenemende belangstelling in lees as ‘n kreatiewe wisselwerking, of onderhandeling, tussen die skrywer, die teks, die leser en die konteks (in Jakobson, 1960, se kommunikasiemodel) waardeur ‘n tekswêreld tot stand kom. Hierdie ontwikkeling kan beskou word as die mees omvattende fase in die kontekstualisering van literatuurstudie soos deur Weber (1996: 1-8) beskryf as ‘n reeks geleidelik groter wordende konsentriese sirkels wat aandag aan die teks asook die leser, interpretasie en die sosio-historiese konteks insluit.

Hoewel kognitiewe literatuurstudie as ‘n kontemporêre ontwikkeling in literatuurstudie beskou kan word, het dit sy oorsprong veel verder terug. Freeman (2014:314) toon aan dat aandag aan die rol van kognisie in literatuurstudie teruggevoer kan word tot by Aristoteles en 18de-eeuse estetiese teorieë. Enkele voorbeelde van die deurlopende belangstelling in literêre begripsvorming in die meer onlangse verlede sluit in Leech (1977), wat daarop gewys het dat interpretasie van die teks deur psigologiese teorieë oor die effek van stilistiese kenmerke ondersteun moet word en Van Peer (1983 en 1986), wat die psigologiese aspek van vooropstelling empiries ondersoek het.

Die waarde van die kognitiewe studie van literatuur is dat dit noukeurige aandag aan die taal van die teks kombineer met sistematiese inagneming van die gedagteprosesse waardeur die denkbeeld(e) gevorm word wat by die lees van die teks ontstaan. ‘n Belangrike element wat ‘n rol speel hierby is die fisiologiese liggaamlikheid van die brein. “Cognitive poetics is Janus-faced, looking toward both the aesthetic text and the embodied mind” (Freeman, 2014:314). Die menslike brein en gedagteprosesse is betrokke by denkbeeldvorming. Terwyl die noukeurige en diepgaande analise van die taal van die teks op grond van paradigmatiese en sintagmatiese struktuur steeds van kernbelang geag word, word hierby gevoeg die sistematiese oorweging van die gedagteprosesse wat betrokke is by die waarneming en interpretasie van die taalmatige gegewens.

Kognitiewe literatuurstudie gee ook spesifiek aandag aan linguistiese kreatiwiteit en die interpretasie daarvan, aangesien kreatiwiteit aan die hart van literatuurbelewing lê. Dit het implikasies vir die leesproses self. In die kognitiewe studie van die literatuur word lees beskou as ‘n proses waartydens die teks deur die leser se kognitiewe prosesse verander word en die kognitiewe raamwerke wat die leser aanwend op hulle beurt verander word deur die teks. Soos Stockwell se inleiding tot kognitiewe literatuurstudie dit stel: “Cognitive poetics is all about reading literature” (2020:1).

Hierdie omvattende siening van die lees- en interpretasieproses in die literatuurstudie het gelei tot die gebruik van navorsingsmetodes uit die kognitiewe linguistiek en KI. Die analitiese metodologie van kognitiewe literatuurstudie vervang beslis nie die voorafgaande literatuur-teoretiese en linguistiese analitiese metodes nie, maar vul hulle aan en hersien hulle deur metodes wat die wisselwerking van die menslike verstand en die leesproses duidelik maak (vgl. Simpson, 2014:40).

Teoretiese rigtings en metodes in kognitiewe literatuurstudie

Die soeke na maniere om noukeurige taalstudie van die teks sowel as sistematiese inagneming van gedagteprosesse by die totstandkoming van denkbeelde teoreties te verantwoord, het onder andere tot die volgende teoretiese konsepte en insigte gelei:

Skemateorie

Kognitiewe literatuurstudie wend skemateorie (wat berus op ’n belangrike model in KI) aan om weer te gee hoe lesers op gestoorde kennis staatmaak en hoe konseptuele oordrag tussen verskillende versamelings gestoorde kennis plaasvind wanneer ons literêre tekste lees.

Geïdealiseerde (ideale) kognitiewe model (IKM)

Die uitgangspunt van kognitiewe literatuurstudie is dat beskrywingstegnieke in die linguistiese pragmatiek en diskoersanalise nog nie daarin kon slaag om te beskryf hoe lesers ‘n gedagtebeeld stoor wat dan geaktiveer kan word wanneer ‘n teks gelees word nie. ‘n Voorbeeld van so ‘n gedagtebeeld is die idee wat by ‘n mens opkom wanneer die woord woestyn gebruik word in die subtitel van Eugène Marais se gedig “Die dans van die reën”. Sommige lesers het eerstehandse kennis van die Kalahari in Suidelike Afrika, maar ander vorm hulle gedagtebeeld op grond van films oor die gebied, beskrywings in literêre werke, natuurwetenskaplike bronne, ‘n ensiklopedie of ‘n reisgids. Wanneer iemand dus die frase “uit die Groot Woestyn” lees in die subtitel van die gedig, kom daar ‘n sterk of minder sterk gedagtebeeld by hom of haar op van hoe die woestyn lyk, wat die eienskappe daarvan is en watter sensasies ‘n mens beleef wanneer jy in die woestyn is. Daar kan groot verskille wees tussen die gedagtebeelde. Die Kalahari se sandduine is een so ‘n gedagtebeeld. Die tipiese woestyn in ‘n Wilde Weste-fliek en geparodieer in strokies soos Lucky Luke het gewoonlik ‘n kenmerkende langarmkaktus as toneelskeppende item en daar kom dikwels ‘n ruiter te perd (die cowboy) aangery met stof wat onder sy perd se hoewe uitslaan.

Algemene kenmerke van die twee gedagtebeelde van die woestyn kan dinge insluit soos die aanwesigheid van uiters droë grond of sand, intense helder sonlig met uiterste hitte bedags en lae temperatuur snags weens uitstraling. Die algemene assosiasies met die konsep woestyn is onherbergsaamheid en verlatenheid. Hoewel daar verskille tussen individuele gedagtebeelde is weens mense se verskillende ervarings, word die leser se gedagtebeeld beskou as ‘n prototipe of geïdealiseerde kognitiewe model (IKM) (Simpson, 2014:41) wat voortdurend gewysig en opgedateer word deur die stimuli van nuwe ervarings – in hierdie geval van waarneming van die eienskappe van ‘n woestyn. Ervarings wat die prototipe kan wysig, sluit die lees van ‘n literêre teks in. Simpson (2014:41-42) beklemtoon dat IKM’s in literêre tekste dikwels deur geringe sintaktiese of leksikale merkers geaktiveer word. In die toepassing sal aangetoon word hoe ‘n bepaalde gedagtebeeld van ‘n woestyn aangepas word ná die lees van ”Die dans van die reën”.  

Skema

Simpson (2014:91-92) beskryf IKM’s as die elemente wat in kognitiewe literatuurstudie onder die sambreel van die skema saamgevat word. Die term skema (mv. skemata) is oorgeneem uit die psigologie (spesifiek die Gestaltpsigologie) en KI onder die invloed van Schank en Abelson (1977) se model van begripsvorming en geheue en later Schank (1982) se ontwikkeling van die komponente van die skrip (ook genoem scenario). Die skema is “‘n kognitiewe struktuur wat inligting bevat oor generiese entiteite, gebeure en situasies wat ons in staat stel om ons begrip van die wêreld te konstrueer” (my vertaling van Emmott, Alexander & Marszalek in Burke, 2014:268).

Die term raam word gebruik om te verwys na die konseptuele (of kennis-) strukture wat in lesers se geheue gestoor is en gekoppel is aan items in die woordeskat van die taal (Wales, 2011:172-3). Die raam of bloudruk is die algemene idee wat ’n mens het oor wat ’n sekere situasie of gebeurtenis behels, bv. ’n werkonderhoud, tandartsbesoek of ‘n familiebyeenkoms.

Volgens die skemateorie vind die leesproses plaas deur die aktivering van sekere generiese skemata. Die aktivering begin daarby dat die skrywer elemente van een of meer skemata in die teks voorsien. Hierdie elemente dien dan as leidrade wat aan die leser die kognitiewe ondersteuning bied om afleidings te maak, sodat die leser die relevante skema aktiveer. In die proses versoen die leser die gegewe skema-elemente in die teks met sy/haar eie kennis van daardie relevante skema en vul ook die gapings in wat ontbreek in die elemente van die skema. Die skrywer kan aanpassings van die leser se bestaande skemata gebruik om wat “spesiale effekte” genoem word te bereik: effekte soos ondermyning, eksploitasie, verandering of oortreding van skemata. Die drie prosesse wat deur Rumelhart en Norman (1978) beskryf is waardeur verandering van skemata plaasvind is byvoeging van nuwe inligting (accretion), verstelling van bestaande inligting (tuning) en herstrukturering deur nuwe skemata te skep deur die verdeling, kombinasie of radikale wysiging van bestaande skemata (restructuring).

Die konsep skema behels nie slegs statiese inligting oor wat ‘n sekere konsep (bv. ‘n woestyn) is nie, maar ook dinamiese, tydgeordende inligting. As ‘n voorbeeld van so ‘n skrip of lys van tipiese gebeure wat die ontvouing van gebeurtenisse in ‘n welbekende situasie beskryf, kan ons dink aan ‘n familiefees wat plaasvind wanneer een of ander hoogtepunt in die familie gevier of herdenk word, onder andere ‘n bruilof, ‘n mylpaal-verjaarsdag of die besoek van ‘n lank afwesige, geliefde familielid wat van ver af terugkom. Die familiefees kan beskou word as ‘n spesiale instansie van ‘n meer generiese gebeurtenis, ‘n kuier. Die komponente wat ‘n tipiese gebeurtenis of geleentheid soos ‘n langverwagte terugkoms (kuier) van ‘n geliefde familielid kenmerk, kan die volgende reeks handelinge insluit:

  • afwagting wanneer daar geluister word vir tekens van die aankoms van die familielid,
  • die werklike teken van sy of haar aankoms soos die hoor van ‘n klop aan die voordeur of die sien van ‘n kar wat in die straat stilhou met die familielid daarin,
  • ‘n reaksie van blye weersien soos die entoesiastiese verwelkoming,
  • die ontmoeting self, bv. omhelsing, oor-en-weer groet, uitvra en komplimente gee oor hoe goed die familielid daar uitsien,
  • sigbare betuiging van die familieband, bv. oorhandiging van geskenke, hou van toesprake,
  • die viering deur bv. ‘n feesmaaltyd te eet, ‘n heildronk te drink, tradisionele familie-aktiwiteite aan te rig, soos musiek te maak, te dans, speletjies te speel en deurentyd te kuier.

Die elemente van die familiefees ontvou die een na die ander met verloop van tyd gedurende die kuier en party kom meer kere voor, bv. wanneer die blydskap van die weersiens die betrokkenes te binne skiet en hulle dalk tydens die ete weer opmerk hoe volwasse die geliefde familielid geword sedert hulle mekaar laas gesien het of nog mooier is as ooit, en so aan.

So ‘n sekwensiële, tydgeordende lys bevat sekere tipiese gleuwe vir inligting (slots) waarin die rolle van die deelnemers pas, bv. pa, ma, broer en suster waarin rangorde onderskei kan word van oud tot jonk en groot tot klein. Daar is ook bybehore wat die toneel kenmerk (props) soos ‘n onthaalarea, ‘n spesiaal gedekte tafel, blomme oral in die huis of lokaal en op die tafel, die beste voorkeurgeregte, allerlei drinkgoed en geskenke van een of ander aard. (Vgl. Emmott, Alexander & Marszalek, 2014:268-283.)

Soos hierdie voorbeeld aantoon, maak die toepassing van skemateorie in literatuurstudie dit moontlik om soortgelyke tipiese patrone in literêre tekste te beskryf. Dit is ‘n belangrike motivering vir die gebruik van konsepte soos skemas en skrippe in kognitiewe literatuurstudie dat hulle ons in staat stel om ons lees van ’n teks te verantwoord met verwysing na algemeen-menslike beginsels van linguistiese en kognitiewe prosessering.

Tekswêreldteorie

‘n Belangrike konsep in die kognitiewe linguistiese teorie oor diskoersprosessering is die tekswêreld (Werth, 1995 en 1999; Gavins, 2007). Hierdie teorie vorm ‘n onontbeerlike deel van hedendaagse literatuurwetenskaplike toerusting.

Die tot standkoming van ‘n tekswêreld tydens die lees van ‘n literêre teks is ‘n kreatiewe wisselwerking tussen die skrywer, die leser, die teks en die konteks tydens betekenisvorming en -onderhandeling. Daardie tekswêreld word ‘n innerlike of gedagtewêreld by die leser en kan mense, plekke en gebeurtenisse insluit wat ooreenstem met of verskil van die leser se ervaring van die werklikheid. Afgesien van die tekswêreld wat in die leser se gedagtes gevorm word, het die karakters self ook hulle eie gedagtewêrelde. Die teorie beskryf die proses waardeur ‘n tekswêreld en subwêrelde gebou word en die spesifieke tekstuele elemente wat ‘n tekswêreld aktiveer (Wales, 2011:422).

Vir meer illustrasie van die teoretiese beginsels van tekswêreldskepping sien Semino (1997), Stockwell (2020:155-175) en Lahey (2014:284-296).

Konseptuele integrasie

Die term blending (versmelting) of konseptuele integrasie wat gebruik word in kognitiewe linguistiek (vgl. Fauconnier & Turner, 1996) verwys na die kognitiewe verwerking wat plaasvind wanneer nuwe betekenisse tot stand kom. Die verwerking behels die kognitiewe integrasie van betekenisse en aannames uit verskillende konseptuele velde. Leksikale samestellings soos rekenaarvirus en metaforiese uitdrukkings soos ‘n ysige stilte is voorbeelde van ‘n letterlike veld (of tenor) en ‘n figuurlike veld (of vehicle) wat versmelt:

Kognitiewe versmeltingLetterlike veld of tenorFiguurlike veld of vehicle
rekenaarvirusrekenaar (masjien / tegnologie)virus (medisyne / veeartsenykunde / vissery / plantkunde)
‘n ysige stiltestilte (klank: afwesigheid van die geluid van spraak, soos gehoor deur ‘n mens se ore)ysig(e) (temperatuur: laer as vriespunt; kan waargeneem word deur ‘n mens se vel en gemeet word in bv. ˚C)
Tabel: Kognitiewe versmelting

Die konseptuele integrasie wat gebeur by die versmelting van die letterlike en die figuurlike velde hierbo hou in dat die twee velde sommige van elkeen se eienskappe onderdruk en ander eienskappe by mekaar oorneem. In rekenaarvirus worddie feit onderdruk dat ‘n rekenaar ‘n masjien en nie ‘n lewende mens, dier of plant is wat deur ‘n virus geteister kan word nie, maar die feit dat ‘n rekenaar wel belemmer kan word deur repliserende programme wat data kan vernietig of sagteware op die rekenaar kan beskadig, soos wat ‘n virus vermenigvuldig in ‘n mens se liggaam en jou siek maak, word behou. Iets van die eienskappe van ‘n virus word dan versmelt met eienskappe van ‘n rekenaar. Die uiteinde hiervan is dat daar meer plaasvind as blote onderdrukking en oordrag, aangesien die totale term rekenaarvirus deel vorm van die mite wat lank reeds in wetenskapfiksie en die populêre gedagtegang bestaan dat intelligente masjiene meer is as net metaal en elektrisiteit. ‘n Soortgelyke redenasie kan gevoer word oor die versmelting van letterlike stilte deur die afwesigheid van klank of spraak, en ys wat die fisiese toestand van water by ‘n temperatuur van laer as 0˚C is. Ons verbind die twee met mekaar om een gedagtebeeld te vorm van ‘n toestand tussen mense waar die gesprek of verhouding tussen hulle sodanig skeefgeloop het dat daar geen woorde meer gesê word nie.

Hierdie voorbeelde bevestig Dancygier (2014:310) se uiteindelike karakterisering van blending as “a general thought process”.

Dancygier wend self ‘n kognitiewe metafoor aan om konseptuele integrasie of blending te beskryf as “die volgende skakel in ‘n ketting van raamwerke wat die studie van taal verbind met kognitiewe studie (bv. kognitiewe grammatika en konseptuele metafoorteorie)” (2014: 297 – my vertaling). Een so ‘n skakel is die interaksieteorie van metafoor wat beskryf is deur Reinhart (1976) en waarvan die globale werking in die teks deur Gräbe (1984) uiteengesit is.

Die insig dat literêre kommunikasie konseptuele integrasie behels, lei daartoe dat betekenis in die literêre teks beskou word as gekonstrueerde betekenis en nie as betekenis wat ontdek word nie. Daarom val die fokus op die leesproses eerder as op die produk van die leesproses. Die eintlike interpretasie self word oopgelaat, maar bly nie ongedefinieer nie. Wat wel die geval is, is dat daar variasie mag wees in die strategieë wat lesers toepas wanneer hulle sin maak van metaforiese taalgebruik in ‘n literêre werk of in die alledaagse taalgebruik. (Kyk ook Konseptuele metafoorteorie.)

Konseptuele integrasie in metaforiese taalgebruik word bespreek in Stockwell (2020:138-154). In 2006 is ‘n spesiale uitgawe van Language and Literature gewy aan konseptuele integrasie (Dancygier, 2006).

Vervolgens word relevante kognitiewe literatuurwetenskaplike beginsels in breë trekke gedemonstreer by die lees van die bekende Afrikaanse gedig “Die Dans van die Reën” met verwysing na drie voorgestelde insette tot die kognitiewe beeldvorming. Die doel van die oorsigtelike analise is om aan te toon dat hierdie beeldvorming berus op die taal van die teks wat die elemente van die voorgestelde insette betrek en aktiveer.

‘n (Oorsigtelike) kognitiewe analise van Eugène Marais se gedig “Die Dans van die Reën”2

Die Dans van die Reën

Lied van die vioolspeler Jan Konterdans,
uit die Groot Woestyn

O die dans van ons Suster!
Eers oor die bergtop loer sy skelm,
en haar oë3 is skaam;
en sy lag saggies.
En van ver af wink sy met die een hand; 5
haar armbande blink en haar krale skitter;
saggies roep sy.
Sy vertel die winde van die dans
en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd
en die bruilof groot. 10
Die grootwild jaag uit die vlakte,
hulle dam op die bulttop,
wyd rek hulle die neusgate
en hulle sluk die wind;
en hulle buk, om haar fyn spore op die sand te sien. 15

Die kleinvolk diep onder die grond hoor die sleep
van haar voete,
en hulle kruip nader en sing saggies:
“Ons Suster! Ons Suster! Jy het gekom!
Jy het gekom.” 20

En haar krale skud,
en haar koperringe blink in die wegraak van die son.
Op haar voorkop is die vuurpluim van die berggier;
Sy trap af van die hoogte;
sy sprei die vaal karos met altwee arms uit; 25
die asem van die wind raak weg.
O, die dans van ons Suster!

(Eugène N. Marais, 1984:1018-1019.)

Insette tot die kognitiewe beeldvorming in die gedig

Hoewel Marais hierdie gedig byna ‘n eeu gelede geskryf het is dit opvallend dat die taalgebruik nie verouderd is in vergelyking met eietydse Afrikaans nie. Leksikale keuses wat wel opval is werf (reël 9), wat in die dwaalstorie waarna hieronder verwys word, gebruik word om die leefarea van ‘n uitgebreide familiegroep te beskryf, kleinvolk (reël 16) met verwysing na swerms, kolonies of familiegroepe klein lewensvorme, berggier (reël 23) ook bekend as die Lammergeier (Gypaetus barbatus meridionalis) en karos (reël 25), ‘n leenwoord uit ‘n Khoi-taal vir ‘n gebreide vel waarvan die hare nog aan is, wat gebruik kan word as ‘n mantel, abbavel of kombers. Hierdie leksikale keuses werk saam met ander beskrywende uitdrukkings as beeldvormende rigtingwysers om die leefwêreld van die mense van die Kalahari te vestig as een van die insette wanneer die leser ‘n innerlike beeld vorm van die tekswêreld.

Veral drie fasette dra by tot die kognitiewe beeldvorming wat by die lees van hierdie gedig ‘n rol speel, naamlik:

  • die onmiddellike literêre konteks, nl. die dwaalstorie, “Die Lied van die Reën”,
  • die scenario ‘n reënbui/donderstorm in die woestyn en
  • die scenario ‘n familiefees.

Inset 1: Die Dwaalstorie “Die Dans van die Reën”

Krom Joggom Konterdans van Das-se-Kant is die vioolspeler en redder in die Dwaalstorie “Die Lied van die Reën” met subtitel ‘n Koranna-dwaalstorie (Marais, 1984:999-1003).

Die gedig onder bespreking is deur Marais uit hierdie dwaalstorie met klein verskille as onafhanklike teks gepubliseer onder die titel “Die Dans van die Reën” (Rousseau, 1984:1018). Hiermee word die interpretasie van die Groot Woestyn en sy mense deur die (vermeende) optekenaar en skrywer Marais betrek by die lees van die gedig.

Belangrike storie-elemente in die dwaalstorie “Die Lied van die Reën” is die volgende:

  • Die mense soek na water (want om te lewe in die woestyn is ‘n aanhoudende oorlewingstryd en toegang tot water is noodsaaklik).
  • Die reën bly weg (daar is droogte), sodat die water krities min word.
  • Die vyand belet die mense se toegang tot die beskikbare water.
  • Die mense soek ‘n redder om die vyand te oorwin sodat hulle weer water in die hande kan kry.
  • Iemand kom na vore om die mense te red, maar hy is nie opreg nie en sy moed begewe hom.
  • ‘n Redder (wat op die oog af nie juis na ‘n redder lyk nie) word gevind.
  • Die redder komponeer en sing die lied van die reën.
  • Die lied maak die vyand kragteloos.
  • Die koms van die reën bring uitkoms vir almal.

Die dwaalstorie bring ‘n uitgebreide tekswêreld vir die leser tot stand waarin die lewensbelangrike terugkeer van reën na droogte die storie se einddoel is. Die lied het hierin ‘n geskiedenis en ‘n aantoonbare uitwerking eerstens in die lewens van die familiegroep wat Das-se-Kant is, maar ook op die ander werwe en al die mense van die Groot Woestyn. Die dwaalstorie  vestig ‘n verwantskap tussen:

  1. die (op)regte lied,
  2. die noodsaaklikheid dat die (op)regte een die lied sing en
  3. die koms van die lewensreddende reën.

Hiermee voorsien die dwaalstorie inligting wat ‘n tekswêreld tot stand bring en wat bepaal hoe ‘n mens die gedig begryp. Elemente in die dwaalstorie wat hierdie verwantskap vestig sluit in:

  • beskrywings van die viool en die viool se musiek in terme wat met reën te make het,
  • die verwysing na die vioolspeler met die van Konterdans en die leefwêreld van die Groot Woestyn en
  • die terme klein, kort en krom waarmee Joggom Konterdans beskryf word.

Inset 2: ‘n Reënbui/donderstorm in die woestyn

Die gedig se subtitel betrek die algemene konsep of raam woestyn by die lees van die gedig. Op grond van die literêr-historiese konteks kan die subtitel geïnterpreteer word as ‘n verwysing na die Kalahari, ‘n woestyngebied in Suidelike Afrika, waar uiterste droogte heers en wanneer dit reën, daar lewegewende verlossing kom. Inset 1 spesifiseer hierdie konteks as die tekswêreld van die karakters in die verhaal waarin ‘n weergawe van die gedig die lied is wat Krom Joggom Konterdans speel op sy viool. Dit is die Groot Woestyn wat die kognitiewe ruimte is waarin ‘n reënbui/donderstorm in die woestyn nader gedefinieer word.Kousale elemente van hierdie scenario kan sommige van die onderstaande (of almal) insluit. Die skema-aktiverende leksikale items en uitdrukkings in die gedig word hieronder tussen hakies in skuinsdruk aangetoon:

  • Wolke pak saam; veraf weerlig kan gehoor of gesien word agter die berg (bergtop in reël 2-6).
  • Die wind waai soos die donderwolke nader beweeg(winde, reël 8).
  • Die eerste reën wat val, veroorsaak petrichor, die spesiale reuk van droë grond wat nat word, wat ‘n positiewe reaksie van opwinding by die grootwild veroorsaak (grootwild jaag uit die vlakte,/ hulle dam op die bulttop,/ wyd rek hulle die neusgate/ en hulle sluk die wind; en hulle buk, om […] spore op die sand te sien (reëls 11-15)).
  • Die kleinvolk, klein lewensvorms wat onder die grond voorkom word meer aktief voor die reën uitsak (Die kleinvolk onder die grond hoor […] en hulle kruip nader en sing saggies)(reëls 16-19).
  • Dit word donker omdat donderwolke voor die son inskuif (… die wegraak van die son,reël 22).
  • Daar is harde donderslae en sigbare weerligstrale wat die grond tref (reëls 21-23).
  • Die reën sak uit ([…] af van die hoogte […] sprei […] uit) (reëls 24-25).
  • Die wind word stil (die […] van die wind raak weg) (reël 26).

Inset 3: ‘n Familiefees

Die raam familiefees word by die leesproses betrek omdat die reën ons Suster genoem word en deur die term bruilof in “… want die werf is wyd / en die bruilof groot.” (reëls 9-10). Hierdie raam kan die volgende inligting insluit:

Die rol van suster het baie positiewe assosiasies, soos susterlike liefde, sorgsaamheid en lojaliteit. Die gedagtebeeld van ‘n geliefde ouer suster word geaktiveer in “Die Dans van die Reën”, te meer omdat daar in die lied wat in die dwaalstorie gesing word, die spesifieke benaming “ons Ousus” in plaas van “ons Suster” voorkom. Die verkorte vorm sus is ook ’n meer intieme aanspreekvorm as suster.

  • In die gedig word die skemaverwagting daargestel dat die suster wat afwesig was se terugkeer op hande is. Aangesien afwesigheid verlange en hartseer meebring, is daar groot blydskap oor die vooruitsig van hereniging. ‘n Familiefees soos hierdie het ‘n hoogs positiewe waarde vir die welsyn van die familie.
  • In die gedig ontvou daar ‘n temporeel-geordende kousale ketting, die familie-hereniging-skrip, waarin die twee pole, afwesigheid (verlies) en terugkeer (hereniging) ‘n belangrike rol speel:
  • Die verlangende familielede neem met vreugde kennis van die langverwagte aankoms van hulle Suster wat weg was (reël 1).
  • Die familielede verlustig hulle in elke besonderheid van haar pragtige voorkoms, wat haar aanvanklik skugter elegante en later oorvloedig vrygewige optrede insluit (reëls 2-24).
  • Alles in die omgewing, nielewend en lewend, getuig van hulle Suster se aanwesigheid en reageer uiters positief daarop (reëls 11-20).
  • Die familielede ontvang oorstelp van blydskap die gawe wat hulle Suster saamgebring het (reëls 23-27).

Kognitiewe integrasie van die drie insette by “Die Dans van die Reën” met klem op Inset 3

Die drie insette het een raakpunt, die probleem van die afwesigheid van ‘n onontbeerlike of lewensnoodsaaklike element: reën (Insette 1 en 2) en die nabyheid van ‘n geliefde suster (Inset 3).

Die integrasie van Inset 1 behels onder andere die volgende verstellings:

Ons identifiseer Krom Joggom Konterdans wat ‘n karakter is in die dwaalstorie as dieselfde fiksionele skepper wat genoem word in die subtitel van die gedig: “Lied van die vioolspeler Jan Konterdans, uit die Groot Woestyn”.4 ‘n verdere wysiging is die vervanging van die term Lied deur Dans in die titel, waardeur die belangrike plek van kommunikatiewe (in die gedig vertellende en verwelkomende) dans in die Khoi-kultuur in die gedigtitel beklemtoon word.

Die ongewone tweede naam (of van) Konterdans (‘n wisselvorm van die term kontradans)bevestig die vermoede dat die twee dieselfde fiksionele personasie is. In die dwaalstorie is Krom Joggem Konterdans die redder van sy mense en die mediator vir die koms van die reën. Sy van aktiveer assosiasies met feestelike sosiale dans. Sy bynaam in die dwaalstorie, krom, d.w.s. geboë en dus korter en kleiner as die ander, word weggelaat in die gedig. In plaas daarvan word hy in die gedig “die vioolspeler” genoem en kry hy ‘n tweede beskrywende frase “uit die Groot Woestyn” wat nie net ‘n deel van sy van is nie, maar ‘n karakterisering is van die lied self. Sy eienaam Joggom [ˈjoxom] of [ˈjoxəm] in die dwaalstorie boots iets van die taalklanke van Khoi in Afrikaans na, terwyl sy eienaam in die gedig verander is na ‘n algemene Afrikaanse naam Jan. Omdat dit ook die naam van die spreekwoordelike “Jan Alleman” is, aktiveer hierdie naam die insig dat die fiksionele digter daardie Alleman verteenwoordig wat ons ken uit fabels en Bunyan se Pilgrim’s Progress. Op grond hiervan kry die “Dans van die Reën” dan ook ‘n wyer netwerk van literêre en ewigheidsimplikasies.

Die integrasie van Inset 2, die reënskema, berus grotendeels op sintaktiese parallelisme wat die twee tekste konnekteer. Hoewel daar ‘n woord verskil tussen die titel van die gedig en dié van die lied uit die dwaalstorie, word albei gespesifiseer as “… van die Reën” (m.a.w. oor of behorende tot/by die Reën). Op grond hiervan hierdie ooreenkoms kom ons tot die volgende insig: die dans van die reën is die lied van die reën. Hierdie gelykstelling integreer terselfdertyd Inset 3, die familiefees-skema, want daar is ‘n intertekstuele vermenging van die lied wat gesing word vir ons Suster en die dans wat sy dans wat ‘n uitdrukking van blydskap en joligheid is oor ‘n hoogtepunt in die lewe van die familie.

Nog meer sintaktiese parallelisme kom voor wanneer die gedigtitel met wysigings herhaal word aan die begin en einde van die gedig (reëls 1 en 27). Die effek hiervan is betekenisgewend, aangesien die naamwoorde reën en Suster hierdeur gelykgestel word, want by die lees van die titel soos uiteengesit hierbo, word die reën as Suster verpersoonlik deur die volgehoue gebruik van vroulike voornaamwoordvorms, bv. “Eers oor die bergtop loer sy skelm / en haar oë is skaam; en sy lag saggies. / En van ver af wink sy met die een hand; / haar armbande blink en haar krale skitter; / saggies roep sy. / Sy vertel die winde van die dans / en sy nooi hulle uit, want die werf is wyd / en die bruilof groot.” (2-10). Hiermee word die werkwoorde, byvoeglike naamwoorde en bywoorde dubbelsinnig en van toepassing sowel op die metaforiese term suster as op die letterlike reën. Ons vorm ‘n beeld van die reënbui met eers veraf maar al nader komende rammeling, weerligblitse en windvlae in terme van ons suster se dans. Hierdie metaforiese taalgebruik kan ook beskou word as ‘n nuwe, kreatiewe instansie van ‘n kognitiewe metafoor WEERSOMSTANDIGHEDE IS MENSE wat in alledaagse taalgebruik voorkom, byvoorbeeld wanneer aan gevaarlike weerstelsels menslike name gegee word.

Wat die integrasie van Inset 3, die familieskema, verder betref, dui die ongewone spelling met ‘n hoofletter die volgende aan:

  1. dat Suster haar naam is, soos soms gebeur in families waar ‘n gesinslid Sus/Boet genoem word en die naam naderhand bly steek as eienaam, of
  2. dat die sprekers in die gedig so ‘n sterk band het met die persoon van en met wie hulle praat dat dit haar die status van ‘n suster gee al is hulle nie verwant aan haar nie.

Die genitiewe bepaler ons voor Suster dui aan dat sy “die Suster van ons” is, dus die suster wat aan en by ons behoort.Die frase ons Suster is ook ‘n bevestiging daarvan dat die perseptuele of deiktiese sentrum van die tekswêreld hierdie ons is. Ons dui verder daarop dat die sprekers almal in dieselfde verhouding tot Suster is en dat hulle almal in dieselfde verhouding tot mekaar staan.

Die voornaamwoord ons dui ook die aanwesigheid aan van ʼn woordvoerder, verteller of musikant (vioolmaker/ vioolspeler/ sanger). Dit is ‘n spreker wat namens al die personasies in die tekswêreld praat. Die spreker bly naamloos, maar op grond van die subtitel kan ons aanneem dat dit dieselfde Jan (of Krom Joggom) Konterdans van die Groot Woestyn is. Die gevolg van die kognitiewe samesmelting van gegewens in Insette 1, 2 en 3 lei daartoe dat hierdie spreker ook namens ons wat die lesers is en al die lesers van die verlede en die toekoms praat.5

Die gebruik van persoonlike voornaamwoordvorms het ‘n belangrike implikasie vir die betekenis van die frase ons Suster. Die verandering tussen derde- en tweedepersoonsvorms weerspieël ‘n verander in die emosionele afstand tussen die ons en die Suster betref. Die eerste spreker en almal wat ingesluit is by die ons van reël 1 kan haar nog net van ver af waarneem waar sy  “oor die bergtop loer” en kan dus net van haar praat. Dit sluit die grotes in (die grootwild, reël 11) wat nader jaag, saamdrom (hulle dam op die bulttop,reël 12) en ‘n (eerbiedige) afstand handhaaf. Daarenteen is die afstand tussen ons en jy in reëls 19 en 29 klein. Die kleinvolk sien haar van aangesig tot aangesig en hulle kan direk met haar praat. In die laaste strofe dui die derdepersoon- voornaamwoord weer op groter afstand tussen die spreker en die aangesprokene.

Ons skema van die familie ondergaan by die lees van die gedig ‘n herondersoek waardeur ons sommige van die bekende kennis bevestig, maar ook verstellings aanbring. Die term familie kan ook gebruik word vir ‘n groter groep, die uitgebreide familie in verskillende grade van nabyheid, soos in diagrammatiese geslagsregisters weergegee word oor vele geslagte. Op die ou end kan die term so wyd gebruik word dat dit iets soos ‘n stam (clan) en ‘n volk aandui. Om te behoort aan ons op grond van afkoms is ‘n belangrike psigologiese faktor in die lewe van mense wat verreikende fisiese, emosionele, geestelike en politieke implikasies kan hê.

Wat bygekom het in hierdie kognitiewe leesproses, is dat ons skema gewysig is omdat die gedig selfs die klein, ondergondse lewensvorms (die kleinvolk) ook deel maak van die stam of volk waaraan ons behoort. Ons almal het dieselfde Suster, die reën, waarvan ons voortbestaan afhanklik is. Daarom is ons almal broers en susters van mekaar.

Hoewel hierdie toepassing van kognitiewe literatuurwetenskaplike beginsels geensins uitputtend is nie, dui dit op die volgende winste van kognitiewe literatuurstudie:

  • identikasie van relevante ervaringsterreine waaroor dit gaan by die kognitiewe lees van die literêre teks;
  • die gevolglike uitwerking van die byvoeging van nuwe inligting, die verstelling van bestaande inligting en die herstrukturering van bestaande skemata;
  • die beskrywing van kognitiewe integrasie wat plaasvind by die lees van “Die Dans van die Reën”.

Die bewys hiervan is dat die konsep familie tydens die lees van “Die Dans van die Reën” uitgebrei word en veel wyer strek as letterlike verwantskap en die menslike ras alleen.

‘n Ander verstelling wat plaasvind is dat waar dans in die aanvanklike familiefees-skema net ‘n element van die fees is, word die dans in die gedig gelykgestel met die hele fees, waarop hier nie verder ingegaan word nie.

Uiteindelik behels ons kognitiewe studie van “Die Dans van die Reën” ‘n kreatiewe inkleding en hersiening van ons gedagtebeeld wat ‘n rol speel binne ten minste drie ervaringsterreine. Ons bestaande gedagtebeeld van ‘n ervaring soos wegbly (afwesigheid) wat geassosieer word met pyn en gevaar en wat lewensbedreigend kan wees en die teenpool daarvan, terugkoms (teenwoordigheid) wat geassosieer word met blydskap en heil en wat lewenskragtig is, word in die gedig daargestel deur die samesmelting van die familieskema, die woestynskema en die konteks van Marais se dwaalstories (en daarmee saam die eeue-oue literêre tradisie waarvan dit ‘n deel vorm). In hierdie proses word ons aanvanklike gedagtebeeld gewysig en vernuwe

Ina Biermann

Bibliografie

Burke, Michael, red. 2014. The Routledge Handbook of Stylistics. Londen: Routledge.

Dancygier, B., red. 2006. Special Issue on blending, Language and Literature 15(1).

Emmott, Catherine, Marc Alexander & Agnes Marszalek. 2014. Schema theory in stylistics. In Burke, M., red. 2014. The Routledge Handbook of Stylistics. Londen: Routledge, pp. 268-283.

Fauconnier, G. & Turner, M. 1996. Blending as a central process of grammar. In Goldberg, A.E., red. Conceptual Structure, Discourse, and Language. [Stanford: Stanford Center for the Study of Language and Information].

Freeman, Margaret H. 2014. Cognitive poetics. In Burke, M., red. The Routledge Handbook of Stylistics. Londen: Routledge, pp. 313-328.

Gavins, J. 2007. Text World Theory: An Introduction. Edinburgh: Edinburgh University Press.

Gräbe, Ina. 1984. Local and Global Aspects of Interaction Processes in Poetic Metaphor. Poetics,  13: 433-457.

Gräbe, Ina. 1985. Metaphor and Interpretation. Pretoria: University of South Africa.

Jakobson, R. 1960. Closing Statement: Linguistics and poetics. In Sebeok, T.A., red. Style in language. Cambridge, MA: M.I.T. Press, pp. 350–377.

Lahey, Ernestine. 2014. Stylistics and text world theory. In Burke, Michael, red. The Routledge Handbook of Stylistics. Londen: Routledge, 2014, pp. 313-328.

Leech, Geoffrey. “Literary criticism and linguistic description”. Dutch Quarterly Review of Anglo-American Letters, 7 (1):1-22, 1977.

Marais, Eugène N. 1984. Versamelde Werke, Deel 2. Rousseau, Leon, red. Pretoria: J.L. van Schaik.

Opperman, D.J. red. 1983. Groot Verseboek. 9de uitg. Kaapstad: Tafelberg.

Reinhart, Tanya. 1976. “On understanding poetic metaphor.” Poetics, 6(2):197-202.

Rumelhart, D.E. & Norman, D.A. 1978. Accretion, tuning and restructuring: Three modes of learning. In Cotton, J.W. & R. Klatzky, reds. Semantic factors in cognition. Mahwah, N.J.: Lawrence Erlbaum.

Schank, R.C. 1982 Dynamic memory: A theory of reminding and learning. Cambridge: Cambridge University Press.

Schank, R.C. & Abelson, R.P. 1977. Scripts, Plans, Goals and Understanding: An Inquiry into Human Knowledge Structures. Mahwah, N.J: Lawrence Erlbaum.

Semino, Elena. 1997. Language & World Creation in Poems & Other Texts. Londen: Longman.

Simpson, Paul. 2014. Stylistics: A Resource Book for Students, 2de uitg. Londen: Routledge (1ste uitg. 2004).

Steen, Gerard. 1994. Understanding Metaphor in Literature: An Empirical Approach. Londen: Longman.

Stockwell, Peter. 2020. Cognitive Poetics: An Introduction. 2de uitg. Londen: Routledge.

Van Peer, W. 1983. “Poetic style and reader response.” Journal of Literary Semantics, 12(2):3–18.

Van Peer, W. 1986. Stylistics and psychology: Investigations of foregrounding. Londen: Croom Helm.

Wales, Katie. 2011. A Dictionary of Stylistics. 3de uitg. Londen: Pearson, 2011.

Weber, Jean Jacques, red. 1996. The Stylistics Reader: From Roman Jakobson to the Present. Londen: Arnold.

Werth, Paul. 199. Text worlds: Representing conceptual space in discourse. Londen: Longman.

Werth, Paul. 1995. ‘World enough, and time’: Deictic space and the interpretation of prose. In Verdonk, Peter & Jean Jacques Weber. Twentieth-century fiction: From text to context. Londen: Routledge.

Raadpleeg ook:

Ardrey, Robert. 1969. “Introduction.” In Marais, Eugène N. The Soul of the Ape. Human & Rousseau, 1969.

Bex, Tony, Michael Burke & Peter Stockwell. 2000. Contextualized Stylistics. Amsterdam: Rodopi.

Gavins, Joanna & Gerard Steen. 2003. Cognitive poetics in practice. Londen: Routledge.

Lakoff, George & Mark Johnson. 2003 [1980]. Metaphors We Live By. Chicago: University of Chicago Press.

Lambrou, Marina & Peter Stockwell. 2007. Contemporary stylistics. Londen: Continuum,.

Stockwell, Peter & Sara Whiteley, reds. 2014. The Cambridge Handbook of Stylistics. Cambridge: Cambridge University Press..


  1. In hierdie lemma word die term literatuurstudie beskou as ‘n sinoniem van stilistiek en poetics. ↩︎
  2. ‘n Meer volledige kognitiewe analise van die gedig is in manuskripvorm beskikbaar van die outeur van hierdie lemma. ↩︎
  3. In Opperman (1983:29-30) word die ouer geskrewe vorm oge gebruik, wat nie noodwendig uitspraak reflekteer nie. ↩︎
  4. Die groter konteks van die Dwaalstories van Eugène Marais word nie hier behandel nie, maar is ’n essensiële deel van die algehele raamwerk waarin die gedig gelees word. ↩︎
  5. Stockwell se behandeling van deixis, wat hy beskryf as “central to the idea of the embodiment of perception” (2020:49) is hier relevant. Groot betekenisveranderings kan bewerkstellig word deur (onopsigtelike) veranderings, ook genoem deiktiese verskuiwings of deictic shifts (Stockwell 2020:49-60). ↩︎