(Gepubliseer September 2017)
In die algemeen word ‘n kerkhofgedig beskou as ’n tipe elegie wat deur middel van sterk natuurbeelde en doodsimboliek die universele verganklikheid van die mensdom op morbiede en filosofiese wyse in ’n begraafplaas bepeins. Kerkhofpoësie handel dus oor die kortstondigheid van die lewe en die naderende dood, maar dikwels ook oor die vertroosting van ’n Christelike hiernamaals. Aangesien die kerkhofgedig ’n soort elegie is wat onder funerêre poësie ressorteer, kan daar ook van ’n “begraafplaaselegie” of “kerkhofelegie” gepraat word.
Die kerkhofgedig en “gewone” elegie het heelparty kenmerke in gemeen, maar simplisties beskou, is die “gewone” elegie ’n gedig waarin ’n bepaalde gestorwene betreur word, en die kerkhofgedig ’n elegiese gedig wat die universele sterflikheid van die mens binne ’n begraafplaasmilieu oordink. Dit is egter nie altyd moontlik om hierdie rigiede onderskeid te tref nie.
Verder is “kerkhofpoësie” ’n relatief moderne literêre term wat dikwels met huiwering deur literêre kritici gebruik word om na ’n betreklik los konglomeraat van gedigte te verwys, want hierdie gedigte het plooibare parameters wat aanpas by verskillende tydperke en kulture. Boonop word kerkhofgedigte nog selde in sy konvensionele ‘suiwer’ vorm binne die kontemporêre literatuur aangetref. Hedendaagse digters gaan eerder herskeppend, ironiserend of selfs ondermynend om met die konvensies van kerkhofpoësie.
Tradisionele kerkhofgedigte word gekenmerk deur begraafplaasbeelde, soos sipresbome en mosbegroeide grafstene; doodsimboliek, byvoorbeeld rawe en uile; verwysings na die hiernamaals; (melo-)dramatiese taal en ’n melancholiese trant; natuurbeelde soos ’n huilende wind; ’n somber atmosfeer; ’n filosofiese mymering oor verganklikheid; ’n betreklik ‘los’ elegiese struktuur van weeklag, verkwaliking, doodsoorsaak en berusting; ’n begraafplaas tydens skemeraand of die nag; sentimentaliteit; en ’n didaktiese, moraliserende boodskap.
Moderner weergawes van kerkhofpoësie bepeins steeds die sterflikheid van die mensdom, maar bevat meestal nie ’n didakties moraliserende boodskap of Gotiese doodsimboliek soos die tradisionele vorm nie.
Die Engelse “graveyard poem” het ontstaan tydens die agtiende eeu en is beoefen deur sogenaamde “graveyard poets” of, soos hulle soms spottenderwys genoem is, die “Boneyard Boys”. Alhoewel hulle nooit ’n formele letterkundebeweging was nie, praat twintigste-eeuse literatuurhistorici dikwels van dié groep digters as die “Graveyard School of Poetry” (Reynolds 2014:86, Van Gorp 1991:168). As voorloper van die Gotiese roman en die literatuur van die Romantiek (1789–1830), bevat hierdie gedigte dikwels grieselrige elemente soos verwysings na skedels, beendere en maaiers. Soveel as wat die kerkhofgedig handel oor die (onsterflike) siel, gaan dit ook oor die liggaam, die ontbinding en verrotting daarvan, vandaar die opvallend visuele ingesteldheid en die gebruik van “Gothic props” (Van Leeuwen 2009:353).
Die bekendste voorbeelde van tradisionele “graveyard poetry” is Thomas Parnell se “Night-piece on death” (1721), Robert Blair se “The grave” (1743) en Thomas Gray se “Elegy written in a country churchyard” (1751). In ongeveer dieselfde tydperk waarin dié digvorm in Engeland sy oorsprong gehad het, het soortgelyke gedigte met ooreenstemmende Gotiese trekke in Nederland, Duitsland, Frankryk en verskeie ander lande ontstaan. In Duits word daar gepraat van “Gräberpoesie”, in Frans van “la poésie des tombeaux” (Van Tieghem 1921:87) en in Nederlands van “kerkhofpoëzie” (Van Gorp 1991:168).
Ondanks die feit dat die terme “grafdigter” en “kerkhofpoësie” nie dikwels in akademiese gesprekke oor die Afrikaanse poësie voorkom nie, is daar tog ’n paar Afrikaanse digters wat hierdie digvorm beoefen – dikwels op ’n vernuwende wyse, wat gelyktydig aansluit by en verskil van die tradisionele (Britse) kerkhofgedig. Voorbeelde hiervan is C. Louis Leipoldt se gedig “Op die kerkhof” uit sy Versamelde gedigte (1980), Totius se “Die wêreld is ons woning nie” uit Passieblomme (1934), T.T. Cloete se “Ballade van die kerkhof” uit Allotroop (1985) en Zandra Bezuidenhout se “Groet” uit Dansmusieke (2000).
So reg in die aard van kerkhofpoësie, bevind die spreker in Leipoldt se “Op die kerkhof” hom in ’n begraafplaas waar hy bewus raak van tyd wat verbygaan en van sy eie verganklikheid en “verwording” (strofe 2, reël 8). Hy spreek sy vrees vir die dood uit, vir die “duister kerkers” en die “noue graf” (strofe 2, reëls 9–10). Tog is daar vertroosting (consolatio) in die naginsekte se “lofsang” (strofe 1, reël 14) wat “die drumpel van die Paradys” in die slotreël in die vooruitsig stel. Hier is dus, soos by die konvensionele kerkhofgedig, die belofte van ’n Christelike hiernamaals.
In ooreenstemming met die tradisionele (Engelse) kerkhofgedig wat sterk visueel ingestel is en na natuurelemente verwys, bevat ook hierdie gedig (uniek Suid-Afrikaanse) natuurbeelde van aalwyn, aronskelke, doringboom, insekgeluide en sterre. Leipoldt gaan, soos dikwels in sy natuurgedigte, sintuiglik om met dié beelde, maar in teenstelling met die meeste van sy gedigte, is dit nie ’n ekstatiese opgaan in die natuurskoon nie. Veel eerder weerspieël die natuur die spreker se sterflikheid; die natuurskoon bied nie blywende troos nie, maar dra by tot die droefgeestigheid (Kannemeyer 1988:63-67). ’n Melancholiese atmosfeer word geskep deur die verwysings na maanlig en die kerkklok se geslaan – kenmerkend van die kerkhofgedig.
Daar is verskeie aspekte wat Totius se “Die wêreld is ons woning nie” binne die kader van kerkhofpoësie plaas. Die spreker bepeins die kortstondigheid van die lewe en die immerteenwoordigheid van die dood. Hy word omring deur verganklikheid. Alhoewel hy hom nie direk in ’n begraafplaas bevind nie, is daar tog ’n kerkhofverwysing deur middel van “lykstoet” (strofe 2, reël 9).
Die spreker sien en voel die dood in alles, selfs in die natuurbeelde, weereens tipies van die kerkhofgedig, want natuurbeelde weerspieël die broosheid van die menslike bestaan: die eensame reier wat “mistroostig” (strofe 1, reël 3) na die son kyk, die son se laaste strale, die fladdering van voëls, die gekraak van eikebome, en bowenal die dooie voëltjies wat uit die boom geval het.
Verder is daar verwysings na die maan wat die kerkdak “bestryk” (strofe 2, reël 4), die teenwoordigheid van ’n uil, asook verwysings na koue en mistroostigheid – kenmerkend van die kerkhofgedig. Belangriker nog is die morbiede atmosfeer en die uiters melancholiese, filosofiese en pessimistiese trant, veral te sien in die “inkanterende herhaling” (Kannemeyer 1988:60) van “die wêreld is ons woning nie”.
T.T. Cloete se “Ballade van die kerkhof” bepeins ook die verganklikheid van die mens binne ’n begraafplaas. Deur middel van die kontras tussen “donkies” en “mirage” (strofe 4) kom die hele lewensloop van jong neefs en niggies, tot “ou” neefs en niggies ter sprake. Aanvanklik kan die niggies en neefs die dood “kierang” (strofe 6, reël 2) met hulle jeug en seksualiteit, maar uiteindelik kan die dood nie meer gefop word nie, en is dit húlle wat deur die dood gekul word wanneer die “ou neefs en ou niggies” in die laaste twee reëls “vergeefs mekaar se vergeefse trane” afdroog. Die herhaling van “vergeefs(e)” is ’n toespeling op die Bybelboek Prediker se refrein van “alles tevergeefs en ’n gejaag na wind” wat die mymerende, melancholiese trant van die gedig versterk. Tog is daar, deur middel van die mirage wat met ’n engel vergelyk word (strofe 4–5), ’n suggestie van ’n hemelse ewigheid, weereens tipies van die kerkhofgedig.
Zandra Bezuidenhout se “Groet” het nogmaals ’n begraafplaas as milieu en sluit tematies aan by die ander gedigte in die derde afdeling (“bloeddans”) van haar Dansmusieke (2000) wat handel oor bloedverwantskap, familiebande, geboorte en dood. Op die oog af wil dit voorkom asof dit in hierdie gedig, soos by die ander elegieë in Dansmusieke (2000) – “In memoriam matris” (50) en “Herdenking” (51) – gaan om die afsterwe van ’n spesifieke persoon, naamlik die digterspreker se moeder. In die slotreël van “Groet” (53) kry die gedig egter ’n universele betekenis wanneer daar verwys word na die band wat “lewendes en dooies bind”. Verder is daar die noem van “grave paraphernalia” (Van Leeuwen 2009:353), van “sipres en skaduwee”, “grinterige grond” en “krans” (strofe 2).
Volgens Lessenich (2012:34) en Punter (2014:216) was daar ook heelwat digters, vernaam tydens die Romantiek (1789– 1830), wat die spot gedryf het met kerkhofgedigte en grafdigters. In Afrikaans is hierdie satiriserende inslag veral te sien in F.W. Reitz se “Klaas Geswind en syn perd” (Reitz in Brink 2000:1) waar die titelkarakter “hoenderkop” (strofe 4, reël 6) ’n begraafplaas te perd betree en sien hoe veertig spoke naak dans op die ritme van ’n “tromp” (strofe 10) wat die duiwel bespeel.
Met “Wespark” uit Die helder halfjaar (1956) dryf Elisabeth Eybers nie net die spot met die dood nie, maar parodieer sy ook die kerkhofgedig as genre. Met grimmige humor steek sy die draak met die konvensies van kerkhofpoësie: die begraafplaas word ’n “wit broederskap van been” (strofe 9, reël 2), ’n grafsteen word “’n versierde gewel/[…] met spreuk en kompliment kompleet” (strofe 2, reël 2–3) en grondhope word “elke kind [se] eie sandhoop” (strofe 4, reël 3). In Eybers se gedig is die graf nie ’n benouende of grieselrige plek nie, inteendeel, die graf bevry die mens van siekte, werklas, egbreuk, sorge, ouderdom, belasting en “uit tyd se net” (strofe 6, reël 4).
Bibliografie
Abrams, M.H. 1999. A glossary of literary terms. Boston: Heinle & Heinle. Boston.
Baker, J. 2014. Review: Graveyard poetry: Religion, aesthetics and the mid-eighteenthcentury poetic condition. The review of English studies, 66(273): 176–178. https:// doi.org/10.1093/res/hgu073
Brooks, C. 1999. The Gothic revival. Londen: Phaidon.
Byron, G. & D. Townshend (reds.). 2014. The Gothic world. Londen: Routledge.
Kannemeyer, J.C. 1988. Die Afrikaanse literatuur 1652–1987. Pretoria: Academia.
Lessenich, R. 2012. Neoclassical satire and the Romantic School 1780-1830. Bonn: Bonn University Press. https://doi.org/10.14220/9783847098263
Marais, R. 2008. Zo helpt poëzie: Die funksie van taal in die verwerking van die verlies van ’n kind. Tydskrif vir Nederlands en Afrikaans. II(2):88–115.
Nienaber-Luitingh, M. 1967. Digters en digsoorte. Johannesburg: Afrikaanse Pers-Boekhandel.
Parisot, E. 2013. Graveyard poetry: Religion, aesthetics and the mid-eighteenth century poetic condition. Surrey: Ashgate Publishing Limited.
Parisot, E. 2014. The work of feeling in James Hervey’s meditations among the tombs (1746). Parergon, 31(2):121–35. https://doi.org/10.1353/pgn.2014.0073
Punter, D. 2014. Gothic poetry, 1700–1900, in G. Byron & D. Townshend. (reds.), The Gothic world, pp. 210–220. Londen: Routledge.
Reynolds, N. 2014. Gothic and the architectural imagination, in G. Byron & D. Townshend, (reds.). The Gothic world, pp. 85–97. Londen: Routledge.
Spies, L. 2001. Die elegiese vers in Afrikaans: ’n Voorlopige verkenning. Stilet, XIII: 166–191.
Taljaard-Gilson, G. 2017. Meditasies in ’n begraafplaas: ’n Verkenning van Afrikaanse grafdigters en kerkhofpoësie. Literator, 38(1): 1–11.
Van Gorp, H. 1991. Lexicon van literaire termen. Groningen: Wolters-Noordhoff.
Van Leeuwen, E. 2009. Funeral sermons and graveyard poetry: The ecstasy of death and bodily resurrection. Journal for Eighteenth-Century Studies, 32(3):353–371. https://doi.org/10.1111/j.1754-0208.2009.00215.x
Van Tieghem, P. 1921. La poésie de la nuit et des tombeaux en Europe au XVIIIe siècle. Paris: F. Rieder.
Van Zyl, E.A. 1987. Die dodegedig in Afrikaans. Ongepubliseerde MA-verhandeling, Randse Afrikaanse Universiteit/Universiteit van Johannesburg.
Villa-Jiménez, R. 2014. The graveyard school: Religious melancholy in James Hervey’s meditations among the Tombs. International papers on English Studies, 1(2014):9–30.
Viljoen, L. 1995. ’n Retoriese analise van die vyf lykdigte in T.T. Cloete se Allotroop. Literator, 16(3):81–102. https://doi.org/10.4102/lit.v16i3.640
Witstein, S.F. 1969. Funeraire poëzie in de Nederlandse Renaissance. Assen: Van Gorcum & Comp.
Zeiger, M.F. 1997. Beyond consolation. Death, sexuality, and the changing shapes of elegy. Ithaca: Cornell University Press.