JAMBIESE POëSIE

(Gepubliseer Februarie 2020)

Die term iambos (Gr. iambos, Lat. iambus) word gebruik om die jambiese voet, die jambiese versmaat (opgebou uit ’n reeks jambiese voete) of ’n hele gedig in hierdie versmaat te beskryf. In die antieke Griekse en Latynse metriek het die jambe uit ’n kort en lang lettergreep (∪ –) bestaan; in moderne metriek bestaan dit uit ’n onbeklemtoonde en beklemtoonde vokaal of vokale (∨ ′: ta-DOEM ta-DOEM). Dit word dikwels met die omgekeerde versmaat, die trogeïese maat (– ∪  of ∨ ′: DOEM-ta DOEM-ta) afgewissel. Aristoteles (Poet. 1449a24) het die jambiese ritme beskou as die naaste aan normale spraakritme. Saam met die trogeïese metrum is dit die oorwegende maat van die dialooggedeeltes in die Griekse tragedies.

Hierdie digvorm het waarskynlik in rituele liedere ontstaan, en meer bepaald as magiese beswering of vloek. Dit sou verklaar hoekom hekel, berisping of smaad in hierdie digvorm so sterk figureer. Daar is ook die getuienis van die mitiese figuur Iambê, wat met die misteriekultus in Eleusis verbonde was en wie se rol dit was om mense se gemoedere gelukkig en gemaklik te maak. Dit het sy gedoen by wyse van onbehoorlike en obsene taal en handeling, as deel van die reiniging en voorbereiding van die ingewydes. Die digvorm het van mondelinge inkantasie tot literêre vorm ontwikkel en sekere elemente van sy oorsprong behou: geskel, kritiek, platvloerse taal, berisping, bespotting, ironisering, karikaturisering, ontmaskering en taboeverbreking. Die sosiale funksie van ontlading, beswering en psigiese heling word vandag grotendeels deur ander genres soos satire, komedie, spotprente, karnaval en sjariwarie (Eng. “charivari”) vervul.

Oorspronklik is jambiese poësie op ’n snaarinstrument, die sambukê of klepsiambos, begelei, maar dit het voor die literêre vormgewing daarvan reeds in spreekvers verander. Die voordrag van jambiese vers het veral by simposia geskied, maar daar was ook religieuse en kwasi-religieuse geleenthede. Die jambiese poësie het ’n groot verskeidenheid stemminge bestryk: hekel, bespotting, moralisering, aggressiewe aanval, skerk kritiek, kru taal, geskerts, tergery. Die temas was ook wydlopend: feesviering, vriendskap, erotiek, uitsprake oor die menslike lot, ouderdom en dood, kontemporêre persone, gebeure en politiek.

In die antieke Griekse poësie is die vernaamste digters wat jambiese poësie geskep het, Archilochos, Semonides, Solon, Hipponax en Kallimachos. In the Latynse poësie het Catullus en Horatius, asook die Christendigter Prudentius, die versvorm benut. Dit is ook die dominante versmaat van die Latynse sekulêre liedere en Christelike himnes in die Middeleeue en Renaissance. Die jambiese pentameter is die hoofmetrum van Shakespeare se dramas en sonnette en word in die meeste Europese poësie gevind.

(Vgl. METRUM, GENERATIEWE METRUM)

 

W.J. Henderson

 

Bibliografie

Bartol, K. 1992. Where was iambic poetry performed? Some evidence from the fourth century B.C. Classical Quarterly 42:65-71.

Bowie, E. 2001. Early Greek iambic poetry. In: Cavarzere, A., Aloni, A. & Barchiesi, A. (reds.). 2001. Iambic Ideas. Essays on a Poetic Tradition from Archaic Greece to the Late Roman Empire. Lanham, Boulder, New York & Oxford: Rowman & Littlefield, pp. 1-27.

Brown, C.G. 1997. Iambos: introduction. In: Gerber, D.E. (red.). 1997. A Companion to the Greek Lyric Poets. Leiden, New York & Köln: Brill. pp. 13-42.

Carey, C. 2009. Iambos. In: Budelmann, F. (red.). 2009. The Cambridge Companion to Greek Lyric. Cambridge: Cambridge University Press. pp. 149-67.

Gerber, D.E. 1999. Greek Iambic Poetry, from the Seventh to the Fifth Centuries BC. Cambridge, Mass. & London: Harvard University Press.

Henderson, W.J. 2011. Die berispende stem. Vroeë Griekse jambiese poësie. Johannesburg: Universiteit van Johannesburg.

Nagy, G. 1976. Iambos: typologies of invective and praise. Arethusa 9:191-205.

Richardson, N.J. 2003b. Iambe. In: Hornblower, S. & Spawforth, A. (reds.). The Oxford Classical Dictionary. 3de uitgawe. Oxford: Clarendon Press. p. 741.

West, M.L. 2003. Iambus. In: Hornblower, S. & Spawforth, A. (reds.). The Oxford Classical Dictionary. 3de uitgawe. Oxford: Clarendon Press. pp. 741-2.