MODEL

(Italiaans modello, “voorbeeld”, Latyn modulus, verkleinwoord van modus, “maat, maatstaf, voorskrif, reël”.) 1. ʼn Persoon of voorwerp wat vir ‘n kunstenaar of fotograaf poseer of as voorbeeld dien, of ʼn persoon op wie ʼn skrywer ʼn karakter gebaseer het. Model beteken dus ‘n voorwerp van nabootsing, ‘n leidende voorbeeld, ‘n voorgeskrewe, vaste vorm wat ‘n mens naboots.  ʼn Bewonderde persoon kan dien as ʼn templaat vir ander mense om na te boots of hulle gedrag op te baseer; kortom, as ‘n rolmodel. ʼn Model wat ʼn nuwe uitrusting vertoon, is ook so ʼn templaat vir hoe die uitrusting behoort te lyk of wat as modieus beskou word.

2. In die eietydse literatuurstudie word die term dikwels gebruik in verband met norme en konvensies. Modelle is die verwerklikings of konkretiserings van spesifieke norme en konvensies wat as rigtinggewende voorbeelde vir hulle navolgers dien. Virgil se Aeneïs het byvoorbeeld as die model vir die latere epos gedien, en Richardson se Clarissa is die model wat skrywers van briefromans in die agtiende eeu nagevolg het. Een vir Azazel is gebaseer op die model van ʼn speurverhaal. Kyk ook epigonenliteratuur,imitatio, polysysteem(theorie).

3. In die wetenskapsteorie is ʼn model ʼn voorstelling, dikwels vereenvoudig, wat help om ʼn voorwerp, verskynsel of proses verstaanbaar te maak, soos modelle van die atoom, die sonnestelsel. Wiskundige of konseptuele modelle val daaronder. ʼn Skaalmodel is ʼn kleiner voorstelling van ʼn eindproduk soos ʼn kar, ʼn gebou, ʼn hawe of ʼn vliegtuig waarop bv. windtonneltoetse gedoen kan word. Kyk Downes (2020) vir ‘n inleiding tot modelle in die wetenskap.

Bibliografie