(Lat. nabootsing). 1. In die antieke retorika: ʼn basiese beginsel in die onderrig van toekomstige redenaars. Dit was gebaseer op die nabootsing van styl, woordeskat, eienskappe en situasies spesifiek vir openbare redevoering. Toesprake van groot redenaars soos Demosthenes en later Cicero het lank as ‘n bron vir nabootsing of aanpassing gedien.
2. In die letterkunde: die kreatiewe nabootsing van literêre voorbeelde, bv. in styl, woordeskat, metrum, ens. Gedurende die Hellenistiese tydperk is dit as die basis van alle literêre aktiwiteit beskou. So het die Griekse letterkunde tot in die tyd van Augustus deurlopend as model vir die Latynse letterkunde gedien. Later het Latynse meesterwerke ook die onderwerp van nabootsing geword. Geleidelik het die idee van aemulatio (Lat. wedywering) sterker na vore gekom: die skrywer het as ‘t ware aan ‘n literêre kompetisie met sy model deelgeneem om hom te ewenaar en, indien moontlik, te oortref (bv. Vergilius vir Homerus). Daarnaas het ʼn outeur ook die opsie van interpretatio gehad, d.w.s. die nieletterlike vertaling (parafrase) van ‘n werk. Die bewuste nabootsing van Griekse en Latynse meesterwerke het die literatuur bly oorheers tot die Klassisisme. Hooft het byvoorbeeld vir Tacitus nageboots in sy Netherlandsche Histooriën (1647) en Plautus se Aulularia in sy Warenar (1616).
Onder die invloed van die Romantiek is imitatio as norm vervang deur oorspronklikheid. Hierdie Romantiese opvatting van die outonome skeppende outeur oorheers vandag nog, al verskyn imitatio steeds in talle literêre metatekste (kyk metateks, metatekstualiteit), veral in die Postmodernisme. Kyk ook estetika van identiteit, mimesis.
Bibliografie
Fiske, G.C. 1971. Lucilius and Horace: A Study in the Classical Theory of Imitation. New York: Arno Press, 1971.
Greene, T.M. 1982. The light in Troy: imitation and discovery in Renaissance poetry. New Haven en Londen: Yale University Press.
Jost, F. red. 1966. Imitation. In Proceedings of the International Comparative Literature Association, pp. 695–936.
Meihuizen, Nick. 2006. The Poetics of Imitatio in Camoes. South African Journal of Medieval and Renaissance Studies 16 (January): 37–59.
Warners, J.D.P. 1956-1957. Translatio-imitatio-aemulatio 1-3 in De nieuwe taalgids, 1956, pp. 289-295 en 1957, pp. 82-88.